Liza Welsh

Getuienis

Geliefde

Die Israelite het 40 jaar geneem om ‘n 7 dag reis mee te maak, hulle het sirkels om die selfde berg geloop, soos ek nou hier skryf kyk ek terug sien ek hoeveel berge ek so ‘n paar duisend keer omsingel het, ek sien ook elke keer die beloofde land waar die Here my laat ingaan het en hoe ek dan maar weer by die volgende berg vasgehaak het.

Van kleins af is ek met God en sy krag en ware geloof gekonfronteer, my ouers was sendelinge en die Here het ons deur swaar tye gedra en saam met ons gelag in die goeie tye. Daar was aanvalle van die bose en daar was argumente, maar een ding het my altyd by gebly, nooit het my God my verlaat nie, al het ek weg gedwaal.

Vandag is ek meer oortuig as ooit tevore dat ek voor die dood van my jongste broer net na paasfees van 2009 net van God geweet het, nou kan ek slegs deur Sy genade met vrymoedigheid sê dat ek ‘n intieme verhouding met my God het. Ek ken hom soos ek my lewensmaat ken, soos ek my kinders en my ouers ken, en sonder skroom kan ek sê dat ek vir Hom lief is, meer as wat ek vir enige iemand anders is. Ek hoor Sy stem soos ek joune sou hoor as jy my sou bel of kom sien. Ek en my God het spesiale tye, kosbare alleen tye, Hy los my nooit alleen nie.

Vroeg in Desember 2008 het ek gedink dat ek weet wat ware geluk is, maar my geluk het nie die wil van die Here ingesluit nie, Hy was ‘n aparte kompartement in my lewe. Teen middel Desember het my lewe inmekaar gestort en stadig maar seker het my verhouding met my lewens maat ontrafel, emosioneel het ek afgemat geraak. Hier binne in my was daar ‘n wond wat besig was om te sweer. Met my hele hart het ek geglo dat ek nie mag kwaad word nie, dat om woede te voel sonde was en so het ek elke teken van woede onderdruk, saam met dit was daar ‘n goeie dosis skuld gevoel en self verwyt, hierdie wond het ‘n sweer geword wat my hele mens wees vergiftig het. My denke was negatief, my hart swaar hier in my bors, my gees was dood en leeg en gif het van my tong af gedrup.  Van liefde was daar maar min by my te sien.

Die eind resultaat was dat my lewensmaat my teen einde Maart, vroeë April hierdie jaar verlaat het. Hy het my Erfstukkie (sy seun uit ‘n vorige huwelik) saamgeneem en ons seuntjie het by my agter gebly. In daardie twee weke het die Here ongelooflik reguit met my gepraat, ek het simpel dinge aangevang en oral behalwe by my God gaan hulp soek. Dit was prokureurs en ou kennisse, alles behalwe my God… ek wou nie hoor wat Hy vir my te sê gehad het nie!

Ek wou selfs Kaap toe, het gehoop dat ek van alles kan weghardloop, kan oor begin… dankie tog vir my vriendin wat God as maatstok en as Geestelike Vader oor my aangestel het. Daar is sekere waarhede wat sy met my gedeel het, waarhede wat ek mettertyd ook met julle wil deel soos die Here my lei. Sy was die sleutel wat die deur na my God vir my oopgesluit het, en deur my blog hoop ek dat God my ook as sleutel in jou lewe te kan gebruik.

Prediker 9:16 sê: “Wysheid is wel beter as krag, maar die wysheid van die arme word geminag, en niemand luister na wat hy sê nie.”

Daarom glo ek dat in drie kort maande het die Here die puinhoop van my lewe gevat en dit weer opgerig. Hy het die leisels oorgeneem en ek het alles aan hom oorgegee. Ek en my lewensmaat het weer dinge uitgesorteer. Ons is na 8 jaar van saambly uiteindelik getroud.  Ons kinders blom, ons leef nie in weelde nie, maar elke dag soos die voëltjies van die veld uit God se hand. Elke dag gee Hy vir ons, ons kos vir daardie dag, en om die regte tyd elke maand gee Hy vir ons, ons huur geld en ons water en ligte geld en selfs ‘n geldjie vir ‘n luxury of twee.

Vêrder is ons ook geseën met ‘n nuwe baba, ek het 10 dae na my broer se dood swanger geraak en my verwagte datum is middel January, my broer se verjaardag is die 13de Januarie. Ek glo dat die Here dit aan my geopenbaar het dat dit ‘n dogtertjie is, haar naam sal Miachlan Izàn (vernoem na my broer) Welsh wees. Miachlan beteken healing water,  Izàn beteken Gift from God en ek glo dat dit beide boekdele spreek van hierdie mensie se doel op die aarde, die skeppings doel wat God lank voor die grondlegging van die aarde vir haar uitgemeet het. Miachlan is op 7 Januarie 2010 gebore terwyl die Here Sy seën met stort reën en donder flitse bevestig het.

Ek deel dit alles met jou, Geliefde omdat ek wil hê dat j moet sien dat die Here in drie maande my stukkende familie weer heel kom maak het, uit die tragedie van my broer se dood het Hy nuwe lewe laat voort kom. Hy het weer die liefdes vuur aangesteek, waar dit heeltemal geblus was.

Die Boom van Die Lewe soos Jesus in Openbaring beskryf word, het my met Sy blare hande opgetel tot hoog in Sy takke waar ek nog dies storms van die lewe voel en hulle nog steeds moet trotseer, maar waar ek veilig is. Hy het met Sy Lewende Water my wonde skoon gemaak, hulle ontsmet en hulle verbind. Hy het my gesond gemaak, heel gemaak en sag kuns in my oor gefluister wie Hy my gemaak het om te wees. Hy het my skeppings doel met my gedeel, my op my naam geroep en mooi beloftes in my ore gefluister.

Hy wag vir jou, Hy is lief vir jou, Hy het soveel wat Hy met jou wil deel. Gaan soek hom op, gaan vra dat Hy die leisels oorneem sodat jy in totale afhanklikheid die pad saam met Hom kan stap.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: