Liza Welsh

Maskers af!

In Ontmaskering on Junie 9, 2011 at 12:44

Gister was ek so vuur en vlam oor hierdie ontmaskering, veral oor die waarde daarvan. Maar vandag, nou dat ek oog tot oog met hierdie geestelike reus staan, begewe my moed my.

Jy sien, ek moes begin verstaan waarom ons maskers dra, waarom voel ons dat dit nodig is om onsself vir die wêreld om ons en vir God weg te steek. Soos Vader my deur Sy Woord neem, moet ek eerlik wees met jou, ek het nie van die antwoorde gehou nie. Maar dit maak dit nie nimmer meer of minder die waarheid nie.

Die Vyeblaar Sindroom
Kom ons begin by God en die Vyeblaar Sindroom. Soos Adam en Evan draai ons onsself toe met lae vye blare voor ons voor ons Heer verskyn. Die rede vir hierdie vyeblaar gewaad is ons eie bewustheid van ons sonde, ons tekortkominge en ons oortredings. Tog wanneer ‘n mens tot die besef kom dat dit wat ons so skaam voor ons God maak deur die bloed van Jesus en deur Sy geregtigheid nie net bedek word nie, maar heeltemal verwyder word, dan is dit nie so moeilik om eerlik, in ware intimiteit met God te verkeer nie.

Soos ek hier skryf besef ek dat my probleem, hierdie reus wie se kop afgekap moet word, niks met my verhouding met God te doen het nie, maar eerder my verhouding met mense. Die reus wat vandag hier voor my staan is my vrees vir mense. Soos Jona wil ek eerder in die ander rigting hardloop, en soos ek nou voel sal ek ook eerder wil uitstel hê vir vandag se fight… al beteken daardie uitstel drie dae in die maag van ‘n groot vis.

Tog maak die Bybel dit duidelik, en die vers ontgaan my nou, maar dit sê tog dat jy nie God en mense kan vrees nie. As jy God dien, mag jy mense nie vrees nie. Die gevaar lê daarin dat jou vrees vir mense, jou diens aan God sal verhinder. Jou vrees van mense kan jou verblind, soos dit met my gemaak het.

Die gewaad van die Skrifgeleerde
In Lukas 20:45-47 is dit duidelik dat die skrifgeleerdes geglo het daaraan om die blink kan bo te hou. En oral deur die Nuwe Testament lees ons daarvan dat hulle baie erg was daaroor dat die Wet tot op die letter gehou moes word.

Ons lees ook van Jesus se veroordeling van hierdie siening. Ons verstaan dat die Wet nie vir ons ware en blywende redding of verlossing kan bewerkstellig nie. Tot nou toe het ek gedink dat dit die enigste rede is waarom Jesus hierdie lewenstyl veroordeel het.

Maar Johannes 9, soos verduidelik deur Roland Gaspar het begin om iets anders in my wakker te maak. En vanoggend verstaan ek die volle, oorweldigende impak van hierdie wettiese lewenstyl.

Ons het almal so groot geword, dis iets wat van die Bybel se tyd in ons mens wees ingeprent is. Ons klou almal vas aan die gedeelte in Levitikus waar daar verduidelik word dat siekte afkomstig is van sonde.

Daarom kyk ons neer op gebrokenheid, omdat dit afkomstig is van die afvalligheid van die wet. Ons neem aan dat alle gebrokenheid die selfde oorsaak het, naamlik wetteloosheid.

Dit gebeur ook gereeld dat ons verby Jesus se antwoord in Johannes 9 lees. Die dissipels wat steeds onder die dink wyse van die skrifgeleerdes en die populêre kultuur gestaan het, het gevra wie se skuld dit was dat die man wat hulle teëgekom het, blind gebore was. En dan kom Jesus se kosbare woorde: “Hy het nie gesondig nie, sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.”

Die impak van hierdie woorde kom gooi 28 jaar van dink en wees op sy kop hier binne my. Ons word almal groot met die siening dat daar iets fout is met jou as jy gebroke is. Dit moet jou skuld of jou ouers se skuld of IEMAND se skuld wees dat jy nie heel is nie.

Dit oorweldig my as ek dink aan al die besluite wat ek geneem het, net sodat ek my eie gebrokenheid kan wegsteek, want kinders van die Here is nie veronderstel om gebroke te wees nie. Ek wil uit moedeloosheid en ongeloof vir myself lag, vir elke keer wat ek nie die guts het om op my facebook profile te deel dat ek moeg, of kwaad of hartseer is nie.

Hoe absurd is hierdie leun nie… en hoeveel skade kon ek nie aangerig het deur hierdie siening met ander gebroke mense te deel nie… hoeveel pyn en wan persepsies het ek nie al by my kinders geskep nie en hoeveel leuens het ek nie al in my kinders se gees ingebou nie?

Sien…dit sluit aan by wat ek gister besef het. Ek wou ook vir my gesin die skrifgeleerde se gewaad aangetrek het. Hulle moes perfekte voorbeelde van vleklose mense wees, wat in ‘n vertoonkas sit, sodat mense kan sien wat se diep verhouding ek met God het. Ek het myself en ons gesin se verpakking so sorgvuldig ontwerp en aanmekaar gesit sodat ons ‘n sekere beeld kan uitdra. En laat een haartjie uit plek wees en een dankie waar hy nie hoort nie… dan is my moed in my skoene.

Pappa was my genadig genoeg om nie my gebede (van 8 jaar lank) vir ‘n heel gesin te beantwoord nie…. Ek sê genadig genoeg, want anders sou ek nie kon verstaan dat heel wees nie ‘n vereiste vir die koninkryk is nie. Ek sou ook nie kon besef dat ek PR kan speel vir God en Sy Woord en Wil nie….

Die Jona Siekte
Ek het vroeër ook van Jona gepraat. En nou verstaan jy dalk waarom. Nie net was Jona dalk ongemaklik met sy opdrag nie, hy het ook neergekyk op die gebrokenheid van die mense van Nineve en daarom was hy kwaad toe God aan hulle genade bewys het.  Geen berader kan bekostig om na ‘n bevryding en berading sessie, waarin God se werke geopenbaar is nie, kwaad te wees oor die genade wat op daardie tydstip aan die bevryde bewys is nie.

Maar waar los hierdie besef, hierdie openbarings kennis my? Ons moet besef dat hierdie openbaring die swaard in ons hand is… die swaard waarmee enige een die kop enige een van sy probleme kan afkap… dis die swaard van bekentenis en belydenis!!! En daar is net een manier om hierdie reus se kop af te kap:

Ek is Liza Welsh, al is ek ontsettend lief vir die Here, en al is ek met Sy Heilige Gees vervul, is ek steeds gebroke.

Ek vrees verwerping;

  • daarom vereis ek absolute gehoorsaamheid van my kinders.
  • daarom poog ek elke dag om in elke liewe behoefte van my gesin te voorsien.
  • wanneer hierdie voorsiening nie ‘n permanente glimlag op hulle gesigte vas stryk nie, voel ek weer verwerp, en dan probeer ek met mooi praatjies en slim praatjies om self die glimlag daar vas te “superglue”.
  • daarom sal ek meer as my deel vir jou doen… net sodat jy van my sal hou.

Ek het ‘n brandende passie vir mense. Maar telkens word ek oor bewus van die impak wat my gemoedstoestand op ander het, en daarom plak ek vir myself ‘n “happy mask” of partykeer ‘n “clown mask” op.

Kan jy sien, hoe van buite af my lewe en ons lewens as gesin mooi lyk. My kinders is gehoorsaam, my man en kinders is goed versorg, en die meeste van die tyd gelukkig en tevrede. Ek het uitstekende werk etiek en beur ander mense telkemaal op…. maar die probleem is die motivering, en dit is die motivering wat die wonde hier diep binne my laat vrot word het.

Verterende Vuur
Nou dat die masker af is…. Verwag ek nie dat jy my met handskoene sal hanteer nie, nee die Heilige Gees het net die harde roof afgekrap dat God die wond kan genees.

Nou dat die masker af is, kan ek hopelik my kinders gehoorsaamheid leer, nie omdat dit vir my belangrik is nie, maar omdat dit vir God belangrik is.

Nou dat die masker in die vuur is, kan ek die vrou van Spreuke 31 wees, nie om die lof van my gesin of van mense te ontvang nie, maar eerder omdat dit deel van my Skeppings doel en roeping is.

Nou dat die enigste oorblyfsel van my masker as is, sal ek steeds die ekstra myl saam met jou loop, maar nie sodat jy van my sal hou nie, maar sodat God daardeur geëer kan word.

Soos ek vroeër gesê het, dankie vir God se genade wat ons foute, en ons keuses bedek. Dankie Heer vir U genade wat ons toe laat om  foute reg te maak.

Soos ek vrede maak met my gebrokenheid, so kan die Heilige Gees die rowe afhaal, sodat Pappa genesing daarin kan saai. So kan ek ook dan met ‘n nuwe bril, ‘n nuwe perspektief na gebrokenheid kyk.

Hopelik kan ons almal begin verstaan dat ongeag van die oorsaak van gebrokenheid, bly dit elke keer ‘n geleentheid vir God se werke om geopenbaar te word, nie ‘n geleentheid vir ons om vuur rooi van skaamte voor ons medemens en voor God te staan nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: