Liza Welsh

Posts Tagged ‘voorbidding’

My antwoord op die gebed van ‘n kind…

In Gebede,Koffietyd on November 17, 2009 at 09:29

Die sand korreltjies in die uurglas gemerk as 2009 is besig om baie vinnig uit te loop en oral is almal besig om gou-gou net ‘n inventaris van die jaar te neem voor hulle te verstrengel raak in Kersfees liggies en blink tinsel stringetjies.

Soos ek ook maar onwillekeurig inventaris van ‘n wasmasjien jaar waardeur my gesin en my familie is. Die onbeskryflike vrede wat God my hart mee toevou kom dan loodreg teenoor onafgehandelde besigheid staan. Die opgewondenheid en afwagting van ‘n nuwe lewe kom staan loodreg teenoor die pyn en die nood wat oral rondom my heers. My eie genesing kom staan ook loodreg teenoor die wonde van die vir wie ek so innig lief is.

En tussen dit alles deur wil ek amper soos Johannes opstandig raak omdat die rondom my soveel meer lei as ek. Johannes het opstandig geraak oor die feit dat hy nie die geleentheid gegun was om soos die ander dissipels vir sy geloof te kon sterf nie. Nee, ek wil nie sterf nie, ek weet dat my werkie hier op aarde is nog nie klaar nie, maar ek wens so gereeld dat ek die jeuk van die mensies om my namens hulle kan dra. Soms wens ek dat daar ‘n vitamien B kompleks inspuiting vir die hart se seerste eina kan wees en dat ek namens ander deur hulle pyn kan werk sodat hulle wonde kan genees.

Dis terwyl ek so voel, dat ek selfs nog hier in my gees nog meer opstandig word wanneer ek versoeke uitstuur en geleenthede wat deur ons Pappa self geskep word onder die aandag van God se geliefdes te bring – soos my Vader my beveel en nie eens een persoon die moeite kan doen om hulle oë en hulle aandag vir ‘n oomblik van hulle eie lewe en eie behoeftes af te haal en so na ‘n ander uit te reik nie.

Die Here raak al hoe meer dringend in Sy oproep aangaande ons kinders en die wees kinders wat so aan hulle eie genade oorgelaat word. Vader se hart is regtig seer oor die gebrek aan die Bruid se bereidheid om uit te reik en hierdie kinders se harte met hulle God se hart te versoen. Elkeen van ons hou ‘n bos sleutels vas, wat die deur vir soveel kinders kan oopsluit, tog is ons so besig met ander goed dat ons nie uitkom by dit wat Vader regtig in hierdie tyd van ons vra nie.

Matteus 18 vers 1-5 is tog so duidelik oor die belangrikheid van kinders in die koninkryk van God. En daar is niks meer kosbaar as die manier waarop ‘n kind sy God vertrou nie. Self het ek die voorreg om daagliks te sien hoe my twee wille perdjies op hulle God vertrou en hoe getrou hulle Hemelse Pappa vir hulle sorg.

Daar is nie iemand anders wat vir hierdie kinders kan klere gee nie, daar is nie iemand anders wat hulle oor die kinders kan ontferm terwyl jy gou-gou net eers jou Desember vakansie se finale reëlings tref nie. Dis vir jou wat God vra, wees My hande, wees My voete, wees My arms…

Ek het nie die skares met ‘n mooi gebed en honger magies huis toe gestuur nie, NEE Ek het vir hulle kos saam met die brood van die lewe bedien. Ek het nie die vrou met die bloedvloeiing vertel hoe lief Ek haar het en haar toe weer weggestuur sodat Ek met my belangrike dagtake kon voort gaan nie, NEE, Ek het haar eers genees, eers het Ek van my tyd aan haar afgestaan om na haar te luister en haar te genees… daarom beveel Ek jou my kind kom stort My liefde uit en kom wees My antwoord op die gebed van ‘n kind.

 

Ek sal nie gaan voor U my nie Seën

In Gebede on September 21, 2009 at 11:18

Pappa

Ons staan weer vandag hier in die Jabok Rivier soos Jakob (Genesis 33:23-32), hierdie rivier moet ek vandag nog deur… Vader aan die anderkant lê die beloftes, die seëninge wat U vir ons het, maar eers moet ek hierdie rivier deur.

Vader kom ontmoet my, kom wys my wat ek moet verander, laat my U aangesig aanskou Vader, ek sal en kan nie ophou voordat U my nie geseën het nie, nie voor U my naam verander het nie, Vader kom en ontmoet Vader hier waar ek voor U staan.

Vader kom oortuig my van dit wat my verhinder om nog vêrder te gaan en nog nader aan U te groei. Vader kom way vir my watter deel van my lewe nog nie aan U behoort nie. Vader ek sal nie van hierdie plek af weg gaan voor U nie met my kom praat het nie.

Die beloftes wat U aan my gegee het is wonderlik, die pad wat ons stap is intiem, maar tussen ons staan daar nog goed wat my keer om nog vêrder in oorgawe vir U te leef, Vader kom wys my wat daardie goed is sodat ons dit wortel en tak kan uit roei.

-          Deuteronomium 11:19 Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat, as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Skryf dit op jou deur kosyne en op jou stadspoorte. Dan sal julle, julle nageslag lank, ja so lank as die hemel en die aarde bestaan, bly woon in die land wat die Here met ‘n eed beloof het o aan julle voorvaders te gee.

Here ek belowe om hierdie instruksie na te volg met meer en meer volharding en oorgawe uit te voer. Vader seën my met die insig, die wysheid en die liefde om die onverganklike saad met sukses in my kinders se harte te saai.

Vader hiermee wei ek ook ons hele plaas, elke stukkie gras en grond aan U my God. Op hierdie plaas sal niks geplant of gesaai word sonder U instruksie nie, hier sal niks geoes word sonder U toestemming nie, Here. Elke mens en dier wat hierdie grond betree is onderworpe aan U wil Here. Hierdie plaas is U grondgebied. Hier heers net U en hier mag net U wil geskied. Mag elkeen wat hierdie grondgebied sonder die nodige respek hanteer, besef dat U God is, dat U sovereign is, en dat U in beheer is.

Vader trek ‘n laer om hierdie grond, laat U Gerubs ons hekke bewaar en U engele ‘n muur van vuur rondom ons bou. Vader verhinder die wat so on geregtelik probeer gebruik maak van hierdie grond wat aan U gewei is, om vêrder buit uit U skatkis te probeer haal.

Vader mag daar weer op U tyd, soos U aan ons beloof het, weer vee in die kampe wei en oeste op die lande wees, en mag elke stukkie van hierdie grondgebied slegs tot eer van U naam gebruik word.

-          Deuteronomium 31:7 “Wees sterk, wees dapper! Jy gaan saam met hierdie volk in die land in wat die Here met ‘n eed aan hulle voorvaders beloof het o aan hulle te gee. Jy moet hulle dit in besit laat neem. Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.”

Vader, ek verstaan nou hierdie konstante drang om onafgehandelde besigheid af te handel. Vader Woensdag is die dag wat ons teen die eerste ‘volk’ in ons beloofde land sal tee kom. Vader trek voor ons uit, wys vir ons die pad soos ‘n vuur kolom in de nag en ‘n wolk kolom in die dag. Vader God, hemelse Koning ons sal nie langer terug staan nie, ons sal ons land in besit neem, alleenlik in U Naam en tot eer van U Naam.

Here ek wil ook vandag soos Gideon ‘n wol vliesie voor U op die grond kom neersit. Vader  die pad wat U sever met ons gestap het, vertel van menige wonderdade en Here partykeer voel dit of hierdie pad te goed is om waar te wees. Partykeer kyk ek weer en weer na die brief van my aardse pappa wat my teen die val en die seerkry en swaarkry wanneer hierdie droom wêreld soos Hy dit noem inmekaar gaan stort. Here daarom gooi ek my vliesie voor U voete, soos U my uitgenooi het om te doen in Rigters 6: 36-37.

Vader moet asseblief nie vir my kwaad wees nie, en moet asseblief dit nie teen my hou dat ek weer vir bevestiging vra nie. Vader U weet dat ek van die begin af op U vertrou het om die eerste afspraak met die dokter op U tyd, by die dokter wat U gekies het vir my moontlik te maak. Vader daardie afspraak is more, en ek en U weet dat die fondse vir daardie afspraak nie tans vir my en Ross beskikbaar is nie en daarom Here smeek ek U, as ek myself nie in ‘n droom wêreld van ontkenning toegespin het nie, en as ek regtig besig is om my lewe volgens U wil in terig deur na U stem te luister, en as ek waarlik besig is om in my skeppings doel op te staan en in posisie te kom, dan wil ek vra Here dat U die nodige fondse vir more se afspraak vir ons sal beskikbaar maak sonder dat ons ‘n ander vir daardie fondse hoef te vra. Here mag dit so volgens U Wil en slegs tot eer van U Heilige Naam gebeur.

Vader  laat ons as gesin bymekaar kom om die etenstafel vanaand soos die Israeliete by Mispa bymekaar gekom het. Laat ons weer ons self as eenheid voor U teenwoordigheid buig. Vader laat ons openlik ons harts begeertes aan U bekend maak sodat die wie se ore nog toe is sal kan hoor en die wat nog nie verstaan tot insig sal kan kom. Vader laat U ons dan seën soos U die Israeliete geseën het deur hulle uit die mag van die Filistyne te red. En Vader gee dat ons ook nooit sal vergeet dat U ons tot nou toe nog elke dag gehelp het, gedra het en lief gehad het.

Dankie Here, uit 2 Samuel 7 seën U my deur vir my te belowe dat nes U vir David rus van sy vyande gegee het, U vir ons ook weer rus sal gee, sodat ons hier waar ons woon, hierdie grond waar U ons wil hê, sodat ons hier vir U ‘n vesting kan bou wat deel sal vorm van die skeppings droom wat U vir hierdie Familie het. Dankie Here vir  die herbevestiging van U beloftes in vir die hoop wat daarin lê.

Vader seën my nou, gee vir my, my geestelike naam, die naam waarby U my geroep het my God, verander my naam soos U jakob se naam by die Jabbok verander het, seën my so deur my ook by my nuwe naam te roep! Ek wag in U teenwoordigheid Here vir my nuwe naam.

Amen!

Seën Wense en Gebed vir Woensdag 16 September 2009

In Gebede,Koffietyd on September 16, 2009 at 14:55

Pappa Vader

Die lof en dankbaarheid borrel en kook oor hier in my Gees vandag. Here ek wil op die dak gaan staan en U lof uitbasuin, ter selfde tyd wil ek die atmosfeer van vrede, rus en kalmte wat U oor ons huis gebring het nie versteur.

Ek wil soos die bruid in Hooglied 5:2 sê: Ek het gister aand geslaap maar my hart het wakker gebly omdat ek my Beminde God se stem wou hoor en vir Hom wil oop maak as Hy klop.
Here dankie vir die kosbare tye wat ons snags saam spandeer wanneer niemand behalwe die jakalse daar buite roer nie. Dankie vir die kosbare beloftes wat U daagliks met my deel, en bevestig en waarmee U my troos.

Hier waar ek sit en U woord bestudeer, hier waar U my genadig genoeg is om met my te gesels maak U my aandagtig op die vreedsame manier wat Keenan toets skryf en Connel sit en planne beraam vir sy volgende “uitvindsel.” My Skottie se sagte gesnork op die bank herinner my aan die genade gekoppel aan sy eerste ware rusdag in twee weke en ook die wonderbaarlike manier waarop U deur sy besigheid vir ons sorg.

Here daar is soveel projekte wat steeds hang en waar mense hulle voete sleep. Here ek bid en vertrou dat U daardie projekte sal gebruik om op U tyd die finansies wat nodig is vir Miachlan se geboorte te verskaf. Vader Miachlan is waarlik ‘n geskenk pakkie uit die Hemel, ‘n kindjie deur U gestuur en daarom weet ek dat U al klaar voor die grondlegging van die aarde voorsiening gemaak het vir haar en daarom weet ek dat vir so lank as wat ons vas staan op U beloftes en vir so lank as wat ons glo dat ons meer werd is as die swaeltjies, wat nie een val sonder U toestemming nie, sal U op die regte tyd vir ons voorsien wat ons nodig het net soos U die Manna uit die Hemel vir die Israeliete gegee het.

Dankie Here dat ons huis nie meer ‘n oorlog zone is nie, dankie dat Keenan veilig genoeg voel om te konsentreer op sy studies en dat Connel die vryheid geniet om sy kreatiewe denke te ontwikkel. Here dankie dat ons kan begin om die vrugte van U werking in hulle gees te sien en dankie vri die manier waarop hulle geloof daagliks groei.

Dankie dat Ross so rustig slaap en veilig genoeg voel om eerlik oor sy emosies te wees. Dankie Here vir drie manne wat my geliefkoos en vertroetel laat voel, dankie Here vir die genade wat U ons daagliks bewys deur die liefde en geduld en rustigheid wat soos ‘n konings kleed om elkeen van ons skouers hang. Dankie Here dan U ons soos ‘n koninklike gesin seën met ons daaglikse benodighede nes U die lelies van die veld seën. Here dankie vir emmers vol waardering en aanvaarding vir mekaar en Here dankie bo dit alles vir U teenwoordigheid hier op ons plaas.
Here dankie dat U my daagliks herinner dat my genade gawes nie uit my eie vermoë gebore word nie, maar dit slegs op U tyd deur genade aan my geskenk word. Here dankie vir wysheid en kennis en insig en Here dankie vir die gawe om die Waarheid te kan herken. Here seën elke woord wat my vingers tik, laat nie een woord uit my menslike vermoë gebore word nie, maar eerder uit die mond van U Gees. Here seën my daagliks met die genade en insig wat ek nodig het om in outoriteit in U naam op te staan en U boodskap uit te dra.

Vader vandag is ook die dag waarop een van U diamante, en genade gawes haar eerste asem ingeasem het. Here dankie vir die genesing wat U deur Izan in my lewe en my gesin se lewe gebring het. Here ongelooflik baie bankie vir die reënboog van hoop wat haar glimlag en U liefde wat deur haar skyn in ‘n baie donker tyd vir my gebring het. Here dankie dat sy ‘n gedeelte van die leemte wat boeta se dood in my lewe gelaat het kom vul het en dankie Here vir die afwagting wat die vooruitsig op ‘n God gegewe vriendskap inhou. Vader, ek wil graag die volgende seën wens oor haar uitspreek op hierdie wonderlike dag: “Jy is Sy beminde bruid wat Hy een kant gesit het in Sy tuin, beskerm deur ‘n muur, kompleet met jou eie fontein. Mag jy ‘n granaatboom met keurige vrugte wees, mag jy soos Sy beste lekker ruik kruie wees, mag Sy liefde, Sy Woord en Sy genade soos ‘n borrelende fontein vir jou wees.” (Hooglied 4:12-15)

Here God ek wil U vra dat U vir ons die lente reën sal stuur Vader. Die grond is droog en dor en dit smag na water. Die nuwe grassies doen hulle bes en die bome bot, maar die grond en hard en die water skaars, Here skeur U hemel oop Vader en stuur vir ons reën my God, kom was die wêreld skoon, laat die stof gaan lê en die strome borrel en vloei. Vader wees ons genadig, hoor ons kreet Here ons is afhanklik van die reën uit U hand geskenk.

Amen.

Share
Email

Soos ‘n Wildsbok…

In Gebede on September 15, 2009 at 13:22

Pappa Vader

Ek wil saam met die Psalm digter van Psalm 42 vandag kon sê: “Soos ’n Wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U o, God.”

Here ek wil elke dag net nader en nader en nader aan U beweeg sodat ek meer en meer van U kan leer. Here in my soeke na U wil ek vra dat U my sal lei oom eerder van die Boom van die Lewe as die Boom van Kennis van Goed en Kwaad te eet. Here weerhou my daarvan dat my soeke na menslike verstand en menslike verstaan in die pad sal kom staan van my geloof in U beloftes. Vader voed my Gees vandag sodat ek nie verstrengel sal raak deur die menslike konstrukte en idees nie. Vader vrywaar my vas die Gees van Godsdienstigheid en Wetlikheid en seen my eerder met ‘n intieme verhouding met U my God.

Here U woord spreek soveel waarhede dat dit soms my gedagtes oorweldig. Daar is tye wat ek wonder hoe ek dit alles ooit gaan toepas en hoe ek dit alles ooit gaan onthou. Vader help my om in hierdie tye verby my eie menslike vermoë en my eie menslike verstand te kyk en eerder toe te laat dat U deur U Gees wat U oor my uitgestort het, met my te werk en om so te verseker dat ek ook op die Christus Wingerdstok ingeënt is sodat ek goeie vrug kan dra.

Here in my gebed vandag wil ek vra dat U, U seen oor die volgende mense sal uitspreek:

Vader ek bid heel eerste vir elke besigheid wat U eerste stel en hulle sake volgens U woord en instruksies behartig. Vader mag U hierdie besighede goedgesind wees, Vader beskerm hierdie besighede teen die aanslae van die bose, gee die leiers en eienaars van elkeen van die spanne wat by hierdie besighede werk die insig wat hulle nodig het om U hart en droom vir hulle besigheid te verstaan. Vader spreek tot hulle harte sodat hulle deur elke transaksie wat hulle doen U Grote en Wonderbaarlike Naam sal kan verheerlik. Vader in tye van finansiële onsekerheid wil ek vra dat U twyfel en angs vêr van hierdie besigheids leiers se harte sal weghou. Vader gee hulle die geloof wat hulle nodig het om op U beloftes te vertrou, eerder as om uit paniek oorhaastige en onetiese besluite te neem.

Vader ek wil dat U ook die skille van die oë van ons jong volwassenes en kinders se oë sal afhaal. Vader ons leef in ‘n tyd waar hulle so gebombardeer word met inligting en media. Hulle word oorlaai met liggies wat flits en harde musiek en tog Here soos U in Matteus 12:38 – 42 sal wonderdade nie die skares van hulle tot bekering bring nie Here, omdat hulle harte so hard geword het en omdat hulle soveel staat maak op hulle eie kennis eerder as om die Waarheid by U te kom soek.

Vader God, gee ons as ouers die nodige insig om met ons kinders om te gaan op ‘n manier wat hulle harte sal versag en wat hulle ontvanklik vir die onverganklike saad sal maak. Vader God gee dat ons as ouers goeie vrugte sal dra en dat ons sal leer om met ons kinders te kommunikeer op ‘n manier wat ons gesinne sal verenig eerder as om ons te verdeel.

Vader U praat hard en duidelik die laaste ruk oor die posisie van die gesin in die bruid en U roep ons aanhoudend om ons gesinne te begin mobiliseer. Vader maak ons gehoorsaam aan U voorskrifte my God,  U stel dit duidelik in U Woord dat U eerder barmhartigheid en gehoorsaamheid as offergawes verwag.

Pappa, die duiwel loop rond soos ‘n lustige leeu en hy probeer met al sy mag om U gehoorsame kinders te verslind. Vader die sprinkane wat ons beloftes will kom versnipper en aan ons geloof wil kom knaag sak op ons toe. Maak ons geloof sterk en gee ons die nodige insig en gehoorsaamheid om van hierdie sprinkane ontslae te raak. Vader wys vir ons uit waar daar nog wortels van ongeregtigheid en ongehoorsaamheid in ons lewens in sodat ons hulle wortel en tak kan uitroei.

Here seen elkeen van U kinders vandag met ‘n kalmte en ‘n vrede wat hulle verstand te bowe sal gaan. Spreek stilweg stil in hulle harte sodat hulle weet dat as hulle in die middel van die storm is en hulle sien U nie aangestap kom op die water nie, dat hulle net hulle oë moet oopmaak want U is al klaar saam met hulle in die bootjie.

Amen.

Share
Email

Die Seën van Partytjie Tyd

In Koffietyd,seën wense on September 14, 2009 at 10:15

Die van julle wat gereeld die blog lees sal nou al teen hierdie tyd agter gekom het dat die Here twee goed vir my in die laaste ruk oopgebreek het. Die eerste waarheid waarop Hy my aandag wou vestig is die belangrikheid daarvan om mense rondom ons en ook ons eie pad wat ons daagliks met die Here loop te seën. Die tweede ding wat die Here vir my oop gebreek het is die feit dat Hy wil hê dat gesinne hulle posisies in die Bruid moet begin in neem. Ek glo ook dat daar ‘n sterk oproep op ons is om deur Gebed en die uitspraak van God Gegewe Seëninge oor mekaar die gesinne waarby ons betrokke is tot hulle posisie in die Bruid op te rig.

Die Manna wat ek verlede week ontvang het, het gehandel oor die vrugte van die Gees en dag 40 het veral gehandel oor die mag van die tong. Die skrif gedeeltes: Genesis 40, Psalm 40 en Matteus 10 het net weer die belangrikheid van die woorde wat ons spreek vir my ingeskerp.

Die ander oproep wat op my hart begin druk het was om geleenthede soos verjaarsdae, kombuis tees, ram partytjies en ooievaars tees, self verwelkomings of afskeids partytjies en troues op ‘n nuwe manier te benader. Hoeveel seëninge sal ons nie vir mekaar kan oop sluit as ons gedurende die samekoms die Seën Wense wat God die geleentheid op ons harte lê met almal by die samekoms sou deel.

Die krag van die Seën Wense wat die Here tot dus vêr op my hart vir ander gelê het, word elke dag duideliker en duideliker bevestig. Na die uitspraak van die verkillende Seën Wense het daar weer ‘n geleentheid vir moontlike beter werks vooruitsigte vir my Pa oor sy pad gekom. Die Here het my die genade gawe bewys om ‘n baie liewe vriendin as Mamma te seën nog voor sy regtig geweet het dat sy swanger is, daar is ‘n definitiewe gedrags verandering in ons kinders en ‘n vrede oor ons gesin ten spyte van die druk van buite. Hierdie selfde druk het ons gesin vroeër van jaar amper verpletter, en nou kan ons saam by die Here gaan hoor wat Sy oplossing vir die uitdagings op ons pad is.

Ek wil jou weer uitdaag vandag, gaan lees veral Matteus 10 en spreek die Seën Wense wat die Here op jou hart gele het oor jou geliefdes en oor jouself uit.

Gebed vir 9 September 2009

In Gebede on September 9, 2009 at 17:24

Here God

Ons prys U ons wonderbaarlike Koning en Heersers sonder gelyke. Here soveel van ons gesprekke het die laaste ruk oor die gebrek van dissipline en morele standaarde in wêreld gegaan. Here op ‘n daaglikse basis word ons as gesin gekonfronteer met die verkil tussen die waardes wat ons uit dankbaarheid teenoor U wil uitleef en die van die wêreld.

Here soms voel dit vir my of my kinders verstoot word deur hulle maats omdat hulle ‘n ander waarde sisteem probeer toe pas. Partykeer voel ek soos ‘n heks as ek oor en oor moet verduidelik hoekom ons nie sekere televisie programme kyk nie, en hoekom ons sekere rekenaar en play station speletjies nie speel nie.

Here vandag wil ek names die mense van my land voor U kom staan. Here ons land, ons kinders, ons tieners ons jong mense en die ouers en groot ouers, ons almal het U dringend nodig. Here ons almal se wonde is diep en soms kry ek die gevoel dat die ganse Suid Afrika sonder hoop sommer maar net ronddwaal.

Vader ons kinders het Goddelike leiding nodig. Hulle het mense nodig wat eerlik met hulle oor die dinge van die lewe en oor U sal gesels. Vader ek wil vra dat U elke kind, tiener en jong mens in U hand sal neem en met hulle sal begin werk. Vader verbind hulle wonde soos U my wonde verbind het, omring hulle met U liefde en U vrede en U genade. Vader laat hulle ,hulle identiteite in U vind eerder as in die wêreld.

Vader wees saam met elke ouer, Here gee dat ons sal leer om ons kinders daagliks te seen, gee dat ons hulle met insig uit U hand sal kan lei om hulle identiteite in U te vind, om hulle hoop en geloof in U te plaas en om ‘n intieme verhouding met U te bou.

Here wees saam met elke persoon in ‘n posisie van mag, elke persoon wat gesag oor ander het. Vader wys vir hoe om ons kultuur van korrupsie te verander en om eerder ‘n kultuur van omgee en eerlikheid en geregtigheid te kweek.

Vader my Oupa loop nog moeilik na die operasie. Vader ek wil vra dat U vir hom en ouma deur hierdie aansterking proses sal dra. Vader hou hulle styf vas, laat hulle ons sagte soentjie op hulle voorkoppe voel soos ons dit van hier vêr af stuur. Vader ons vertrou dat U oupa sal spaar sodat hy sy twee nuwe agter klein kinders sal kan ontmoet Here. Here gee hom die kans om hierdie wonderwerkie wat U vir ons as troos na Izàn se dood gegee het te kan vas hou Here.

Here dankie vir die fantastiese nuus wat Nandi vandag met ons gedeel het. Here ons bid vir haar en Vincent al die voorspoed wat daar in U skat kamers van die Hemel is toe. Here dankie vir Tallie se oproep daar uit die vêrte. Here lig haar ook uit haar verknorsing, maak haar pad terug huis toe gelyk en gee dat sy spoedig sal kan terug keer.

Here wees saam met boeta waar hy homself voor berei vir hierdie laaste been van sy finale jaar voor hy graad vang. Here wees saam met hom waar hy weer op die pad sal wees en ook waar hy terug in Stellenbosch bedrywig sal wees met sy studies.

Here vat vannaand vir Mamma en Pappa en gee vir hulle elkeen ‘n drukkie. Laat hulle weet hoe baie ons almal verlang. Here hulle wonde en hulle harte is og so teer na Izàn se dood. Here die frustrasies van Pappa se werk maak die pad vir hulle styl. Vader stort U liefde en vrede oor hulle uit. Vader gee vir die insig wat hulle nodig het rondom die besluite wat voor hulle lê.

Here God ons gee elke droom, elke bekommernis, elke frustrasie, elke verantwoordelik wat vir ons te swaar voel, ons gee dit alles oor in U Vaderhand en ons weet Here dat met U aan die stuur Here sal ons voorspoed en guns by U geniet.

Amen.

Lente Reën

In Gebede on September 9, 2009 at 17:08

Pappa

Vanmiddag lê daar ‘n ongewone atmosfeer hier oor ons plasie. Dit is ‘n mengsel van onbeskryflike opgewondenheid en afwagting, gemeng met ‘n bietjie spanning. Die wolke op die horison lyk so belowend en ek wil graag glo dat die reën wat daardie wolke belowe ook ‘n fisiese manifestasie is van die uitkoms wat U al vir so lank op soveel ander terreine van ons lewens belowe.

Vader of dit nou ‘n geestelike manifestasie van daardie uitkoms is of nie, Vader skeur die hemele oop en laat dit reën Pappa. Kom was die stof van die bome en die blare af, kom bad die voëltjies en die duikertjies wat hier in die veld voor die huis kom speel. Here kom les die dors van die gras en die veld blomme, laat die spruit weer sterk loop en laat die water weer lewe bring.

Laat die fonteine hier op die plaas weer borrel soos dit hier binne in my gees borrel. Pappa daar borrel ‘n ietsie, ‘n gevoel dat die beloofde land net om die draai is. Dit voel vreemd om hardop erkenning daaraan te gee omdat ek nie werklik kan verduidelik waar hierdie bewustheid vandaan kom nie. Van buite af, vir almal wat in kyk lyk dit op die oog af of my hoop op niks konkreet gebaseer is nie, maar ek staan vas op die beloftes en die vrede wat U my daagliks mee seën.

Vanoggend het die dametjie oor die radio gesels oor idees om ons geloof te versterk en sy het gesê dat dit nie die sterkte van ons geloof of die grote van ons geloof is wat saak maak nie, maar eerder die diepte van ons geloof. Here die diepte van ons geloof word gemeet aan die waarheid van ons geloof, dit forseer my, Pappa om weer die beloftes waaraan ek so styf vas hou teen U Woord, teen die enigste onfeilbare Waarheid te gaan meet. Die drang om die selfde met my aksies te doen bly ook sterk en alhoewel U woord my daagliks aankla en daagliks wys waar daar gesnoei moet word sodat ek goeie vrugte kan dra, oorweldig U liefde en ‘n onbeskryflike opgewondenheid my van voor af.

Here vandag kom ons al ons behoeftes weer oop voor U neerlê. Here U weet ons behoeftes is ten opsigte van hospitaal en dokters kostes met Miachlan se geboorte wat nie te vêr weg is nie. U Here weet wat ons nodig het ten opsigte van ons ander finansiële behoeftes. Vader ons vertrou dat U getrou in al daardie behoeftes sal voorsien sodat ons, ons verpligtinge en verantwoordelikhede kan na kom.

Vader U weet in watter opsigte ons gesin verdruk word in hierdie tyd. U weet van elke sprinkaan wat aan ons beloftes wil kom knibbel en elke wapen wat die vyand teen ons wil gebruik. Pappa beskerm ons, maak ons paraat sodat ons nie sal blind wees vir die gevare nie. Gee ons steeds die vrede om rustig snags in U arms te slaap.

Ek wag geduldig op U reën Pappa. U sal weer lewe bring daar waar dit lyk of dit net woestyn is. U is ons beskermer en ons toevlug en U sorg so wonderbaarlik goed vir ons.

Dankie Pappa vir al U genade en liefde en die vrede wat U oor ons uit stort.

Amen!

Vandag praat die geskiedenis hard met my…

In Koffietyd on Augustus 6, 2009 at 06:55

(5 Augustus 2009)

Vanoggend se koffietyd val meer op oggend tee tyd, soos ingestel deur my liefste skoonma. Ten 10uur elke oggend kom alles en almal tot stilstand en dan deel almal wat daar by haar is ‘n koppie tee en ‘n lekker dingetjie om te eet. Here U weet hoeveel wysheid en teerheid en liefde is al in daardie kort tydjie aan my en ook aan soveel ander oorgedra, dit is die dat ek graag hierdie instelling ook met ons kinders, haar klein kinders, begin deel het…

Vanoggend se eerste koppie koffie het ek met van die groot leiers van ons tyd gedeel. Inderhaas moes ek voorberei vir vandag se geskiedenis les, omdat dit net gisteraand nie binne my vermoë was nie. Soos ek deur bladsye vol feite lees en dit probeer verteer en rangskik in ‘n formaat wat meer verstaanbaar is, val dit my op hoe niemand eers probeer om U hand in ons geskiedenis raak te sien nie.

Die eensydigheid van die stories, die veroordeling, die afsku waarmee sekere leiers beskryf word het regoor die verheerliking en amper aanbidding van ander leiers gaan staan, maar steeds word daar nie melding gemaak oor die ware lesse wat geleer kan word nie, en nooit word U rol in ons geskiedenis bespreek nie.

Ek met myself in ‘n wasmasjien van emosie bevind, hoe begin ek om hierdie leiers aan die oopkop seuntjie hiervoor my te verduidelik sommer om sy gedagtes in ‘n onnatuurlike rigting te stuur en sonder om sy dink proses omvêr te gooi of sy persepsie van sy mede Afrikane te besoedel nie.

Ons het vinnig die geskiedenis van Nelson Mandela, F.W. De Klerk, Desmond Tutu en Ghandi deurgedraf. Uiteraard het ons gesels oor Apartheid en dan ook Post Apartheid Suid Afrika. Voor ek myself kon keer borrel die skuim toe uit by my emosionele wasmasjien en toe raak hierdie feitlike bespreking ook toe sommer ‘n morele een.

Ek dank U, my God dat U op daardie stadium my tong oorgeneem het en die gesprek gelei het…. So onder U leiding kon ek vir my Erfstukkie verduidelik hoekom ek so hard probeer om hom van die geweld en gemors, wat deur ons media as soetkoek aan ons jeug verkoop word, te beskerm. Somtyds maak my beskermde hand die water vir hom warm wanneer hy tussen sy maats is en hulle hierdie gemorskos soetkoek weer vir mekaar opdis.

Ek kon ook vir hom verduidelik dat Suid Afrika eintlik maar ‘n kultuur van geweld het, ons groot oupa grootjies, oupa grootjies en van ons oupas het oorlog gemaak vir die vryheid van hulle taal en kultuur en in sommige omstandighede om meer grond te kon beheer. Ons pa’s, ooms, selfs sommige van ons neefs, broers en mans was ook betrokke in oorloë, beide buite ons land en daar buite… so baie van vandag se jongmense het groot geword te midde van ‘n oorlog om Vryheid en ook oorlewing. Ek kon vir Hom verduidelik dat ek glo dat die geweld in ons land die simptome is van die volgende siektes in ons gemeenskap:

Ons immuniteit teen geweld, dood en hartseer maak dat geweld maar eintlik ‘n alledaagse irritasie eerder as ‘n ernstige probleem geword het. Ons steur ons skaars aan die lot van die slagoffers van geweld, solank ek of iemand wat ek lief het tog net nie deel word van daardie lang lys van slagoffers word nie.

Ons sit met desperate mense wie se lewens gehalte in die 15 jaar van demokrasie nog nie verander het nie, behalwe dat hulle nie pasboeke hoef rond te dra nie en dat hulle vry is om te beweeg war hulle wil, te glo wat hulle wil en dit dan ook te proklameer as hulle wil. Tog het hulle eintlike pyn en leiding nog nie eens amper verander nie. Steeds het hulle nie huis of water of elektrisiteit nie. Hulle het die sekondêre slagoffers van Black Empowerment en Affirmative Action geword. Die voordele van hierdie voorafgenoemde eerbare inisiatiewe word slegs deur ‘n elite groep mense gedeel, steeds word die rykes ryker en die armes armer.

Hierdie eeu oue bose kringloop gee geboorte aan mense wat óf uit desperaatheid, óf uit woede, óf uit wraak dan neem wat hulle voel hulle toekom. So respekteer ons mekaar nog minder, en dan raak die vlam van meegevoel nog skraler en die swart gat van woede, haat en blaam word net al hoe groter.

En so met ‘n draai saam verstaan my kosbare Erfstukkie dat deur sy immuniteit teen die inpak van geweld laag te hou en deur sy gedagtes en sy hart suiwer te hou, deur hom respek, liefde, waardering en nederigheid te leer doen ek en my Blondekop Skottie ons deel om die kultuur van geweld in ons land stop te sit.

Hy begin verstaan hoekom afhanklikheid van my God vir my so belangrik is, da niks my toe kom nie, dat dit wat ek het net genade is, net vir my geleen is en daarom mag ek nie vat wat God vir ‘n ander gegee het nie.

Hy begin verstaan hoekom ons nie ander so sonder genade kan oordeel nie en hoekom ons nie kan verwag om perfek te wees nie. Hy het begin soek vir U hand in ons geskiedenis, en begin verstaan dat alle gesag van U af kom, alhoewel ons in die tuin geskape is as mede helpers van mekaar eerder as twee wesens waarvan die een bo die ander aangestel is nie.

Self het U vir my oopgebreek dat ons as Suid Afrikaners moet onthou dat ons nie gedurende die sanksies van die Apartheids Jare gaan lê het nie, maar dat ons dit wat ons nie meer uit die buiteland kon kry nie, self vervaardig het, en dat ons soveel sukses behaal het. Ons is ‘n nasie wat nie deur verdrukking ondergekry word nie, ons kan opstaan en met min kan ons baie reg kry.

U het vir my die prentjie gewys van ‘n nasie wat nie meer net moet sit en gebuk gaan onder die druk van geweld en geldelike verknorsing nie, ‘n nasie wat nie meer korrupsie en oneerlikheid en kriminele aktiwiteite moet aanvaar as normaal nie. Ons moet ons antwoorde, ons oplossings by ‘n lewende God gaan soek, ons moet bid dat U in die harte van ons regering werk sodat korrupsie en oneerlikheid vir hulle onsmaaklik en onaanvaarbaar sal word. Ons moet bid dat mense hulle afhanklikheid van U sal besef en daarom nie hulle self tot geweld sal went om hulle daaglikse brood te verdien nie. Ons moet bid dat respek en onvoorwaardelike liefde vir ons medemens weer oor ons land sal spoel, Vader stamp die Nagmaal beker om en laat die bloed van die Lam ons land suiwer, laat die bloed van U Seun ons nasie kom skoon was en laat ons land van U herstel en liefde getuig net soos die herstel van ons gesin van U liefde, krag en genade getuig.

Vader ek loof U vir U liefde genade en vrede wat oor ons spoel, elke dag.

Amen.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.