Liza Welsh

Posts Tagged ‘Suid Afrika’

Ek gaan nou ingryp sê die Here.

In Uncategorized on April 15, 2010 at 13:00

Hemelse Vader, Vors van Genade en Koning van alle konings… gisteraand en van oggend se nuus bulletien begin vir my al meer na Jesaja 33:10-14 lyk.

Here die opskrif van die gedeelte is : Ek gaan nou ingryp sê die Here.

Vader ons weet dat daar geen einde aan U mag en krag is nie. Vader ons weet ook dat soos kaf deur die vuur verteer word, so sal die mens en die aarde verteer word wanneer U, U mag laat geld.

Vader daar is nie een gebeurtenis wat op hierdie aarde plaasvind sonder dat U daarvan weet, of sonder dat U dit toe laat nie. Vader ons staan verskrik en mense begin vrae vra oor die gereelde aardbewings, die opstandige manier waarom mense handel, die gereelde vlieg ongelukke… Vader die wêreld staan verskik en angs bevange.

Vader in hierdie tyd is dit so ‘n groot versoeking om saam met die wêreld in oorlewings optrede te verval. Dit is so maklik om te val vir die strik om meer geld op enige manier moontlik by mekaar te maak, net sodat ons darem sal kan oorleef wanneer “die pôpô die fan strike” soos ons sal sê. Vader dit is moeilik om nie in desperaatheid te verval en so ons morele waardes prys te gee nie. Vader dit is moeilik om nie onder die druk in te gee en ons heiligheid prys te gee nie.

Vader, maak ons sterk deur U Gees. Vader laat ons die hooftrekke sien as druk wat ons harde, vuil steenkool wesens sal omskep in diamante wat sal glinster ter ere van U heerlikheid, wanneer die nuwe hemel en aarde kom.

Vader U belowe ook dat die wat bly reg doen, ‘n woonplek by U sal hê, veilig op ‘n hoë berg. U belowe dat die wat getrou aan U bly ‘n rotsvesting in ons Here Jesus as ons skuil plek sal hê. U belofte staan dat die wat by U kom skuil en hulle rug draai op dit wat teen U wil is, nooit sonder kos sal wees nie, en drink water sal hê wat nooit sal op raak nie.

Vader ons staan vandag op hierdie belofte en ons dank U dat die siels kos en lewende water waarmee U ons versorg Here verhoed dat ons verskrik rondskarrel en irrasionele besluite maak, dit is U voorsorg en U genade Here wat verhoed dat ons in hierdie donker tye in depressie en mismoed verval, en Here my God daarvoor is ons U ewiglik dankbaar.

Amen.

Danksegging te midde van moeilike tye

In Uncategorized on April 12, 2010 at 11:15

Vader God, Koning van my hart, Heerser van my hele lewe. Here ek loof U vandag as die middelpunt van my vlees, siel en gees. Vader U is die Vader van wonderwerke, die God wat skep, die God wat red, die God van Waarheid. Here God, ek kan net hoop dat my nederige woorde sal kan begin om U lof te besing, want Here geen aantal woorde or lof gesange sal ooit U majesteit waardig kan wees nie.

Vader God, dankie Here dat onss elke dag, enige uur van die dag by U voete kan kom sit en vir vergifnis kan kom vra vir ons oortredinge. Vader dankie dat ons deur die Genade Bloed wat U Seun vir ons aan die kruis gestort het, U vergifnis kan ervaar en mag aanvaar. Vader sie skrif sê, as is ons skarlaken rooi van sonde Here, U was ons so wit soos sneeu. Ere God kom was my, kom reinig asseblief weer my hart, kom ruk alles sonde wortel en al uit my siel, sodat ek in my gees opregte vrugte, goeie vrugte kan dra.

Here, uit genade en slegs genade leef ek in die wete dat U ‘n vader is wat U oor ons ontferm, en U is die God wat in elke omstandigheid moed kan gee deur die hoop wat U vir ons in die hemele bewaar. In elke moeilike omstandigheid Here is U met ons, bemoedig U ons, dra U ons.

Pappa God, dit is om hierdie rede dat ons dan ook ander kan bemoedig. Here dit is waar dat ons ‘n oorvloed van lyding ter wille van Christus ervaar, maar dit is ook waar dat ons ‘n oorvloed van bemoediging deur Christus geniet.

Here vandag bid ek dat U ons denke sal verander Here, sodat ons harte kan verander, want Vader die oomblik wat ons, ons daaglikse lewe vanuit hierdié perspektief beskou, verander die hele prentjie en dan Vader sal ons hele reaksie so verander dat ons die vrugte van U Gees sal dra.

Here God, vanuit hierdie perspektief verander die dreigement van onverantwoordelike en uittartende uitlatings deur verskeie politieke leiers in ‘n geleentheid om God se genade en bemoediging te ervaar, en om ook U teenwoordigheid in hierdie situasie en met ons mede mens te deel.

Here die selfde geld vir elke venstertjie koevert wat ons met soveel mismoedigheid uit ons posbus haal. Vader mag ‘n diep afhanklikheid van U die angs greep wat hierdie stukkies papier in ons verwek vervang. Mag ons in afwagting op U hand en U seën en U genade wag m God.

Here U het deur genade ‘n vaste verwagting geskep dat nes ek in Christus se lyding sal deel, dat ek ook in Dy bemoediging en Hoop en in die krag wat Hom uit die dood uit opgewek het sal deel. Vader mag ons oë nie net op die eer van die oorwinning wat ons met U sal deel wees en gevestig bly nie, nee Vader mag ons fokus eerder slegs die eer van U naam bly.

Here, U weet dat ons soms dae beleef wat dit voel asof ons vêr bo ons kragte versoek en beproef word, soms Here voel dit selfs of ons maar ale hoop kan laat vaar. Maar dit is juis op hierdie dae Here wat U ons herinner, en ons leer dat ons nie op onsself kan vertrou nie, maar dat ons eerder slegs op U moet vertrou. U is die Alfa en die Omega, die begin en die einde van my lewe, U is my hele lewe, niks gebeur met my sonder dat U hand dit toe laat nie my God en niks kan my ooit van U liefde skei nie en daarom Here is ek dankbaar vir die genade gawe van geloof waarmee U my elke môre seën.

Amen.

Nie in eie krag of wysheid nie…

In Uncategorized on April 8, 2010 at 12:49

Pappa Vader, vandag kom sit ek voor U voete, want die hoop wat ek gister gehad het wil kwyn voor die aangesig van die voorbeelde van haatspraak aan beide kante van die rasse skeiding in hierdie pragtige land waarin ons almal woon.

Vader, dit is eers wanneer ons besef dat U Seun, Christus, die beeld van God self is, en dat alles deur Christus geskape is, dat ons verby die verskille tussen mense kan kyk. Vader alles wat ons op aarde kan sien en ook nie kan sien nie, is deur U, deur U Seun geskape. Daar is ook niks wat voortbestaan op hierdie aarde sonder U Seun wat dit in stand hou nie.

Vader daarom wil ek U smeek…. Laat die skille van elke persoon in hierdie land se oë af val, laat hulle besef dat niks gebeur sonder dat U toelaat dat dit gebeur nie. Die regering wat aan bewind is, omdat U dit so bestel het en daarom moet ons ongeag van kleur or kultuur of persoonlike opinies, die heersers wat U aangestel het respekteer.

Vader ek glo en ek bid dat elke gelowige, weereens ongeag van kleur, kultuur of taal, sal verstaan dat die huidige situasie in ons land die perfekte geleentheid is vir ons om te wys dat ons wat ‘n persoonlike verhouding met Christus het, ons vir Hom sal afsonder, ons sal deur Christus se liefde uitstaan bo die res en so deur voorbeeld en nie deur konfrontasie, ‘n groot verkil maak in ons land.

Christus was die Eerste om geskep te word en die Eerste om uit die dood uit op te staan, en U ons God het aan ons belowe dat ons deur geloof toegang het tot die selfde krag wat Christus uit die dood uit laat opstaan het, en daarom vra ek nederig Vader, skenk ons daardie krag sodat ons wat verstaan dat daar ‘n deel van Christus in elke persoon op hierdie aarde is, die strydende partye met mekaar sal kan versoen.

Vader ek smeek nie om heridie versoening terwille van veiligheid of enigsins ter wille van menslike vrees of behoud nie, maar eerder my God sodat U naam deur hierdie versoenings proses verheerlik kan word.

Vader, dit wat ons in ons eie krag probeer bou, is nooit blywend nie en verandering wat ons op ons eie maak hou nie, tyd verweer ons vasbeslotenheid en goeie bedoelinge en ons krag op ons eie is nie opgewase teen die Satan se slinkse leuns nie.

EN daarom glo ek Here, en ek belei, dat ons nou weer as nasie op hierdie punt staan, omdat U nie ingesluit was by die eerste transformasie proses nie, die hele reënboog nasie is gebou op die pilare van humanisme, erder as Christus se liefde en daarom Here gaan die vrede nie behoue bly nie en gaan ons demokrasie altyd kwesbaar bly. Dit is daarom Vader van genade smeek ek U, terwyl ons versoenings pogings in puin hope om ons lê en ons verslae staan oor die oplossing, mag U Gees kom oorneem en names ons die pilare van demokrasie en vrede en eenheid weer ko opbou.

Vader mag ons verstaan dat nie eens een van die mees gevorderde konstitusies in die wêreld ons ka red van die oordrewe trots wat tussen die mense van ons land kom staan nie. Laat ons eerder as om rond te skarrel en menslike oplossings te soek, op ons knieë gaan en begin deur U voorskrifte te gehoorsaam, waarvan die grootste gebod liefde is.

Pappa God mag ons ook ter selfde tyd ons oorgee aan U wil U aan die stuur van ons land plaas.

Amen.

This morning is a beautiful new morning!

In Gebede on November 3, 2009 at 14:59

Lieste Pappa

“ This morning is a beautiful new morning!” Met hierdie woorde en ‘n goue skynsel oor die gras teen die koppie hier agter die huis het U my gegroet, toe ek net so voor ses uur die radio aansit… die glimlag wat op daardie oomblik om my mond hoeke gespeel het, het nog net breër en breër geword vandag.

Pappa vanaf die sesde uur van vandag af hou U genade gawes net nie op nie… vir die vierde keer in een week seën U my met die selfde belofte en ook waarskuwing wat U vir Salomo in 2 Kronieke 8 oor die tempel gegee het.

En vir die soveelste keer bevestig U dat ek my drome reg verstaan: U is waarlik besig om ons stukkie grond, hierdie grond aan U gewei, U tempel, te seën. Ons is op die regte pad, U is ons God, daar is niemand anders in ons harte nie, op niemand anders vestig ons, ons hoop nie – en stadig maar seker is U besig om ons vir ons deursettings vermoë te beloon.

Die dag het aangegaan… maar so tussen Wiskunde somme en Engelse Grammar luister ek na Tom en Estie wat gesels oor hoe ons die Bybel, die Lewende, Geïnspireerde Woord van ons God behoort te lees en weer hiermee raak U aan my tot op die murg van elkeen van my bene.
Oor en oor gee U vir my die gedeelte uit Psalm 119 vanaf vers 97 – 108 en weer bevestig U vir my dat dit waarlik U Gees is wat my lei as Ek U woord lees, U het my oë oopgemaak, my geseën met die vermoë om U woord reg te verstaan.

U rig my op om aan te gaan met die taak wat U voor my gestel het… U kom maak vir U atleet ‘n protein shake om haar kragte op te bou en U kom klee U stryder in ‘n spink splinter nuwe wapen rusting. U kom sluit krag en geduld en liefde in my hart oop, wat voorheen vir my verberg gelê het.

Maar Pappa dis mos maar hoe dit gaan. Nes ons dink ons kan nie meer liefde bewys nie, nog meer nederig wees nie, nog meer geduldig wees nie, sodra ons dink dat ons nie nog nader aan U kan beweeg nie, dan trek U ons nog nader aan U bors en vou U, U groot sterk arms nog stywer om ons vas en dan versier U ons gesiggies met nog sagter, meer liefdevolle skoenlapper soentjies tot ons straal van U liefde en U glorie.

En dan hou die dinge ook nie daar op nie. Pappa onthou U toe ek gister aan vir my Skottie gesê het dat ek tog moet onthou om vir my vriendin te vra of sy dalk vir my daardie hoedjie vir Miachlan sal hekel, daardie een wat soos ‘n Liewenheersbesie lyk…. En vanoggend terwyl ek en Connel werk aan sy klanke gesels Soekie en haar ateljee gas en een van die goedjies wat die ateljee gas noem is oor die twee soorte liewenheersbesies. Daar is die oorspronklike, inheemse Liewenheersbesie wat al die plae vernietig, en dan is daar die indringer Liewenheersbesie wat van Asië af kom wat alles sommer net voor die voet vernietig. En so met een woord kom U en bevestig U nog van U beloftes en woord wat U al vir ‘n geruime tyd vir my gee.

U bevestig dat al die beloftes wat ek glo U vir my gegee het oor Miachlan en haar plekkie in die wêreld en die manier waarop U sal voorsien vir haar geboorte, dit is alles ware beloftes waaraan ek maar kan vas hou, beloftes waaroor ek openlik kan praat omdat ek nie dan as valse profeet afgemat sal word nie.

Die tweede bevestiging wat U vir my gee is dat ek die woord wat ek die laaste paar maande al konstant kry reg verstaan. Die leiers van ons gemeenskap, en hiermee bedoel ek die ouers van elke gesinstruktuur moet begin om die peste wat ons gemeenskap so teister uit te roei. Die enigste plek waar ons kan begin is by ons eie kinders.

Ons moet begin om ons oë oop te maak en te begin onderskei tussen die ware Liewenheersbesies in ons lewens en die indringer besies. Daar is elemente waaraan ons kinders bloot gestel word wat op die oog opslag heel onskadelik lyk omdat dit in die vorm van oulike animasies of onskuldige liedjies voorgelê word, maar sodra ons hierdie elemente van nader bekyk dan sien ons hoe hulle die saad wat ons so getrou in ons kinder se lewens plant verwoes.

Pappa daarom kom staan ek op my knieë voor U en ek vra nederig dat U elke ouer se oë sal oop maak sodat hulle, hulle kinders se omgewing kan suiwer van die indringer besies wat soos sprinkane U beloftes en U woord binne in hulle harte opvreet. Vader gee ons ouers die wete dat U hulle in ‘n gesags posisie aanstel het, dat hulle wel hulle kinders mag tugtig, volgens U woord en wel dit wat in hulle kinders se lewens ingespreek en ingelaat word, kan en mag en MOET filter.

Vader leer ons as ouers om U beloftes daaglikse EN volgens U WIL en WOORD in ons kinders se lewens in te spreek. Vader maak ons rustig genoeg in die aand om seën wense oor ons kinder te spreek terwyl hulle slaap en ook wanneer ons hulle verlaat om ons dag take te verrig. Gee dat ons sal begin om ‘n punt daarvan te maak om U seën oor ons kinders te spreek ook op spesiale geleenthede soos verjaarsdae en jaareind funksies en prys uitdelings. Mag ons waarlik die God gegewe Liewenheersbesies in ons kinders se lewens begin beskerm en die indringer besies begin uitroei.

Amen.

Gebed vir 9 September 2009

In Gebede on September 9, 2009 at 17:24

Here God

Ons prys U ons wonderbaarlike Koning en Heersers sonder gelyke. Here soveel van ons gesprekke het die laaste ruk oor die gebrek van dissipline en morele standaarde in wêreld gegaan. Here op ‘n daaglikse basis word ons as gesin gekonfronteer met die verkil tussen die waardes wat ons uit dankbaarheid teenoor U wil uitleef en die van die wêreld.

Here soms voel dit vir my of my kinders verstoot word deur hulle maats omdat hulle ‘n ander waarde sisteem probeer toe pas. Partykeer voel ek soos ‘n heks as ek oor en oor moet verduidelik hoekom ons nie sekere televisie programme kyk nie, en hoekom ons sekere rekenaar en play station speletjies nie speel nie.

Here vandag wil ek names die mense van my land voor U kom staan. Here ons land, ons kinders, ons tieners ons jong mense en die ouers en groot ouers, ons almal het U dringend nodig. Here ons almal se wonde is diep en soms kry ek die gevoel dat die ganse Suid Afrika sonder hoop sommer maar net ronddwaal.

Vader ons kinders het Goddelike leiding nodig. Hulle het mense nodig wat eerlik met hulle oor die dinge van die lewe en oor U sal gesels. Vader ek wil vra dat U elke kind, tiener en jong mens in U hand sal neem en met hulle sal begin werk. Vader verbind hulle wonde soos U my wonde verbind het, omring hulle met U liefde en U vrede en U genade. Vader laat hulle ,hulle identiteite in U vind eerder as in die wêreld.

Vader wees saam met elke ouer, Here gee dat ons sal leer om ons kinders daagliks te seen, gee dat ons hulle met insig uit U hand sal kan lei om hulle identiteite in U te vind, om hulle hoop en geloof in U te plaas en om ‘n intieme verhouding met U te bou.

Here wees saam met elke persoon in ‘n posisie van mag, elke persoon wat gesag oor ander het. Vader wys vir hoe om ons kultuur van korrupsie te verander en om eerder ‘n kultuur van omgee en eerlikheid en geregtigheid te kweek.

Vader my Oupa loop nog moeilik na die operasie. Vader ek wil vra dat U vir hom en ouma deur hierdie aansterking proses sal dra. Vader hou hulle styf vas, laat hulle ons sagte soentjie op hulle voorkoppe voel soos ons dit van hier vêr af stuur. Vader ons vertrou dat U oupa sal spaar sodat hy sy twee nuwe agter klein kinders sal kan ontmoet Here. Here gee hom die kans om hierdie wonderwerkie wat U vir ons as troos na Izàn se dood gegee het te kan vas hou Here.

Here dankie vir die fantastiese nuus wat Nandi vandag met ons gedeel het. Here ons bid vir haar en Vincent al die voorspoed wat daar in U skat kamers van die Hemel is toe. Here dankie vir Tallie se oproep daar uit die vêrte. Here lig haar ook uit haar verknorsing, maak haar pad terug huis toe gelyk en gee dat sy spoedig sal kan terug keer.

Here wees saam met boeta waar hy homself voor berei vir hierdie laaste been van sy finale jaar voor hy graad vang. Here wees saam met hom waar hy weer op die pad sal wees en ook waar hy terug in Stellenbosch bedrywig sal wees met sy studies.

Here vat vannaand vir Mamma en Pappa en gee vir hulle elkeen ‘n drukkie. Laat hulle weet hoe baie ons almal verlang. Here hulle wonde en hulle harte is og so teer na Izàn se dood. Here die frustrasies van Pappa se werk maak die pad vir hulle styl. Vader stort U liefde en vrede oor hulle uit. Vader gee vir die insig wat hulle nodig het rondom die besluite wat voor hulle lê.

Here God ons gee elke droom, elke bekommernis, elke frustrasie, elke verantwoordelik wat vir ons te swaar voel, ons gee dit alles oor in U Vaderhand en ons weet Here dat met U aan die stuur Here sal ons voorspoed en guns by U geniet.

Amen.

Vandag praat die geskiedenis hard met my…

In Koffietyd on Augustus 6, 2009 at 06:55

(5 Augustus 2009)

Vanoggend se koffietyd val meer op oggend tee tyd, soos ingestel deur my liefste skoonma. Ten 10uur elke oggend kom alles en almal tot stilstand en dan deel almal wat daar by haar is ‘n koppie tee en ‘n lekker dingetjie om te eet. Here U weet hoeveel wysheid en teerheid en liefde is al in daardie kort tydjie aan my en ook aan soveel ander oorgedra, dit is die dat ek graag hierdie instelling ook met ons kinders, haar klein kinders, begin deel het…

Vanoggend se eerste koppie koffie het ek met van die groot leiers van ons tyd gedeel. Inderhaas moes ek voorberei vir vandag se geskiedenis les, omdat dit net gisteraand nie binne my vermoë was nie. Soos ek deur bladsye vol feite lees en dit probeer verteer en rangskik in ‘n formaat wat meer verstaanbaar is, val dit my op hoe niemand eers probeer om U hand in ons geskiedenis raak te sien nie.

Die eensydigheid van die stories, die veroordeling, die afsku waarmee sekere leiers beskryf word het regoor die verheerliking en amper aanbidding van ander leiers gaan staan, maar steeds word daar nie melding gemaak oor die ware lesse wat geleer kan word nie, en nooit word U rol in ons geskiedenis bespreek nie.

Ek met myself in ‘n wasmasjien van emosie bevind, hoe begin ek om hierdie leiers aan die oopkop seuntjie hiervoor my te verduidelik sommer om sy gedagtes in ‘n onnatuurlike rigting te stuur en sonder om sy dink proses omvêr te gooi of sy persepsie van sy mede Afrikane te besoedel nie.

Ons het vinnig die geskiedenis van Nelson Mandela, F.W. De Klerk, Desmond Tutu en Ghandi deurgedraf. Uiteraard het ons gesels oor Apartheid en dan ook Post Apartheid Suid Afrika. Voor ek myself kon keer borrel die skuim toe uit by my emosionele wasmasjien en toe raak hierdie feitlike bespreking ook toe sommer ‘n morele een.

Ek dank U, my God dat U op daardie stadium my tong oorgeneem het en die gesprek gelei het…. So onder U leiding kon ek vir my Erfstukkie verduidelik hoekom ek so hard probeer om hom van die geweld en gemors, wat deur ons media as soetkoek aan ons jeug verkoop word, te beskerm. Somtyds maak my beskermde hand die water vir hom warm wanneer hy tussen sy maats is en hulle hierdie gemorskos soetkoek weer vir mekaar opdis.

Ek kon ook vir hom verduidelik dat Suid Afrika eintlik maar ‘n kultuur van geweld het, ons groot oupa grootjies, oupa grootjies en van ons oupas het oorlog gemaak vir die vryheid van hulle taal en kultuur en in sommige omstandighede om meer grond te kon beheer. Ons pa’s, ooms, selfs sommige van ons neefs, broers en mans was ook betrokke in oorloë, beide buite ons land en daar buite… so baie van vandag se jongmense het groot geword te midde van ‘n oorlog om Vryheid en ook oorlewing. Ek kon vir Hom verduidelik dat ek glo dat die geweld in ons land die simptome is van die volgende siektes in ons gemeenskap:

Ons immuniteit teen geweld, dood en hartseer maak dat geweld maar eintlik ‘n alledaagse irritasie eerder as ‘n ernstige probleem geword het. Ons steur ons skaars aan die lot van die slagoffers van geweld, solank ek of iemand wat ek lief het tog net nie deel word van daardie lang lys van slagoffers word nie.

Ons sit met desperate mense wie se lewens gehalte in die 15 jaar van demokrasie nog nie verander het nie, behalwe dat hulle nie pasboeke hoef rond te dra nie en dat hulle vry is om te beweeg war hulle wil, te glo wat hulle wil en dit dan ook te proklameer as hulle wil. Tog het hulle eintlike pyn en leiding nog nie eens amper verander nie. Steeds het hulle nie huis of water of elektrisiteit nie. Hulle het die sekondêre slagoffers van Black Empowerment en Affirmative Action geword. Die voordele van hierdie voorafgenoemde eerbare inisiatiewe word slegs deur ‘n elite groep mense gedeel, steeds word die rykes ryker en die armes armer.

Hierdie eeu oue bose kringloop gee geboorte aan mense wat óf uit desperaatheid, óf uit woede, óf uit wraak dan neem wat hulle voel hulle toekom. So respekteer ons mekaar nog minder, en dan raak die vlam van meegevoel nog skraler en die swart gat van woede, haat en blaam word net al hoe groter.

En so met ‘n draai saam verstaan my kosbare Erfstukkie dat deur sy immuniteit teen die inpak van geweld laag te hou en deur sy gedagtes en sy hart suiwer te hou, deur hom respek, liefde, waardering en nederigheid te leer doen ek en my Blondekop Skottie ons deel om die kultuur van geweld in ons land stop te sit.

Hy begin verstaan hoekom afhanklikheid van my God vir my so belangrik is, da niks my toe kom nie, dat dit wat ek het net genade is, net vir my geleen is en daarom mag ek nie vat wat God vir ‘n ander gegee het nie.

Hy begin verstaan hoekom ons nie ander so sonder genade kan oordeel nie en hoekom ons nie kan verwag om perfek te wees nie. Hy het begin soek vir U hand in ons geskiedenis, en begin verstaan dat alle gesag van U af kom, alhoewel ons in die tuin geskape is as mede helpers van mekaar eerder as twee wesens waarvan die een bo die ander aangestel is nie.

Self het U vir my oopgebreek dat ons as Suid Afrikaners moet onthou dat ons nie gedurende die sanksies van die Apartheids Jare gaan lê het nie, maar dat ons dit wat ons nie meer uit die buiteland kon kry nie, self vervaardig het, en dat ons soveel sukses behaal het. Ons is ‘n nasie wat nie deur verdrukking ondergekry word nie, ons kan opstaan en met min kan ons baie reg kry.

U het vir my die prentjie gewys van ‘n nasie wat nie meer net moet sit en gebuk gaan onder die druk van geweld en geldelike verknorsing nie, ‘n nasie wat nie meer korrupsie en oneerlikheid en kriminele aktiwiteite moet aanvaar as normaal nie. Ons moet ons antwoorde, ons oplossings by ‘n lewende God gaan soek, ons moet bid dat U in die harte van ons regering werk sodat korrupsie en oneerlikheid vir hulle onsmaaklik en onaanvaarbaar sal word. Ons moet bid dat mense hulle afhanklikheid van U sal besef en daarom nie hulle self tot geweld sal went om hulle daaglikse brood te verdien nie. Ons moet bid dat respek en onvoorwaardelike liefde vir ons medemens weer oor ons land sal spoel, Vader stamp die Nagmaal beker om en laat die bloed van die Lam ons land suiwer, laat die bloed van U Seun ons nasie kom skoon was en laat ons land van U herstel en liefde getuig net soos die herstel van ons gesin van U liefde, krag en genade getuig.

Vader ek loof U vir U liefde genade en vrede wat oor ons spoel, elke dag.

Amen.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.