Liza Welsh

Posts Tagged ‘seën wense’

My antwoord op die gebed van ‘n kind…

In Gebede,Koffietyd on November 17, 2009 at 09:29

Die sand korreltjies in die uurglas gemerk as 2009 is besig om baie vinnig uit te loop en oral is almal besig om gou-gou net ‘n inventaris van die jaar te neem voor hulle te verstrengel raak in Kersfees liggies en blink tinsel stringetjies.

Soos ek ook maar onwillekeurig inventaris van ‘n wasmasjien jaar waardeur my gesin en my familie is. Die onbeskryflike vrede wat God my hart mee toevou kom dan loodreg teenoor onafgehandelde besigheid staan. Die opgewondenheid en afwagting van ‘n nuwe lewe kom staan loodreg teenoor die pyn en die nood wat oral rondom my heers. My eie genesing kom staan ook loodreg teenoor die wonde van die vir wie ek so innig lief is.

En tussen dit alles deur wil ek amper soos Johannes opstandig raak omdat die rondom my soveel meer lei as ek. Johannes het opstandig geraak oor die feit dat hy nie die geleentheid gegun was om soos die ander dissipels vir sy geloof te kon sterf nie. Nee, ek wil nie sterf nie, ek weet dat my werkie hier op aarde is nog nie klaar nie, maar ek wens so gereeld dat ek die jeuk van die mensies om my namens hulle kan dra. Soms wens ek dat daar ‘n vitamien B kompleks inspuiting vir die hart se seerste eina kan wees en dat ek namens ander deur hulle pyn kan werk sodat hulle wonde kan genees.

Dis terwyl ek so voel, dat ek selfs nog hier in my gees nog meer opstandig word wanneer ek versoeke uitstuur en geleenthede wat deur ons Pappa self geskep word onder die aandag van God se geliefdes te bring – soos my Vader my beveel en nie eens een persoon die moeite kan doen om hulle oë en hulle aandag vir ‘n oomblik van hulle eie lewe en eie behoeftes af te haal en so na ‘n ander uit te reik nie.

Die Here raak al hoe meer dringend in Sy oproep aangaande ons kinders en die wees kinders wat so aan hulle eie genade oorgelaat word. Vader se hart is regtig seer oor die gebrek aan die Bruid se bereidheid om uit te reik en hierdie kinders se harte met hulle God se hart te versoen. Elkeen van ons hou ‘n bos sleutels vas, wat die deur vir soveel kinders kan oopsluit, tog is ons so besig met ander goed dat ons nie uitkom by dit wat Vader regtig in hierdie tyd van ons vra nie.

Matteus 18 vers 1-5 is tog so duidelik oor die belangrikheid van kinders in die koninkryk van God. En daar is niks meer kosbaar as die manier waarop ‘n kind sy God vertrou nie. Self het ek die voorreg om daagliks te sien hoe my twee wille perdjies op hulle God vertrou en hoe getrou hulle Hemelse Pappa vir hulle sorg.

Daar is nie iemand anders wat vir hierdie kinders kan klere gee nie, daar is nie iemand anders wat hulle oor die kinders kan ontferm terwyl jy gou-gou net eers jou Desember vakansie se finale reëlings tref nie. Dis vir jou wat God vra, wees My hande, wees My voete, wees My arms…

Ek het nie die skares met ‘n mooi gebed en honger magies huis toe gestuur nie, NEE Ek het vir hulle kos saam met die brood van die lewe bedien. Ek het nie die vrou met die bloedvloeiing vertel hoe lief Ek haar het en haar toe weer weggestuur sodat Ek met my belangrike dagtake kon voort gaan nie, NEE, Ek het haar eers genees, eers het Ek van my tyd aan haar afgestaan om na haar te luister en haar te genees… daarom beveel Ek jou my kind kom stort My liefde uit en kom wees My antwoord op die gebed van ‘n kind.

 

This morning is a beautiful new morning!

In Gebede on November 3, 2009 at 14:59

Lieste Pappa

“ This morning is a beautiful new morning!” Met hierdie woorde en ‘n goue skynsel oor die gras teen die koppie hier agter die huis het U my gegroet, toe ek net so voor ses uur die radio aansit… die glimlag wat op daardie oomblik om my mond hoeke gespeel het, het nog net breër en breër geword vandag.

Pappa vanaf die sesde uur van vandag af hou U genade gawes net nie op nie… vir die vierde keer in een week seën U my met die selfde belofte en ook waarskuwing wat U vir Salomo in 2 Kronieke 8 oor die tempel gegee het.

En vir die soveelste keer bevestig U dat ek my drome reg verstaan: U is waarlik besig om ons stukkie grond, hierdie grond aan U gewei, U tempel, te seën. Ons is op die regte pad, U is ons God, daar is niemand anders in ons harte nie, op niemand anders vestig ons, ons hoop nie – en stadig maar seker is U besig om ons vir ons deursettings vermoë te beloon.

Die dag het aangegaan… maar so tussen Wiskunde somme en Engelse Grammar luister ek na Tom en Estie wat gesels oor hoe ons die Bybel, die Lewende, Geïnspireerde Woord van ons God behoort te lees en weer hiermee raak U aan my tot op die murg van elkeen van my bene.
Oor en oor gee U vir my die gedeelte uit Psalm 119 vanaf vers 97 – 108 en weer bevestig U vir my dat dit waarlik U Gees is wat my lei as Ek U woord lees, U het my oë oopgemaak, my geseën met die vermoë om U woord reg te verstaan.

U rig my op om aan te gaan met die taak wat U voor my gestel het… U kom maak vir U atleet ‘n protein shake om haar kragte op te bou en U kom klee U stryder in ‘n spink splinter nuwe wapen rusting. U kom sluit krag en geduld en liefde in my hart oop, wat voorheen vir my verberg gelê het.

Maar Pappa dis mos maar hoe dit gaan. Nes ons dink ons kan nie meer liefde bewys nie, nog meer nederig wees nie, nog meer geduldig wees nie, sodra ons dink dat ons nie nog nader aan U kan beweeg nie, dan trek U ons nog nader aan U bors en vou U, U groot sterk arms nog stywer om ons vas en dan versier U ons gesiggies met nog sagter, meer liefdevolle skoenlapper soentjies tot ons straal van U liefde en U glorie.

En dan hou die dinge ook nie daar op nie. Pappa onthou U toe ek gister aan vir my Skottie gesê het dat ek tog moet onthou om vir my vriendin te vra of sy dalk vir my daardie hoedjie vir Miachlan sal hekel, daardie een wat soos ‘n Liewenheersbesie lyk…. En vanoggend terwyl ek en Connel werk aan sy klanke gesels Soekie en haar ateljee gas en een van die goedjies wat die ateljee gas noem is oor die twee soorte liewenheersbesies. Daar is die oorspronklike, inheemse Liewenheersbesie wat al die plae vernietig, en dan is daar die indringer Liewenheersbesie wat van Asië af kom wat alles sommer net voor die voet vernietig. En so met een woord kom U en bevestig U nog van U beloftes en woord wat U al vir ‘n geruime tyd vir my gee.

U bevestig dat al die beloftes wat ek glo U vir my gegee het oor Miachlan en haar plekkie in die wêreld en die manier waarop U sal voorsien vir haar geboorte, dit is alles ware beloftes waaraan ek maar kan vas hou, beloftes waaroor ek openlik kan praat omdat ek nie dan as valse profeet afgemat sal word nie.

Die tweede bevestiging wat U vir my gee is dat ek die woord wat ek die laaste paar maande al konstant kry reg verstaan. Die leiers van ons gemeenskap, en hiermee bedoel ek die ouers van elke gesinstruktuur moet begin om die peste wat ons gemeenskap so teister uit te roei. Die enigste plek waar ons kan begin is by ons eie kinders.

Ons moet begin om ons oë oop te maak en te begin onderskei tussen die ware Liewenheersbesies in ons lewens en die indringer besies. Daar is elemente waaraan ons kinders bloot gestel word wat op die oog opslag heel onskadelik lyk omdat dit in die vorm van oulike animasies of onskuldige liedjies voorgelê word, maar sodra ons hierdie elemente van nader bekyk dan sien ons hoe hulle die saad wat ons so getrou in ons kinder se lewens plant verwoes.

Pappa daarom kom staan ek op my knieë voor U en ek vra nederig dat U elke ouer se oë sal oop maak sodat hulle, hulle kinders se omgewing kan suiwer van die indringer besies wat soos sprinkane U beloftes en U woord binne in hulle harte opvreet. Vader gee ons ouers die wete dat U hulle in ‘n gesags posisie aanstel het, dat hulle wel hulle kinders mag tugtig, volgens U woord en wel dit wat in hulle kinders se lewens ingespreek en ingelaat word, kan en mag en MOET filter.

Vader leer ons as ouers om U beloftes daaglikse EN volgens U WIL en WOORD in ons kinders se lewens in te spreek. Vader maak ons rustig genoeg in die aand om seën wense oor ons kinder te spreek terwyl hulle slaap en ook wanneer ons hulle verlaat om ons dag take te verrig. Gee dat ons sal begin om ‘n punt daarvan te maak om U seën oor ons kinders te spreek ook op spesiale geleenthede soos verjaarsdae en jaareind funksies en prys uitdelings. Mag ons waarlik die God gegewe Liewenheersbesies in ons kinders se lewens begin beskerm en die indringer besies begin uitroei.

Amen.

Hou jou Kastaiings uit die Vuur Deel 3 – Wat is ‘n Man en Wat is ‘n Vrou (2)

In Hou jou kastaiings uit die Vuur on Oktober 6, 2009 at 11:04

In die vorige hoofstuk het ons gekyk na die rol van die man en die vrou soos dit opgeteken staan in Genesis 2 : 4 -18. Die slotsom waarby ons uitgekom het is soos volg:
- Die man en vrou is albei deur God geskape en hulle is as gelyke geskape.
- Die man verwesenlik God die versorger van ons basiese fisiese behoeftes en daarom dien die man as konstante herinnering daaraan dat God aan ons fisiese behoeftes voorsien.
- Die vrou verwesenlik God die versorger van ons emosionele behoeftes en daarom dien die vrou as konstante herinnering daaraan dat God ook aan ons emosionele behoeftes voorsien.

Tog hou die skrif nie hier op nie en soos ons vêrder deur Genesis 2 lees vind ons nog sleutels tot die identiteit van die man en die vrou. Vers 19 en 20 verduidelik vir ons hoe God al die diere na die man gebring het en hy hulle almal name gegee het, hulle deur gekyk het en tog het hy nie een wat sy gelyke was gevind nie. Nie een van die diere was sy gelyke nie.

Hierdie skrif lyk op die oog opslag vir ons wat so gewoond as aan die wêreld soos dit vandag is, so onbelangrik, maar tog wil dit vir ons iets sê van hoe belangrik dit vir God en die man was dat die man ‘n helper gekry het wat by hom gepas het. Dit is ook belangrik om te sien dat God heel eerste die keuse vir helper by die mens gelaat het, en nadat die mens besluit het dat nie een van die diere sy gelyke was nie, het God ingegryp en vir die mens ‘n helper, ‘n gelyke gemaak.

Dit is ook belangrik dat ons weereens die waarde van hierdie twee verse met ons kinders deel. Soos hulle groot word gaan hulle baie moontlike lewens maats tee kom en God se genade is groot genoeg dat as hulle in die huwelik sou tree met een van daardie lewens maats wat dalk nou nie vir hulle bedoel is nie, dat God hulle tog sal seën, juis omdat Hy ons die reg om te kies gegee het. Tog moet ons ook met hulle die wonder van vers 21- 25 ook deel.

Nadat die mens nie ‘n geskikste gelyke onder die diere kon kry nie, het God hom aan die slaap gemaak en vlees uit die mens se sy gebruik om vir hom ‘n helper te maak. En hierin lê die volgende sleutel van die man en die vrou se identiteit. Die man en vrou is gemaak om mekaar aan te vul. Tussen man en vrou is daar ‘n heilige band, die een is uit die ander gehaal. Man en vrou is gemaak om naak (openlik, sonder pretensie en maskers) voor mekaar te staan.

Elke paar soos Vader ons voor die grondlegging van die Aarde vir mekaar geskape het, is die perfekte paar. Hulle sal mekaar se sterk en swak punte aanvul. Sy sal wees vlees van sy vlees, been van sy been, skaamte van sy skaamte.

Hiermee bedoel ek glad nie dat die verhouding tussen hierdie man en vrou maklik en sonder hak plekke gaan wees nie. Om mekaar aan te vul sal ons juis tien teen een teenoorgesteldes wees en daarom sal dit vir ons moeilik wees om mekaar te verstaan. Maar as ons elkeen se posisie verstaan dan sal ons kan begin om die verskille tussen ons te aanvaar en te respekteer. En mekaar die spasie gun om ons afsonderlike rolle te vervul.

Ons kan egter nie na die identiteit van die man en die vrou kyk sonder om na die sondeval in Genesis 3 te kyk nie. In hierdie gedeelte sien ons dat die vrou deur die slang verlei word om van die vrug van die boom van Kennis van Goed en Kwaad te eet en hoe sy dan ook die selfde vrug aan haar van gee om te eet.

Alhoewel dit belangrik is om notisie te neem van die duiwel se slinksheid en die manier waarop Hy die waarheid verdraai, is dit net so belangrik om nie te vergeet dat die vrou steeds die keuse gehad het om nie na die slang te luister nie. Die grootste fout wat die vrou begaan het was om nie te vertrou dat God haar met die nodige kennis sal toerus nie en daarom het sy kennis in a ander vorm as van God aanvaar.

Die vrou kan ook gesien word as die beskermer van die man, veral as ons kyk na die engelse benamings, man en woman (man with a womb.) Die baarmoeder gee en beskerm lewe en daarom is dit deel van die vrou se identiteit van die vrou om as haar man se beskermer op te tree. Dus kan ons in hierdie gedeelte ook sien dat as die vrou uit haar posisie tree kom daar dood oor haar man. Hiermee ignoreer ek glad nie die feit dat die man steeds ‘n keuse gehad het nie, en dat ‘n man wat ook uit posisie beweeg en buite sy God se wil handel, ook swaarkry oor sy familie bring nie. Tog is dit vir my belangrik om die vrou se identiteit as geestelike en emosionele beskermer van die man te beklemtoon, veral omdat die samelewing die vrou as die damsel in distress en die swakker geslag skets en hierdie beeld word in die koppe van ons dogters ingeprent en daarom sukkel ons dogters om op te staan in hulle posisie in die Bruid.

Vanaf vers 14 deel God die straf vir die sonde wat sy kinders van Hom vervreem het uit. In vers 16 word die vrou se straf aan haar gegee en die laaste twee sinne gee vir ons nog sleutels tot die identiteit van die vrou. Die Here het aan die vrou gesê dat na haar man sal hunker en dat hy oor haar sal heers. Dus is dit belangrik dat ons verstaan dat ons verlange na die man en lewens maat wat Vader vir ons geskape het deel van ons identiteit geword het en ons moet ook aanvaar dat God in hierdie verse die man as hoof van die huis aangestel het. Dit beteken glad nie dat ons rol as die man se emosionele en geestelike beskermer wegval nie, maar dit beteken wel dat ons aan die man onderdanig moet wees en sy besluite moet respekteer.

Hierdie verse plaas ook ‘n verantwoordelikheid op die man, want alhoewel hy as hoof oor die gesin aangestel is, waarsku die skrif oor en oor dat die mens nie die gesag wat Vader hom gegee het mag gebruik om ander te onder druk nie. Vêrder lees ons dan van die vloek wat die mens oor die aarde gebring het, en die moeite waarmee die man vir sy gesin en sy familie sal sorg.

Die gedeelte sluit af met die gedeelte waar die mens sy vrou Eva noem. Eva kan vertaal word as lewend en die Hebreeus vir Eva klink baie soos die Hebreeus vir Adam. Adam beteken mensdom. En selfs in die name van die eerste twee mense word daar vir my ‘n belangrike sleutel opgesluit. Die oomblik wat die man of die vrou of beide uit hulle posisie beweeg is die dood die uiteinde. Saam verskaf die man en vrou soos deur God bymekaar geplaas die platform vir ‘n lewende mensdom, maar sodra die twee van mekaar geskei het, gaan die mensdom agteruit en tans getuig die ooreenkoms tussen die hoë egskeidings syfer en die agteruitgang van ons samelewing van hierdie sleutel.

Seën Wense en Gebed vir Woensdag 16 September 2009

In Gebede,Koffietyd on September 16, 2009 at 14:55

Pappa Vader

Die lof en dankbaarheid borrel en kook oor hier in my Gees vandag. Here ek wil op die dak gaan staan en U lof uitbasuin, ter selfde tyd wil ek die atmosfeer van vrede, rus en kalmte wat U oor ons huis gebring het nie versteur.

Ek wil soos die bruid in Hooglied 5:2 sê: Ek het gister aand geslaap maar my hart het wakker gebly omdat ek my Beminde God se stem wou hoor en vir Hom wil oop maak as Hy klop.
Here dankie vir die kosbare tye wat ons snags saam spandeer wanneer niemand behalwe die jakalse daar buite roer nie. Dankie vir die kosbare beloftes wat U daagliks met my deel, en bevestig en waarmee U my troos.

Hier waar ek sit en U woord bestudeer, hier waar U my genadig genoeg is om met my te gesels maak U my aandagtig op die vreedsame manier wat Keenan toets skryf en Connel sit en planne beraam vir sy volgende “uitvindsel.” My Skottie se sagte gesnork op die bank herinner my aan die genade gekoppel aan sy eerste ware rusdag in twee weke en ook die wonderbaarlike manier waarop U deur sy besigheid vir ons sorg.

Here daar is soveel projekte wat steeds hang en waar mense hulle voete sleep. Here ek bid en vertrou dat U daardie projekte sal gebruik om op U tyd die finansies wat nodig is vir Miachlan se geboorte te verskaf. Vader Miachlan is waarlik ‘n geskenk pakkie uit die Hemel, ‘n kindjie deur U gestuur en daarom weet ek dat U al klaar voor die grondlegging van die aarde voorsiening gemaak het vir haar en daarom weet ek dat vir so lank as wat ons vas staan op U beloftes en vir so lank as wat ons glo dat ons meer werd is as die swaeltjies, wat nie een val sonder U toestemming nie, sal U op die regte tyd vir ons voorsien wat ons nodig het net soos U die Manna uit die Hemel vir die Israeliete gegee het.

Dankie Here dat ons huis nie meer ‘n oorlog zone is nie, dankie dat Keenan veilig genoeg voel om te konsentreer op sy studies en dat Connel die vryheid geniet om sy kreatiewe denke te ontwikkel. Here dankie dat ons kan begin om die vrugte van U werking in hulle gees te sien en dankie vri die manier waarop hulle geloof daagliks groei.

Dankie dat Ross so rustig slaap en veilig genoeg voel om eerlik oor sy emosies te wees. Dankie Here vir drie manne wat my geliefkoos en vertroetel laat voel, dankie Here vir die genade wat U ons daagliks bewys deur die liefde en geduld en rustigheid wat soos ‘n konings kleed om elkeen van ons skouers hang. Dankie Here dan U ons soos ‘n koninklike gesin seën met ons daaglikse benodighede nes U die lelies van die veld seën. Here dankie vir emmers vol waardering en aanvaarding vir mekaar en Here dankie bo dit alles vir U teenwoordigheid hier op ons plaas.
Here dankie dat U my daagliks herinner dat my genade gawes nie uit my eie vermoë gebore word nie, maar dit slegs op U tyd deur genade aan my geskenk word. Here dankie vir wysheid en kennis en insig en Here dankie vir die gawe om die Waarheid te kan herken. Here seën elke woord wat my vingers tik, laat nie een woord uit my menslike vermoë gebore word nie, maar eerder uit die mond van U Gees. Here seën my daagliks met die genade en insig wat ek nodig het om in outoriteit in U naam op te staan en U boodskap uit te dra.

Vader vandag is ook die dag waarop een van U diamante, en genade gawes haar eerste asem ingeasem het. Here dankie vir die genesing wat U deur Izan in my lewe en my gesin se lewe gebring het. Here ongelooflik baie bankie vir die reënboog van hoop wat haar glimlag en U liefde wat deur haar skyn in ‘n baie donker tyd vir my gebring het. Here dankie dat sy ‘n gedeelte van die leemte wat boeta se dood in my lewe gelaat het kom vul het en dankie Here vir die afwagting wat die vooruitsig op ‘n God gegewe vriendskap inhou. Vader, ek wil graag die volgende seën wens oor haar uitspreek op hierdie wonderlike dag: “Jy is Sy beminde bruid wat Hy een kant gesit het in Sy tuin, beskerm deur ‘n muur, kompleet met jou eie fontein. Mag jy ‘n granaatboom met keurige vrugte wees, mag jy soos Sy beste lekker ruik kruie wees, mag Sy liefde, Sy Woord en Sy genade soos ‘n borrelende fontein vir jou wees.” (Hooglied 4:12-15)

Here God ek wil U vra dat U vir ons die lente reën sal stuur Vader. Die grond is droog en dor en dit smag na water. Die nuwe grassies doen hulle bes en die bome bot, maar die grond en hard en die water skaars, Here skeur U hemel oop Vader en stuur vir ons reën my God, kom was die wêreld skoon, laat die stof gaan lê en die strome borrel en vloei. Vader wees ons genadig, hoor ons kreet Here ons is afhanklik van die reën uit U hand geskenk.

Amen.

Share
Email

Soos ‘n Wildsbok…

In Gebede on September 15, 2009 at 13:22

Pappa Vader

Ek wil saam met die Psalm digter van Psalm 42 vandag kon sê: “Soos ’n Wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U o, God.”

Here ek wil elke dag net nader en nader en nader aan U beweeg sodat ek meer en meer van U kan leer. Here in my soeke na U wil ek vra dat U my sal lei oom eerder van die Boom van die Lewe as die Boom van Kennis van Goed en Kwaad te eet. Here weerhou my daarvan dat my soeke na menslike verstand en menslike verstaan in die pad sal kom staan van my geloof in U beloftes. Vader voed my Gees vandag sodat ek nie verstrengel sal raak deur die menslike konstrukte en idees nie. Vader vrywaar my vas die Gees van Godsdienstigheid en Wetlikheid en seen my eerder met ‘n intieme verhouding met U my God.

Here U woord spreek soveel waarhede dat dit soms my gedagtes oorweldig. Daar is tye wat ek wonder hoe ek dit alles ooit gaan toepas en hoe ek dit alles ooit gaan onthou. Vader help my om in hierdie tye verby my eie menslike vermoë en my eie menslike verstand te kyk en eerder toe te laat dat U deur U Gees wat U oor my uitgestort het, met my te werk en om so te verseker dat ek ook op die Christus Wingerdstok ingeënt is sodat ek goeie vrug kan dra.

Here in my gebed vandag wil ek vra dat U, U seen oor die volgende mense sal uitspreek:

Vader ek bid heel eerste vir elke besigheid wat U eerste stel en hulle sake volgens U woord en instruksies behartig. Vader mag U hierdie besighede goedgesind wees, Vader beskerm hierdie besighede teen die aanslae van die bose, gee die leiers en eienaars van elkeen van die spanne wat by hierdie besighede werk die insig wat hulle nodig het om U hart en droom vir hulle besigheid te verstaan. Vader spreek tot hulle harte sodat hulle deur elke transaksie wat hulle doen U Grote en Wonderbaarlike Naam sal kan verheerlik. Vader in tye van finansiële onsekerheid wil ek vra dat U twyfel en angs vêr van hierdie besigheids leiers se harte sal weghou. Vader gee hulle die geloof wat hulle nodig het om op U beloftes te vertrou, eerder as om uit paniek oorhaastige en onetiese besluite te neem.

Vader ek wil dat U ook die skille van die oë van ons jong volwassenes en kinders se oë sal afhaal. Vader ons leef in ‘n tyd waar hulle so gebombardeer word met inligting en media. Hulle word oorlaai met liggies wat flits en harde musiek en tog Here soos U in Matteus 12:38 – 42 sal wonderdade nie die skares van hulle tot bekering bring nie Here, omdat hulle harte so hard geword het en omdat hulle soveel staat maak op hulle eie kennis eerder as om die Waarheid by U te kom soek.

Vader God, gee ons as ouers die nodige insig om met ons kinders om te gaan op ‘n manier wat hulle harte sal versag en wat hulle ontvanklik vir die onverganklike saad sal maak. Vader God gee dat ons as ouers goeie vrugte sal dra en dat ons sal leer om met ons kinders te kommunikeer op ‘n manier wat ons gesinne sal verenig eerder as om ons te verdeel.

Vader U praat hard en duidelik die laaste ruk oor die posisie van die gesin in die bruid en U roep ons aanhoudend om ons gesinne te begin mobiliseer. Vader maak ons gehoorsaam aan U voorskrifte my God,  U stel dit duidelik in U Woord dat U eerder barmhartigheid en gehoorsaamheid as offergawes verwag.

Pappa, die duiwel loop rond soos ‘n lustige leeu en hy probeer met al sy mag om U gehoorsame kinders te verslind. Vader die sprinkane wat ons beloftes will kom versnipper en aan ons geloof wil kom knaag sak op ons toe. Maak ons geloof sterk en gee ons die nodige insig en gehoorsaamheid om van hierdie sprinkane ontslae te raak. Vader wys vir ons uit waar daar nog wortels van ongeregtigheid en ongehoorsaamheid in ons lewens in sodat ons hulle wortel en tak kan uitroei.

Here seen elkeen van U kinders vandag met ‘n kalmte en ‘n vrede wat hulle verstand te bowe sal gaan. Spreek stilweg stil in hulle harte sodat hulle weet dat as hulle in die middel van die storm is en hulle sien U nie aangestap kom op die water nie, dat hulle net hulle oë moet oopmaak want U is al klaar saam met hulle in die bootjie.

Amen.

Share
Email

Die Seën van Partytjie Tyd

In Koffietyd,seën wense on September 14, 2009 at 10:15

Die van julle wat gereeld die blog lees sal nou al teen hierdie tyd agter gekom het dat die Here twee goed vir my in die laaste ruk oopgebreek het. Die eerste waarheid waarop Hy my aandag wou vestig is die belangrikheid daarvan om mense rondom ons en ook ons eie pad wat ons daagliks met die Here loop te seën. Die tweede ding wat die Here vir my oop gebreek het is die feit dat Hy wil hê dat gesinne hulle posisies in die Bruid moet begin in neem. Ek glo ook dat daar ‘n sterk oproep op ons is om deur Gebed en die uitspraak van God Gegewe Seëninge oor mekaar die gesinne waarby ons betrokke is tot hulle posisie in die Bruid op te rig.

Die Manna wat ek verlede week ontvang het, het gehandel oor die vrugte van die Gees en dag 40 het veral gehandel oor die mag van die tong. Die skrif gedeeltes: Genesis 40, Psalm 40 en Matteus 10 het net weer die belangrikheid van die woorde wat ons spreek vir my ingeskerp.

Die ander oproep wat op my hart begin druk het was om geleenthede soos verjaarsdae, kombuis tees, ram partytjies en ooievaars tees, self verwelkomings of afskeids partytjies en troues op ‘n nuwe manier te benader. Hoeveel seëninge sal ons nie vir mekaar kan oop sluit as ons gedurende die samekoms die Seën Wense wat God die geleentheid op ons harte lê met almal by die samekoms sou deel.

Die krag van die Seën Wense wat die Here tot dus vêr op my hart vir ander gelê het, word elke dag duideliker en duideliker bevestig. Na die uitspraak van die verkillende Seën Wense het daar weer ‘n geleentheid vir moontlike beter werks vooruitsigte vir my Pa oor sy pad gekom. Die Here het my die genade gawe bewys om ‘n baie liewe vriendin as Mamma te seën nog voor sy regtig geweet het dat sy swanger is, daar is ‘n definitiewe gedrags verandering in ons kinders en ‘n vrede oor ons gesin ten spyte van die druk van buite. Hierdie selfde druk het ons gesin vroeër van jaar amper verpletter, en nou kan ons saam by die Here gaan hoor wat Sy oplossing vir die uitdagings op ons pad is.

Ek wil jou weer uitdaag vandag, gaan lees veral Matteus 10 en spreek die Seën Wense wat die Here op jou hart gele het oor jou geliefdes en oor jouself uit.

Lente Reën

In Gebede on September 9, 2009 at 17:08

Pappa

Vanmiddag lê daar ‘n ongewone atmosfeer hier oor ons plasie. Dit is ‘n mengsel van onbeskryflike opgewondenheid en afwagting, gemeng met ‘n bietjie spanning. Die wolke op die horison lyk so belowend en ek wil graag glo dat die reën wat daardie wolke belowe ook ‘n fisiese manifestasie is van die uitkoms wat U al vir so lank op soveel ander terreine van ons lewens belowe.

Vader of dit nou ‘n geestelike manifestasie van daardie uitkoms is of nie, Vader skeur die hemele oop en laat dit reën Pappa. Kom was die stof van die bome en die blare af, kom bad die voëltjies en die duikertjies wat hier in die veld voor die huis kom speel. Here kom les die dors van die gras en die veld blomme, laat die spruit weer sterk loop en laat die water weer lewe bring.

Laat die fonteine hier op die plaas weer borrel soos dit hier binne in my gees borrel. Pappa daar borrel ‘n ietsie, ‘n gevoel dat die beloofde land net om die draai is. Dit voel vreemd om hardop erkenning daaraan te gee omdat ek nie werklik kan verduidelik waar hierdie bewustheid vandaan kom nie. Van buite af, vir almal wat in kyk lyk dit op die oog af of my hoop op niks konkreet gebaseer is nie, maar ek staan vas op die beloftes en die vrede wat U my daagliks mee seën.

Vanoggend het die dametjie oor die radio gesels oor idees om ons geloof te versterk en sy het gesê dat dit nie die sterkte van ons geloof of die grote van ons geloof is wat saak maak nie, maar eerder die diepte van ons geloof. Here die diepte van ons geloof word gemeet aan die waarheid van ons geloof, dit forseer my, Pappa om weer die beloftes waaraan ek so styf vas hou teen U Woord, teen die enigste onfeilbare Waarheid te gaan meet. Die drang om die selfde met my aksies te doen bly ook sterk en alhoewel U woord my daagliks aankla en daagliks wys waar daar gesnoei moet word sodat ek goeie vrugte kan dra, oorweldig U liefde en ‘n onbeskryflike opgewondenheid my van voor af.

Here vandag kom ons al ons behoeftes weer oop voor U neerlê. Here U weet ons behoeftes is ten opsigte van hospitaal en dokters kostes met Miachlan se geboorte wat nie te vêr weg is nie. U Here weet wat ons nodig het ten opsigte van ons ander finansiële behoeftes. Vader ons vertrou dat U getrou in al daardie behoeftes sal voorsien sodat ons, ons verpligtinge en verantwoordelikhede kan na kom.

Vader U weet in watter opsigte ons gesin verdruk word in hierdie tyd. U weet van elke sprinkaan wat aan ons beloftes wil kom knibbel en elke wapen wat die vyand teen ons wil gebruik. Pappa beskerm ons, maak ons paraat sodat ons nie sal blind wees vir die gevare nie. Gee ons steeds die vrede om rustig snags in U arms te slaap.

Ek wag geduldig op U reën Pappa. U sal weer lewe bring daar waar dit lyk of dit net woestyn is. U is ons beskermer en ons toevlug en U sorg so wonderbaarlik goed vir ons.

Dankie Pappa vir al U genade en liefde en die vrede wat U oor ons uit stort.

Amen!

Ons Hemelse Vader vir wie ek so innig lief is…

In Gebede on September 3, 2009 at 16:48

In Lukas 11, vra Jesus se dissipels vir Hom om hulle te leer bid. Hierdie gedeelte is so ongelooflik bekend, dit is ‘n deel van die Bybel wat ons telkens hoor vandat ons klein is en tog lees ons net gou so vinnig daaroor omdat ons dink dat ons weet wat daar staan. Tog wil ek myself af vra hoekom ons dan nie altyd doen wat die woord van ons vra ten opsigte van gebed nie, dit beteken immers nie veel om die kop kennis rond te dra as ons dit nie toe pas nie.

Soos die ure van hierdie dag aanstap kry die gevoel dat die boodskappe wat deur hierdie eposse uitgaan harder en harder op die duiwel se stert begin trap. Die sentrale tema van al die boodskappe en publikasies op Koffietyd gaan oor die versoening tussen die Vaders en die Kinders van ons tyd. Die sentrale gedagtes draai rondom die Gees van Elia, en dit is vir my wonderlik omdat die artikels en die eposse nie lank vooruit beplan word nie. Ek skryf maar soos die Gees my deur die dag lei, en op hierdie manier is daar nie veel plek vir my slim idees en mense praatjies nie, maar moet my hart en my gees oop bly vir die stem van ons Pa.

 Ek is oortuig dat hierdie bediening besig is om ‘n doring in die bose se vlees te word omdat hy konstant die appel karretjie van ons gesin wat gereed maak om in ons beloofde land in te trek probeer omgooi. Verlede week het hy ‘n emosionele aanslag teen ons gesmee en die krag en die genade en die liefde van ons Here het ‘n laer rondom ons getrek en die vuur het ons nie geskroei nie en die vrede in ons huis was nie aangeraak nie.

 Vir die afgelope twee dae beleef ek dit weer dat daar ‘n aanslag is op ons in terme van die een plek waar ons as gesin kwesbaar is. Die Here het beloftes gemaak oor ons finansies. Met die nuwe baba oppad en dokters besoeke en hospitaal fooie het die Here ons gevra om Hom onvoorwaardelik te vertrou. Uit genade het ons ook die geloof ontvang om weer soos die lelies en die voëltjies van die veld uit Sy hand te leef, maar gister en vandag is die sprinkane wat ons beloftes wil kom opeet volop en lustig, en daarom is ek weereens so ongelooflik dankbaar dat die Here Lukas 11 vanmiddag met my kom deel het.

 Ons enigste verweer teen die sprinkane is gebed, die opregte, eerlike uitstort van ons harte voor ons God. En dan sal Hy ons ook antwoord soos Hy in Esegiël 12:28 aankondig: “So sê die Here my God: ‘Niks van wat Ek gesê het sal uitgestel word nie. Wat Ek gesê het, sal nou gebeur,’ so sê die Here my God.”

Laat ons nou saam bid soos ons in Lukas 11 deur ons Hemelse, Heerlike Bruidegom geleer word:

Pappa God

Ons Hemelse Vader vir wie ek so innig lief is. My Pa wat ek met soveel oorgawe wil dien. U is die trooster van ons harte se diepste angs en vrees.

Vanmiddag kom ek in my gebrokenheid, my menslikheid voor U staan. Vader mag al die eer vir die vreugde en vrede wat in ons lewens heers, U toekom. Mag U verheerlik word deur die liefde wat ons teenoor mekaar bewys en mag ons geloof in U beloftes soos ‘n helder loflied deur die wêreld weerklank. U Pappa is so getrou en so genadig en dit is vir my ‘n voorreg om op U skoot te kan sit en U stem te kan hoor.

 Pappa, ek wil saam met U Seun in Lukas 11 sê, “laat U Naam geheilig word en laat U koninkryk kom.” Vader mag U Wil ten alle koste geskied en mag U ons tot in ons onderskeie posisies bring sodat ons onsself, U Bruid, kan gereed maak vir die koms van U Seun, die Hemelse Bruidegom.

Vader kom voed ons gees, Vader kom praat met ons, ons wil U stem hoor, ons wil U teenwoordigheid voel, ons wil so baie graag nog meer van U leer. Breek U Woord vandag vir ons oop en kom lei ons in ons soeke na die Waarheid en na U Wysheid.

 Vader vergeef ons oortredinge, vergewe ons vir die slegte vrugte wat ons soms dra. Vader maak ons bewus van die wortels van ons ongehoorsaamheid en help ons Here om hulle sommer wortel en tak uit te kap. Here maak ons harte sag sodat ons die wat teenoor ons oortree ook kan vergewe soos U ons vergewe en Here dankie dat U bloed ons weer skoon was. U bloed laat ons spier wit, sonder skuld staan en daarvoor Here, loof ons U en prys ons U alleen.

Pappa terwyl ons smeek dat U ons teen die aanvalle van ons vyand sal beskerm wil ons U loof vir die beloftes wat U teenoor ons gemaak het. Vader die skrif sê vir ons dat die duiwel rondloop soos ‘n brullende leeu, ons lees van soveel kere wat die sprinkane kom U volk se beloftes op te eet. Vader mag hierdie aanvalle teen ons te vergeefs wees omdat ons, ons hulp by ons God en Vader gaan soek. Here U het ons al soveel keer uit genade beskerm en elkeen van die beloftes wat U teenoor ons gemaak het, het waar geword, en daarom kan ons nie anders as om aan U woord vas te kleef nie.

 Here God, onse Vader seën ons steeds met U vrede en U genade. Laat die hegtheid van ons gesinsbande en die egtheid van ons geloof deur hierdie aanvalle ongerep bly. Mag U namens ons die aanval afweer en mag ons spoedig in die beloofde land intrek. Mag ons steeds ons vreugde in U vind.

Vader ons bid dat die Bloed van U Seun ons sal bedek en dat ons steeds vrede en rus in U arms sal vind.

Amen.

Seën Wense vir 2 September 2009

In seën wense on September 2, 2009 at 15:00

Job 28 praat oor die mens se soeke na wysheid en die mens se neiging om homself af te sloof vir goedkoop plaasvervangers vir wysheid.

Daar is niks daarmee verkeerd om hard te wek nie. In teendeel, ons het reg aan die begin opdrag gekry om God se aarde te bewerk. Tog het God ons nooit ‘n mandaat gegee wat gesê het dat ons opdrag om die aarde te bewerk belangriker is as die Een wat oorspronklik die opdrag gegee het nie.

Die Here het my geseën met die geleentheid om weer ‘n eenvoudige kalm lewe te kan lei. Hiermee bedoel ek nie dat ek op die bank sit en vir die voëltjies staar nie, NEE ek is baie besig om my kinders te onderrig, maar die Here was genadig genoeg om daardie gejaagdheid uit ons lewens te verwyder, ons het tyd om ons dag saam met Hom te begin en te eindig. Genadiglik maak Hy dit ook vir my moontlik om ‘n goeie gedeelte van my middag op Sy skoot te spandeer.

Soms as ek met mensies buite ons gesin struktuur praat voel ek skuldig omdat dit so kalm hier by ons gaan en so dol by hulle. Almal is so opsoek na die regte lewens filosofie, die regte motivering, die regte balans. As ek weer Job 28 lees dan kom ek agter dat daar nie ‘n perfekte resep is nie, daar is nie ‘n formule wat ons kan volg nie, nee ons kan net ons rus en kalmte by ons Hemelse Vader gaan soek. Ons kan maar net ons besige dagboeke vir hom gee en vra dat Hy ons skedule vir ons moet begin organiseer.

Ek wil graag hierdie seen wens oor elkeen wat dit lees uitspreek, mag ons God genadig genoeg wees dat hierdie seen wens ‘n werklikheid in jou lewe sal wees:

“Mag ons God, wat alleen die pad na Wysheid ken, jou padkaart word. My Hy jou die woonplek van Wysheid wys en mag Hy vir jou insig gee.

Ons God het die krag van die wind bepaal en die waters uitgemeet, Hy het die reëls vir die reën gemaak en vir die weerlig die pad aangewys. Al hierdie natuurlike elemente hou soos klokslag al vir millennia by hulle skedule, mag jy ook daarom begin om Hom ten volle met jou skedule te vertrou.

Mag Hy vir jou genoeg tyd gee om Sy Woord te bestudeer, want Sy Woord is die lamp vir ons voete. Mag Hy vir jou genoeg tyd gee om in Sy arms te lê en in Sy oë te kyk terwyl jy Hom prys. Mag jy vandag tot stilstand kom en ophou om met so min tyd saam met jou God tevrede te wees.
Amen.”

Spesifieke Seën Wense – 2 September 2009

Vir Chantal: Die Here het jou gehoor, jy wat na Sy hulp smag. Hy is besig om na jou toe af te buig want Hy het jou hulpgeroep gehoor. Mag jy jou hand nou uitsteek, Hy wil jou uittrek uit die put van die dood. Mag jy jouself oopstel want Hy wil die slymerige modder van jou wit rokkie en jou mooi gesiggie af was, Hy wil jou weer op Sy rots laat staan. Mag jy begin sing met die nuwe lied wat Hy in jou mond gelê het, ‘n nuwe loflied vir Hom alleen. Mag dit met jou goed gaan omdat jy op Hom alleen vertrou.”

Vir my eie gesin:  “God het in ons lewens verskyn en mag ons vyande daarom uitmekaar spat, mag hulle op die vlug slaan, soos rook wegwaai. Mag God ons struikelblokke met Sy vuur smelt. Mag ons ewiglik in vrede voor die Here verskyn. Mag vrede in ons harte en geeste heers. Mag ons ewiglik so na aan Hom wandel, voor Hom buig, vrolik sy Lof besing.

Mag ons ‘n lied tot eer van ons God wat op die wolke ry sing, Hy is die Vader van die weeskinders, Hy vertroos die hart van weeskinders en hy het die eer van die weduwee herstel, Hy laat ons elke aan ons koppe neerlee in Sy woning. Mag Hy ons deur hierdie laaste stukkie woestyn lei!”

Seën Wense vir 1 September 2009

In seën wense on September 1, 2009 at 14:44

Op hierdie pragtige dag wat die begin van die lente vir ons aan kondig wil ek jou seën met die bevryding en redding van die Here!

Mag die Here by jou kom lê soos ‘n leeu, ‘n maanhaar, by sy prooi lê en grom. Mag niks jou verwyder van die beskerming van die Here nie.

Mag die Here soos ‘n beskermende voël rondom jou, wat snoesig in Sy nes lê, sweef. Die Here die Almagtige sal jou skuld wees. Mag Hy jou red en bevry.

Mag jy jou bekeer, sodat jy nie van Hom verwyder sal word nie. Mag jy jou afgode laat staan sodat die Here jou rots kan wees, sodat jy by Hom kan gaan skuil.

Mag die vuur van jou lewens altaar hoog brand ter ere van ons God en Vader.
Amen!
(Psalm 31)

Vir soveel van ons is lente ook simbolies van ‘ nuwe begin, daar waar die winter dood gesaai het, is daar weer tekens van lewe, en daarom wil ek ook graag hierdie lied wat Piet Smit sing graag vandag as my gebed met julle deel:

Self Ondersoek (Piet Smit)
Hemel Vader kyk na my, kyk ek sit hier by U voete! Ek wil so graag vannaand net alleen by U wees. Elke keer as ek stil word en op kyk in U oë, sien ek myself in die spieël van U Gees.

Vader vul my met U krag en U genade, want Heer ek sien ‘n dof, verwronge beeld. Help my om my lewe en myself so oop te breek dat ek tot diep binne in myself kan kyk. Help my in genade weer skoon en heel te word. Here help my asseblief om meer soos Jesus te lyk.

Hemel Vader kyk na my, kyk ek kniel hier by U voete! Ek wil my hele lewe en myself voor U kom lê. Elke keer as ek stil word en op kyk in U oë, dan wonder ek, is ek regtig soos U my wil hê.

Vader vul my met U krag en U genade, want Heer ek sien ‘n dof, verwronge beeld. Help my in my soeke om die ware ek te ken, gee dat ek myself deur U oë sal kan sien. Help my in genade om weer nederig te word. Here help my asseblief om U weer opreg te dien. Dat die hele wêreld U beeld in my sal sien.

Spesifieke Seën Wense – 1 September 2009

Oom Basie en Tannie Lina: Die seën van die Here word reeds deur die groei van julle besigheid geïllustreer. Elke nuwe kliënt word persoonlik deur die Here gestuur, elke sent is ‘n genade gawe uit Sy hand. Die sprinkane wat julle beloftes wil kom op eet het ook hulle te voorskyn begin maak en daarom voel ek dat die Gees my lei om hierdie seën wens hier onder oor julle uit te spreek.

Mamma en Pappa: Die uitkoms vir julle pyn en leiding is naby. Die Here het nie van julle vergeet nie. Ek weet die pad stamp en stoot, maar ek weet ook dat die Here julle dra. Hierdie seën wens is ook vir julle.

“Mag die vuur van God die stoppels in julle pad verteer, mag al die struikelblokke wat in julle pad kom staan het, soos hooi in flame opgaan. Mag die wat in julle pad wil staan, wortel en tak uit geroei word. Mag daar niemand in die pad van die openbaringe wat die Almagtige oor julle lewens gespreek het, kom staan nie. Amen.” (Jesaja 5:24)

Vir my eie gesin: Ons staan weer voor die Jordaan Rivier, ons nuutste deurbraak, ons volgende beloofde land lê net hier voor ons. Die deurbraak waarvoor ons so hard bid is op die horison, en daarom wil ek ook hierdie seën wens oor ons as gesin uitspreek:

“Mag die vuur van God die stoppels in ons pad verteer, mag al die struikelblokke wat in ons pad kom staan het, soos hooi in flame opgaan. Mag die wat in ons pad wil staan, wortel en tak uit geroei word. Mag daar niemand in die pad van die openbaringe wat die Almagtige oor ons lewens gespreek het, kom staan nie. (Jesaja 5:24)

Mag die vrede waarmee die Here ons geseën het blywend wees. Mag daar ‘n kalmte in ons siele wees, mag ons rustig wees al voel dit of ons boodjie partykeer biedjie water skep. Amen.”

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.