Liza Welsh

Posts Tagged ‘pyn seer’

stukkie vir stukkie

In kort verhale on November 19, 2009 at 17:21

Die wind sny deur murg en been en die verlatenheid spook by Sarah… op enige ander dag sou die skoonheid van die hoë berge die manier waarop die lug en die sneeu op die horison saam smelt haar hart geroer het… maar nie vandag nie!

Hoe het dit gebeur dat hulle so verlate in die middel van hierdie ys wildernis beland het. Dit was slegs ure van te vore wat hulle en die kinders nog by die vliegtuig se venster uitgestaar het na die wit stukkies dons wolke wat verby hulle gesweef het nie. Sy hoor nog hulle aanhoudende gegiggel en die aansteeklikheid van hulle opgewondenheid.

En nou veg haar hele gesin vir hulle lewe… hoe gaan hulle oorleef in hierdie God verlate plek? Hulle was so amper daar, so naby aan hulle eind bestemming, en nou sit hulle gestrand teen die hang van hierdie sneeu bedekte berg.

Hoe gaan sy haar kinders warm hou? Wat gaan hulle maak… en waar bly Jason so lank? Hy het kastig in die wrak gaan rond krap om te kyk of hy nie dalk ‘n plan kan maak om hulle te red nie… dis nou gerieflik… hy speel MacGyver en sy moet die kinders warm hou… dink sy ewe selfsugtig en verwytend.

Jason kom te voorskyn met ‘n rubber bootjie… wat hy daarmee beplan weet Sarah nie, al wat sy weet is dat hulle tot bo op daardie berg, daar die hotel veronderstel is om te wees, skyn moet kom voordat dit donker word en voor hulle kinders verkluim.

Versigtig sit Jason die kinders een vir een in die rubber bootjie wat Hy met soveel moeite op geblaas het. Die koue lug het sy longe so seer gebrand en hy moes hard werk om die pyn van sy gebreekte ribbebeen vir Sarah weg te steek – die laaste ding waaroor sy haar nou moet bekommer is hy… dis belangriker dat sy op die kinders en haarself fokus.

Nadat hulle die kinders warm toegevou het met die komberse en klere en lappe wat hulle in die vliegtuig kon kry, maak Jason ‘n tou aan die voorste hak van die bootjie vas… so begin hulle die moeilike tog teen die steilte van die berg uit. Hulle kan lankal nie meer hulle tone of hulle neuse voel nie en dit voel of hulle maar stadig vorder.

Vir Jason voel dit kompleet of hierdie berg hoër word by die minuut en ewe skielik is daar vreeslike swaar gewigte om sy voete vas gebind… of dalk is dit net sy moet wat in sy skoene gaan sit het. Dan begin hy dink aan die kosbare inhoud van die bootjie wat hy sleep. Die kinders doen hulle bes om stil te lê en te luister. Hy raak skoon angstig en benoud as hy dink aan die onvoorwaardelike manier waarop hulle op hom vertrou om hulle lewens te red… hulle vertrou hom meer as wat hy homself vertrou of self wat Sarah hom vertrou.

Daar is tye wat Sarah net nie meer kan nie, sy wil in mekaar sak, maar sy bly vorentoe beur… elke keer wat haar kragte wil ingee kyk sy na die vas beslote uitdrukking op Jason se gesig en dan weet sy dat sy hom nie kan teleur stel nie… sy mag nie… sy wil nie hê dat hy moet dink dat sy swakker is as hy nie… dit is die een ding wat sy haar lank al voor geneem het, nooit ooit weer sal sy op iemand anders aangewese wees nie, nooit ooit weer sal haar oorlewing van iemand anders af hang nie… sy sal vir altyd in beheer van haar lewe bly…

Teen die tyd wat Sarah weer wakker word bevind sy haarself binne in die reddings bootjie, saam met die kinders, sag kuns en knus toegevou. Voor haar sien sy hoe Jason voortbeur… sy moes flou geword het… hoe kon sy so swak wees, hoe kon sy haarself so teleurstel?

Sy roep na hom en met eens is daar ‘n sagtheid in sy oë, en ‘n klein glimlaggie van verligting, dat sy weer wakker geword het, speel om sy mondhoeke… sy sukkel om te verstaan hoekom daar soveel meer respek, liefde en sagtheid in sy oë is veral nou nadat hy haar ook nog moes versorg… vanoggend het hulle twee nog so vreeslik vasgesit en sy het gedink dat sy nooit weer hierdie liefdevolle blik in sy oê sal sien nie….

Hy stop vir ‘n oomblik, sy klim uit en spontaan omhels hulle mekaar… “Ek was so vreeslik bekommerd oor jou,” sê Jason. “Maar aan die anderkant was dit goed om te sien dat jy ook maar net ‘n mens is… ek het begin dink dat jy van yster en klip en maak is.”

Sy woorde sny soos ‘n mes deur haar hart… hoe kan die man vir wie sy so innig lief is, dink dat sy van yster en klip gemaak is, wat se prentjie het sy dan van haarself vir hom geskets?

Dis in stilte wat hulle nog vêrder loop… elkeen besig met sy eie gedagtes, maar tog is die stilte nie ongemaklik nie, daar is vir die eerste keer in maande weer ‘n gemaklikheid, ‘n intimiteit tussen hulle – iets waarna hulle albei so vreeslik verlang het…

Sarah was nog so besig met haar eie gedagtes toe Jason sieklik hier langs haar in een stort… die pyn het hom uiteindelik oorweldig…. Hy moet rus, sy liggaam is moeg en afgetakel, hy moet eers rus.

Sarah gaan sit langs hom in die sneeu. Agter hulle is die vliegtuig wrak…. Voor hulle lyk dit of daardie plekkie waarvoor hulle mik net nie wil nader kom nie… hulle moed is weereens in hulle skoene… en dis Jason wat heel eerste die moed het om hardop te sê wat hulle albei eintlik dink:

“Dis hopeloos, dit voel of ons nêrens kom nie, Sarah. Het ons die regte ding gedoen, moes ons maar nie eerder gebly het daar waar ons was nie… was die wrak wat ons agtergelaat het nie beter as hierdie wildernis nie? Hoe weet ons dat die hotel regtig daarbo op hierdie berg top is?”

Uit desperaatheid en uit moedeloosheid, begin Sarah ‘n gebed prewel… tot vandag toe kan sy nie regtig onthou wat sy presies gebid het nie… maar toe sy opkyk staan daar ‘n klein bokkie voor hulle. Dit lyk kompleet of die bokkie hulle uitnooi om haar te volg. Sonder of vêrder ‘n woord vir mekaar te sê staan Jason en Sarah op en elkeen neem ‘n stukkie tou. Saam trek hulle die bootjie met hulle kosbare kinders al agter die bokkie aan.

So spring die bokkie die berg paadjie voor hulle uit. Elke nou en dan stop die bokkie, kompleet asof om die twee van hulle kans te gee om te rus… en dan gaan hulle weer vêrder, vêrder en vêrder weg van die wrak… nader en nader aan die plekkie waarvoor hulle mik daar bo op die berg, die plekkie wat hulle nog steeds nie met ‘n oog gesien het nie.

Maar nie Jason of Sarah fokus is meer bo op die berg nie, nee hulle volg net hierdie bokkie en haar spoortjies. Hierdie kleine, weerlose bokkie wat so getrou voor hulle uit gaan. Hierdie onwaarskynlike redder wat in hulle lewens ingehuppel het.

Dit was eers toe hulle begin agter kom dat die steilte begin afplat dat hulle weer op kyk en daar voor hulle in die skemer lig staan die silhouette van hulle eind bestemming… die bokkie het hulle stukkie vir stukkie, spoortjie vir spoortjie, tree vir tree na hulle eind bestemming, na ‘n veilige plek gelei…

Verskoning opreg, geïgnoreer en verseg

In Koffietyd on September 15, 2009 at 21:42

Jy spook by my
Jy jaag my
Oortredings onbekend
Verduidelikings ongekend

Jy spook by my
Jy jaag my
antwoorde ontbreek
vriendskap bleek

Jy spook by my
Jy jaag my
verskonings opreg
geïgnoreer, verseg.

Share
Email

Gideon – Deel 1

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes on Augustus 24, 2009 at 13:03

Teks: Rigter 6: 1- 10

Die Ou Testament lê besaai met karakters waarvan ons as kinders in die Sondagskool geleer het, of dalk as Sondagskool Onnies vir die kinders geleer het. Maar dit spyt my om te sê dat my “Hoor en Doen” boekie nie eintlik net die hulp bron was wat dit veronderstel was om te wees nie, nee dit het vir ‘n groot deel van my Sondagskool loopbaan die woord van God vervang. So het ek en ek glo baie kinders verhale soos die van Gideon in ‘n afgewaterde formaat gekry, en so het ons nie regtig kon sien wat se waarhede in hierdie verhale opgesluit lê nie.

Rigters 6 skop af deur vir ons die groot prentjie van Gideon se omstandighede te skets. Die Isrealiete het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, en hulle was vir sewe jaar in die mag van die Midianiete.

Vir ons om ten volle te verstaan wat dit beteken kan ons dalkies net na ons eie geskiedenis kyk, selfs na ons hede. Daar is nie ‘n bevolkings groep in Suid Afrika wat nie die gevoel van frustrasie, onreg en vernedering wat van onderdrukking kom, nie verstaan nie.

Bolangs is ons dalk nou as nasie in Josef se reënboog kleed geklee, ‘n reënboog nasie verenig, maar onderlangs bly die ou skeidings mure tog al te gereël regop staan. Die geringste geleentheid word gebruik om mense wat anders as ons is te probeer onderdruk, half amper te verteer sodat ons kan plek maak vir nog mensies wat soos ons dink en doen.

Die Israeliete is op hierdie selfde manier deur die Midianiete verdruk. Die skrif sê dat die Israeliete in grotte en naby bergstroompies gaan woon het. Hulle het in onherbergsame dele gaan wegkruip. As ons dus mooi daaroor dink is hulle nie net an hulle tuistes, hulle huise weggedryf nie, maar hulle is geforseer om in ongemaklike en gevaarlike plekke hulle nuwe tuiste te gaan maak. Hulle is bloot eenvoudig verplaas soos mens ‘n ongewende objek sou verplaas.

Die skrif vertel ook hoe hulle oeste vernietig is en hulle vee dood gemaak is. Weereens kan ons hiermee identifiseer, die huidige ekonomiese klimaat laat ons ook voel of ons reg om ‘n voortbestaan vir ons self en ons kinders te bewerkstellig word aangeval, ons word van ons inkomste ontneem.

Die Midianiete word ook in vers 5 as sprinkane beskryf. Verwysings na spriknae in die skrif gaaan gewoonlik gepaard met die iets of iemand wat God se mense van Sy beloftes beloof. Die sprinkane kom eet gewoonlik die mense se beloftes op. Maar vers 7 sê ook dat die Here die Isrelaiete geroep het om teen hierdie verdrukking op te staan.

So roep die Here ons ook elke dag om eerder ons sprinkane op te eet soos Johannes die Doper gedoen het.
• Maar hoe eet ek my sprinkane?
• Hoe veg ek teen die goed in my lewe wat my so ontstel en my vreugde steel?
• Hoe veg ek teen my werkloosheid, my skuld, die dood van my ouer, my kind of my lewensmaat?
• Hoe kan ek, wat nie eers meer in die oggend my oë wil oop maak nie, ek wat alles deur my egskeiding verloor het, hoe moet ek opstaan en veg?

Self het ek hierdie vrae in April van hierdie jaar (2009) gevra. My lewe was aan skerwe, my lewensmaat en een van ons kinders het uitgetrek, ons paaie was op pad om finaal te skei. My ouers was sonder ‘n heenkome, en ons almal was sonder vaste werk. Die grootste slag was die dood van my jongste broer op die jong ouderdom van 19.

Die krag wat ek fisies nodig gehad het om op te staan daar waar ek inmekaar gesak het nadat my ma my van my broer se dood vertel het, het my ontbreek. Die pyn en die hartseer het my oorweldig, die krag om te skreeu en hardop te huil was nie eers daar nie. Daar waar ek op ‘n hopie gesit het was ek eensaam, hopeloos, swak en alleen.

Tog kan ek vandag met oorgawe getuig dat daar hoop is! Vers 8 van Rigters 6 vertel vir ons van die profeet wat God na die Israeliete toe gestuur het. Die profeet het hulle herinner aan die wonderdade wat God al vir hulle verrig het, hy jet ook rekenskap van hulle gevra oor hulle aksies, hy het hulle herinner dat hulle nie na God geluister het nie.

Daar is ook sulke profete in ons lewens, ons skel hulle so maklik uit, ons word so maklik kwaad vir hulle omdat hulle nie altyd sê wat ons wil hoor nie. Wie wil nou dankbaar wees as jy jou laaste salaris tjek moet gaan bank en jy weet voor jou siel dat daar nie nog een gaan wees nie. Wie kan nou dankbaar wees oor enige iets as jy jou lewensmaat gevang het toe hy / sy ontrou was aan jou, of jy dalk ontrou was en dit nou berou?
Maar die vreemde ding van dankbaarheid is dit, dankbaarheid kweek meer dankbaarheid. Dankbaarheid verag jou hart en maak die grond vrugbaar sodat dit weer goeie grond kan word en weer lewe kan voort bring.

Maak ‘n lys van al die kere wat God jou al gedra het, maak ook ‘n lys van al die goeie en positiewe goed in jou lewe. As jou lys nie te lank is nie, moet jouself nie bekommer nie, en moet nie op die as hoop van die lewe gaan sit en huil nie, gaan eerder met ‘n oop gemoed na jou God en begin hom prys vir die goedjies op jou lys. Prys hom met jou hele hart, met jou laaste bietjie krag, prays Hom met alles wat jy is.
Prys die Here elke dag, voor jy begin vra vir dit wat jy vandag nodig het, spoedig sal jy sien hoe jou lysie al hoe langer word, jy sal jou kan verheug oor die groen plantjies wat hulle koppe hier rondom jou in die woestyn uit steek. Die Here van hemel en aarde sal weer lewe in jou dorre woestyn bring…

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.