Liza Welsh

Posts Tagged ‘oordeel’

Hou jou Kastaiings uit die Vuur Deel 1 – Proudly a Woman?

In Hou jou kastaiings uit die Vuur on September 16, 2009 at 14:50

Ons is almal deesdae proudly South African, maar is jy proudly Woman? Is jou trots op jou vroulikheid of probeer jy dit verberg omdat jy voel dat dit in jou pad na sukses staan?
In Julie verlede jaar het ek op God se opdrag uit die korporatiewe mark gestap. Die rede vir my onttrekking was dat die vereistes van my beroep tussen my en God begin staan het. Tog is dit nou eers dat ek besef het hoog die muur was wat ek tussen myself en my God gebou het.

Ek sal nooit die dag vergeet nie, dit was ‘n Woensdag oggend… ek was oppad werk toe en ek het toevallig die radio aangeskakel, deur die gebroke sein was die enigste woorde wat ek gehoor het was: “hou op met die verkeerde dinge wat jy doen!” Dadelik het ek soos ‘n stout kind besef dat ek nie langer kon weghardloop van die stem van die Heilige Gees nie, ek kon nie langer die spanning wat ek op myself geplaas het deur my gewete te ignoreer verdra nie. Die spanning het my fisies siek begin maak, die Here het ‘n stop teken by my kruis pad kom oprig en dit was tyd om op te hou om myself te sus met die prentjie van God wat ek teen die muur wat tussen my God gestaan opgeplak het. Ek moes weer by God uitkom!

Die grootste fout wat ek tussen Julie verlede jaar en April vanjaar gemaak het was dat ek my eie plan van aksie vir God se droom wou volg. Ek was nie regtig geïnteresseerd in God se plan nie, ek het geglo dat ek met my eie verstand God se weg sou kon vind. Hierdie is die grootste leun wat Satan my nog my hele lewe lank gevoer het, die puin hoop wat my lewe vroeër vanjaar wag het getuig van die krag van hierdie leun en as ek enige iemand die pyn en leiding wat ek en my gesin deurgemaak het kan spaar sal ek my storie oor en oor vertel, al wil my trotse mense vlees nie altyd erken watter ompad ek gevat het nie.
Dit was eers op ‘n vroue kamp aan die einde van Mei maand wat ek regtig besef het wat God al verlede jaar vir my wou sê. God wou kom en my identiteit as vrou, wat ek so gewilliglik in die korporatiewe mark opgegee het aan my terug gee.

Die probleem met die klimaat van ons korporatiewe mark tans word so mooi deur die top verkoper boek “Good Girls don’t get the Corner Office” uitgebeeld. Dit is weereens die grootste leun wat die duiwel aan mans en vrouens tesame in die korporatiewe mark verkoop het. Vroulikheid, ons God gegewe identiteit word as ‘n swakheid beskou. Tog besef ons nie die impak van ons aksies en die gevolge van die feit dat dood en droogte volg wanneer ‘n vrou uit haar oorspronklike posisie in God se skepping geforseer word nie.
Die Here ons God het die vrou gemaak om lewe te gee. (Genesis 3:20) Dit is ons primêre taak as vrou. In Genesis 3 lees ons ook dat die vrou gemaak is as haar man se helper. In die besigheids wêreld moet vrouens en mans dus sy aan sy kan werk om mekaar te komplimenteer eerder as om mekaar te veroordeel oor ons unieke eienskappe en mekaar so te probeer regeer.

Ek stem saam dat in die huwelik en gesin struktuur dat die man die hoof van die huis te wees, omdat God hom so aangestel het en ja daarom uit gehoorsaamheid aan die woord van ons God moet ons aan ons mans onderdanig wees, maar ons as vrouens moet ook die spasie gegun word om in ons eie skeppings doel op te staan en in ons gekose posisie in te beweeg.

Kom ons kyk maar na die lande in die midde ooste, waar die vrou gruwelik, buite God se opdrag onderdruk word. Daardie lande word gekenmerk deur ‘n dorre landskap en woestynagtige landskappe. Dood en ellende word geassosieer met hierdie lande en dit wys ons duidelik op die feit dat daar dood volg waar die vrou uit haar posisie geforseer word.

Ons kan dan ook dan ‘n parallel tussen hierdie lande en die egskeidings syfer wat ‘n mens so aan die keel kom gryp en kom bewus maak van die feit dat daar êrens iets baie verkeerd geloop het met die fondasie van ons samelewing. Die huwelik en die gesin is Goddelike instellings wat veronderstel is om die fondasie vir ons samelewing te vorm. Die gesin is die plek waar ons respek en liefde en gehoorsaamheid en ons waardes leer. Dit is die plek waar ons moet veilig voel en waar ons kan kom rus vind.

Tog wat tans gebeur is dat beide ouers werk en omdat daar van ‘n vrou verwag word om haar vroulikheid prys te gee in haar werksituasie gebeur dit so gereël dat sy dan ook haar vroulikheid binne in haar huwelik en haar gesinstruktuur ook opgee. So baie keer veroorsaak hierdie afwesigheid van vroulikheid ‘n magstryd tussen ouers wat op die ou end tot die ondergang van hulle huwelik lei. Moederlike kwaliteite soos geduld en liefde en aanvaarding bly ook telkens in die slag wat weer ‘n vêrdere negatiewe impak op ons kinders het.

Ons dogters word groot met ‘n verwronge beeld van vrou en ma wees en dit dompel hulle net vêrder in ‘n identiteitskrisis. Ons kweek onrealistiese verwagtinge in ons seuns oor hulle eie rol en die rol van hulle vrouens en die feit dat ons soos viswywe tekere gaan help ook glad nie om respek vir die teenoorgestelde geslag in ons kinders te kweek nie. OP hierdie manier lei ons eintlik maar net ons kinders vêrder en vêrder weg van hulle skeppings doel en hulle posisie.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, ek wil glad nie probeer sê dat Mamma by die huis moet bly en as slaaf agter haar man en kinders loop en optel nie. Ek wil ook glad nie insinueer dat vrouens nie in die markplein hoort nie. Ek is self ‘n dame wat daarvan hou om my eie inkomste te verdien en myself buite my gesinstruktuur met ander aktiwiteite uit te leef en so my talente te ontwikkel. Ek dink dit is baie nodig dat ‘n vrou ook in sirkels buite haar gesin beweeg sodat sy juis haar Godgegewe talente en gawes tot Sy eer kan gebruik.

Wat ek wel probeer deel is dat die vrou weer by God moet gaan hoor wat Sy plan vir haar lewe is. Die kollektiewe plan kan ‘n mens dwars deur die Woord van die Here gaan na vors en ek gaan my bes probeer om dit te verduidelik, maar ons moet ook by God gaan hoor hoe Hy elkeen van ons aanmekaar gesit het. Jy het ‘n persoonlikheid en sterk punte wat perfek by jou pas en wat jou gaan toelaat om jou skeppings doel te verrig. Ons moet elkeen weer by ons Pa se voete gaan sit en hom gaan vra om ons identiteit soos Hy voor die grondlegging van die aarde daaroor gedroom het vir ons oop te breek.

Hierdie selfde waarhede geld vir manne in ons lewens. Net soos ons nie van hulle kan verwag om hulle manlikheid prys te gee omdat dit vir ons gemakliker is as om hulle manlikheid te verstaan nie. Elke man moet ook sy identiteit in God dwars deur die Bybel gaan navors om so sy kollektiewe identiteit as man te ontdek, en hy moet ook by sy skepper se voete gaan sit en vir hom gaan vra wie en wat God hom geskape het om te wees.

As ouers is dit ons verantwoordelikheid om ook ons kinders so groot te maak dat hulle elkeen hulle kollektiewe identeit en hulle individuele identiteite te verstaan en aantegryp en hulle self op hierdie manier uit teleef.

Share
Email

Gideon – Deel 10

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes on September 8, 2009 at 13:49

Teks Rigters 8: 4 – 35

Die finale gedeelte van Gideon se storie is vol waarskuwings. Op die oog af lyk dit maar na bietjie nuttelose geskiedenis, maar ons het ook mos al geleer dat niks verniet in ons Pa se woord opgeskryf staan nie.

Die goeie stryd, die geveg wat ons daagliks vir die Here veg is maar ook ‘n alleen geveg. Daar is ‘n ou gesegde wat sê “When times are dark, friends are few.” Ek wil dit nogal bietjie aanpas om eerder by die intieme verhouding wat ons met ons God het, in te pas: “When we fight the darkness with all our might, friends are few.”

Ons lees dat Gideon en sy manne moeg was na hulle stryd, maar dat hulle steeds volhard het om die leiers van die Midianiete te agtervolg. Ons lees ook van al die mense by wie hulle aangeklop het om hulp, en hoe daar van hulle en hulle taak ‘n bespotting gemaak is.
Daar is tye wat ons in Gideon se skoene staan, hier waar ons gesin tans staan en dan kom mens agter hoeveel mense wat hierdie pad saam met jou begin stap het, uitgesak het. Jy kom agter hoe mense agter jou rug vir jou geloof lag en jy kom agter hoekom die Here jou span so selektief gekies het.

Partykeer is ons die mense by wie mede stryders aanklop vir hulp, daar is so baie keer wat ons so skepties is en ons ore vol wêreldse klei is sodat ons nie kan hoor wanneer die Here vra dat ons Sy manskappe moet versorg nie. Dit gebeur so maklik dat ons geduld en ons genade op is en dat ons medelye vir ‘n ander nêrens te vinde is nie.

Ons lees dat nadat Gideon sy taak vir die Here voltooi het, dat hy gaan wraak neem het op die wat van hom en sy leer ‘n bespotting gemaak het. Ons lees ook dat hy aan die Israeliete verkondig het dat hy nie oor hulle kan heers nie, juis omdat slegs God oor hulle heers. Tog in die amper die selfde asem lees ons van die buit wat hy bymekaar gemaak het vir ‘n afgod beeld.

Die groot waarskuwings van hierdie gedeelte lê vir my in hierdie laaste gedeelte. Vir die van ons wat in Gideon se bootjie is wil ek dit op ons harte druk om nie arrogant te raak oor God se goedheid en Sy beskerming nie. Ons kan nie van die Here vergeet en weer terug hardloop na ons afgode toe sodra die Here ons klaar gehelp het nie. Ons kan en mag nie die Here soos ‘n ou stukkende stoflap wat klaar sy werk gedoen het behandel nie, nee ons moet nie terug sak nie, nooit moet ons gemaklik raak as die Here goed vir ons sorg nie, ons moet steeds bly waak, steeds bly stry en steeds aanhou om ons Hemelse Bruidegom se Bruid voor te berei.

Vir die van ons wat God se Gideons in ons lewens tee kom wil ek ook waarsku. Moet nie op God se stryders, veral die wat die waarheid bring neer kyk nie. Jy gaan dalk nie hou van die waarhede wat uit hulle mond kom nie, maar God gebruik immer Sy stryders as Sy swaard, hulle is die skepr pyle wat uit Sy pyle koker kom.

Moet nie trap op daardie delikate veldblom wat God eintlik as vertrooster op jou pad gebring het nie. Hulle geduld en liefde en eerlikheid is nie ‘n swakheid nie. Wees versigtig hoe jy met ander omgaan, wees versigtig hoe jy handel.

Miga 2 maak dit duidelik dat God names Sy stryders wat onderdruk word sal optree.
“Ellende wag vir hulle wat rampe teen ander beplan, wat op die bed lê en dink aan kwaad om te doen, wat dit vroeg in die more gaan uitvoer omdat hulle mag in hulle hande het. Hulle begeer ‘n stuk grond en vat dit, huise en lê beslag daarop. Hulle kul ‘n ‘n man uit sy huis uit . Daarom sê die Here: Ek beplan ‘n ramp teen hierdie mense, hulle sal nie meer regop kan loop nie, want dit sal ‘n tyd van swaarkry wees.”

In watter kamp val jy? As God jou nou as ‘n Gideon gebruik, gaan jy ook na die stryd gemaklik raak en van jou God vergeet, of is jou ‘n bittereinder? En as jy van die is waar die Gideons van die lewe moet kom aan klop, hoe gaan jy hulle ontvang? Hoe lyk jou liefdes tenk, is hy vol genoeg om oor te loop en die honger stryders te voed?

Affrontasie, Irritasie en Konsternasie!

In Koffietyd on Augustus 5, 2009 at 10:45

(3 Augustus)

Die Son kom op en die termometer se kwik daal soos die goue strale na bo skiet. So sag kuns het U my wakker gemaak, met ‘n glimlag van pure, Goddelike blydskap en geluk wat om my mondhoeke speel.

Dit is koffietyd het U gesê. Lig jou kop vanaf die kussing voor my altaar, gaan maak ‘n koffietjies, en voor die besige dag begin, kom gesels met My. Nou hier sit ek, O wonderbaarlike God, honger vir U Woord, gretig om meer van my God te leer, so opgewonde om hierdie asemrowende pad saam met U te stap…

Vanoggend kom praat U weer met my uit Spreuke 20… ‘9Wie kan sê “Ek is rein, ek is onskuldig, sonder sonde?” 10Die Here het ‘n afsku vir mate en gewigte wat nou sus en dan so is.’

Affrontasie, Irritasie en Konsternasie!

Die hammer van ons eie geregtigheid slaan so gemaklik oor ons medemens
Ons vooroordeel. Beoordeel. Veroordeel.
Ons gees konfronteer soms iets in ‘n ander se gees,
maar dan is ons harte harde klip, sonder verstaan -
is ook sommer dan geaffronteer. Geïrriteer. En nie meer in Beheer!

Wie is rein, 100%?
Wie is sonder skuld, 100%?
Wie staan perfek sonder skaamte, 100% naak voor my Heer?
Laat hy wat dan so staan Vooroordeel, beoordeel en veroordeel!
Laat hy dan sy asem mors op affrontasie, irritasie en konsternasie!!

Maak eerder die waters van U liefde wat deur my vloei dieper vandag!
Druk water uit ‘n klip my God
Versag, Verander, Verfraai, Verryk dan eerder so my hart!
Maak my hart ander se seer en se komplekse ontwerp verstaan,
Knoop dan aan my oor meegevoel, medelye en meer-geduld-as-ooit-tevore.

Lat my sus en so die selfde bly.
Laat U ja , my ja wees en my ja bly!
Laat U nee, my nee wees en my nee bly!

Verhoed so ook op hierdie dag my God: affrontasie
wat pad aanwys vir irritasie
wat net ly tot konsternasie!

Oorstroom my dan op hierdie dag my God met meegevoel
wat die pad kan aanwys vir my en ander om lief-te-voel en heel-te-voel,
wat net kan lei tot ‘n hoogte waar ons U teenwoordigheid kan aanvoel.

Amen.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.