Liza Welsh

Posts Tagged ‘nuwe krag’

This morning is a beautiful new morning!

In Gebede on November 3, 2009 at 14:59

Lieste Pappa

“ This morning is a beautiful new morning!” Met hierdie woorde en ‘n goue skynsel oor die gras teen die koppie hier agter die huis het U my gegroet, toe ek net so voor ses uur die radio aansit… die glimlag wat op daardie oomblik om my mond hoeke gespeel het, het nog net breër en breër geword vandag.

Pappa vanaf die sesde uur van vandag af hou U genade gawes net nie op nie… vir die vierde keer in een week seën U my met die selfde belofte en ook waarskuwing wat U vir Salomo in 2 Kronieke 8 oor die tempel gegee het.

En vir die soveelste keer bevestig U dat ek my drome reg verstaan: U is waarlik besig om ons stukkie grond, hierdie grond aan U gewei, U tempel, te seën. Ons is op die regte pad, U is ons God, daar is niemand anders in ons harte nie, op niemand anders vestig ons, ons hoop nie – en stadig maar seker is U besig om ons vir ons deursettings vermoë te beloon.

Die dag het aangegaan… maar so tussen Wiskunde somme en Engelse Grammar luister ek na Tom en Estie wat gesels oor hoe ons die Bybel, die Lewende, Geïnspireerde Woord van ons God behoort te lees en weer hiermee raak U aan my tot op die murg van elkeen van my bene.
Oor en oor gee U vir my die gedeelte uit Psalm 119 vanaf vers 97 – 108 en weer bevestig U vir my dat dit waarlik U Gees is wat my lei as Ek U woord lees, U het my oë oopgemaak, my geseën met die vermoë om U woord reg te verstaan.

U rig my op om aan te gaan met die taak wat U voor my gestel het… U kom maak vir U atleet ‘n protein shake om haar kragte op te bou en U kom klee U stryder in ‘n spink splinter nuwe wapen rusting. U kom sluit krag en geduld en liefde in my hart oop, wat voorheen vir my verberg gelê het.

Maar Pappa dis mos maar hoe dit gaan. Nes ons dink ons kan nie meer liefde bewys nie, nog meer nederig wees nie, nog meer geduldig wees nie, sodra ons dink dat ons nie nog nader aan U kan beweeg nie, dan trek U ons nog nader aan U bors en vou U, U groot sterk arms nog stywer om ons vas en dan versier U ons gesiggies met nog sagter, meer liefdevolle skoenlapper soentjies tot ons straal van U liefde en U glorie.

En dan hou die dinge ook nie daar op nie. Pappa onthou U toe ek gister aan vir my Skottie gesê het dat ek tog moet onthou om vir my vriendin te vra of sy dalk vir my daardie hoedjie vir Miachlan sal hekel, daardie een wat soos ‘n Liewenheersbesie lyk…. En vanoggend terwyl ek en Connel werk aan sy klanke gesels Soekie en haar ateljee gas en een van die goedjies wat die ateljee gas noem is oor die twee soorte liewenheersbesies. Daar is die oorspronklike, inheemse Liewenheersbesie wat al die plae vernietig, en dan is daar die indringer Liewenheersbesie wat van Asië af kom wat alles sommer net voor die voet vernietig. En so met een woord kom U en bevestig U nog van U beloftes en woord wat U al vir ‘n geruime tyd vir my gee.

U bevestig dat al die beloftes wat ek glo U vir my gegee het oor Miachlan en haar plekkie in die wêreld en die manier waarop U sal voorsien vir haar geboorte, dit is alles ware beloftes waaraan ek maar kan vas hou, beloftes waaroor ek openlik kan praat omdat ek nie dan as valse profeet afgemat sal word nie.

Die tweede bevestiging wat U vir my gee is dat ek die woord wat ek die laaste paar maande al konstant kry reg verstaan. Die leiers van ons gemeenskap, en hiermee bedoel ek die ouers van elke gesinstruktuur moet begin om die peste wat ons gemeenskap so teister uit te roei. Die enigste plek waar ons kan begin is by ons eie kinders.

Ons moet begin om ons oë oop te maak en te begin onderskei tussen die ware Liewenheersbesies in ons lewens en die indringer besies. Daar is elemente waaraan ons kinders bloot gestel word wat op die oog opslag heel onskadelik lyk omdat dit in die vorm van oulike animasies of onskuldige liedjies voorgelê word, maar sodra ons hierdie elemente van nader bekyk dan sien ons hoe hulle die saad wat ons so getrou in ons kinder se lewens plant verwoes.

Pappa daarom kom staan ek op my knieë voor U en ek vra nederig dat U elke ouer se oë sal oop maak sodat hulle, hulle kinders se omgewing kan suiwer van die indringer besies wat soos sprinkane U beloftes en U woord binne in hulle harte opvreet. Vader gee ons ouers die wete dat U hulle in ‘n gesags posisie aanstel het, dat hulle wel hulle kinders mag tugtig, volgens U woord en wel dit wat in hulle kinders se lewens ingespreek en ingelaat word, kan en mag en MOET filter.

Vader leer ons as ouers om U beloftes daaglikse EN volgens U WIL en WOORD in ons kinders se lewens in te spreek. Vader maak ons rustig genoeg in die aand om seën wense oor ons kinder te spreek terwyl hulle slaap en ook wanneer ons hulle verlaat om ons dag take te verrig. Gee dat ons sal begin om ‘n punt daarvan te maak om U seën oor ons kinders te spreek ook op spesiale geleenthede soos verjaarsdae en jaareind funksies en prys uitdelings. Mag ons waarlik die God gegewe Liewenheersbesies in ons kinders se lewens begin beskerm en die indringer besies begin uitroei.

Amen.

Soos ‘n Wildsbok…

In Gebede on September 15, 2009 at 13:22

Pappa Vader

Ek wil saam met die Psalm digter van Psalm 42 vandag kon sê: “Soos ’n Wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U o, God.”

Here ek wil elke dag net nader en nader en nader aan U beweeg sodat ek meer en meer van U kan leer. Here in my soeke na U wil ek vra dat U my sal lei oom eerder van die Boom van die Lewe as die Boom van Kennis van Goed en Kwaad te eet. Here weerhou my daarvan dat my soeke na menslike verstand en menslike verstaan in die pad sal kom staan van my geloof in U beloftes. Vader voed my Gees vandag sodat ek nie verstrengel sal raak deur die menslike konstrukte en idees nie. Vader vrywaar my vas die Gees van Godsdienstigheid en Wetlikheid en seen my eerder met ‘n intieme verhouding met U my God.

Here U woord spreek soveel waarhede dat dit soms my gedagtes oorweldig. Daar is tye wat ek wonder hoe ek dit alles ooit gaan toepas en hoe ek dit alles ooit gaan onthou. Vader help my om in hierdie tye verby my eie menslike vermoë en my eie menslike verstand te kyk en eerder toe te laat dat U deur U Gees wat U oor my uitgestort het, met my te werk en om so te verseker dat ek ook op die Christus Wingerdstok ingeënt is sodat ek goeie vrug kan dra.

Here in my gebed vandag wil ek vra dat U, U seen oor die volgende mense sal uitspreek:

Vader ek bid heel eerste vir elke besigheid wat U eerste stel en hulle sake volgens U woord en instruksies behartig. Vader mag U hierdie besighede goedgesind wees, Vader beskerm hierdie besighede teen die aanslae van die bose, gee die leiers en eienaars van elkeen van die spanne wat by hierdie besighede werk die insig wat hulle nodig het om U hart en droom vir hulle besigheid te verstaan. Vader spreek tot hulle harte sodat hulle deur elke transaksie wat hulle doen U Grote en Wonderbaarlike Naam sal kan verheerlik. Vader in tye van finansiële onsekerheid wil ek vra dat U twyfel en angs vêr van hierdie besigheids leiers se harte sal weghou. Vader gee hulle die geloof wat hulle nodig het om op U beloftes te vertrou, eerder as om uit paniek oorhaastige en onetiese besluite te neem.

Vader ek wil dat U ook die skille van die oë van ons jong volwassenes en kinders se oë sal afhaal. Vader ons leef in ‘n tyd waar hulle so gebombardeer word met inligting en media. Hulle word oorlaai met liggies wat flits en harde musiek en tog Here soos U in Matteus 12:38 – 42 sal wonderdade nie die skares van hulle tot bekering bring nie Here, omdat hulle harte so hard geword het en omdat hulle soveel staat maak op hulle eie kennis eerder as om die Waarheid by U te kom soek.

Vader God, gee ons as ouers die nodige insig om met ons kinders om te gaan op ‘n manier wat hulle harte sal versag en wat hulle ontvanklik vir die onverganklike saad sal maak. Vader God gee dat ons as ouers goeie vrugte sal dra en dat ons sal leer om met ons kinders te kommunikeer op ‘n manier wat ons gesinne sal verenig eerder as om ons te verdeel.

Vader U praat hard en duidelik die laaste ruk oor die posisie van die gesin in die bruid en U roep ons aanhoudend om ons gesinne te begin mobiliseer. Vader maak ons gehoorsaam aan U voorskrifte my God,  U stel dit duidelik in U Woord dat U eerder barmhartigheid en gehoorsaamheid as offergawes verwag.

Pappa, die duiwel loop rond soos ‘n lustige leeu en hy probeer met al sy mag om U gehoorsame kinders te verslind. Vader die sprinkane wat ons beloftes will kom versnipper en aan ons geloof wil kom knaag sak op ons toe. Maak ons geloof sterk en gee ons die nodige insig en gehoorsaamheid om van hierdie sprinkane ontslae te raak. Vader wys vir ons uit waar daar nog wortels van ongeregtigheid en ongehoorsaamheid in ons lewens in sodat ons hulle wortel en tak kan uitroei.

Here seen elkeen van U kinders vandag met ‘n kalmte en ‘n vrede wat hulle verstand te bowe sal gaan. Spreek stilweg stil in hulle harte sodat hulle weet dat as hulle in die middel van die storm is en hulle sien U nie aangestap kom op die water nie, dat hulle net hulle oë moet oopmaak want U is al klaar saam met hulle in die bootjie.

Amen.

Share
Email

Lente Reën

In Gebede on September 9, 2009 at 17:08

Pappa

Vanmiddag lê daar ‘n ongewone atmosfeer hier oor ons plasie. Dit is ‘n mengsel van onbeskryflike opgewondenheid en afwagting, gemeng met ‘n bietjie spanning. Die wolke op die horison lyk so belowend en ek wil graag glo dat die reën wat daardie wolke belowe ook ‘n fisiese manifestasie is van die uitkoms wat U al vir so lank op soveel ander terreine van ons lewens belowe.

Vader of dit nou ‘n geestelike manifestasie van daardie uitkoms is of nie, Vader skeur die hemele oop en laat dit reën Pappa. Kom was die stof van die bome en die blare af, kom bad die voëltjies en die duikertjies wat hier in die veld voor die huis kom speel. Here kom les die dors van die gras en die veld blomme, laat die spruit weer sterk loop en laat die water weer lewe bring.

Laat die fonteine hier op die plaas weer borrel soos dit hier binne in my gees borrel. Pappa daar borrel ‘n ietsie, ‘n gevoel dat die beloofde land net om die draai is. Dit voel vreemd om hardop erkenning daaraan te gee omdat ek nie werklik kan verduidelik waar hierdie bewustheid vandaan kom nie. Van buite af, vir almal wat in kyk lyk dit op die oog af of my hoop op niks konkreet gebaseer is nie, maar ek staan vas op die beloftes en die vrede wat U my daagliks mee seën.

Vanoggend het die dametjie oor die radio gesels oor idees om ons geloof te versterk en sy het gesê dat dit nie die sterkte van ons geloof of die grote van ons geloof is wat saak maak nie, maar eerder die diepte van ons geloof. Here die diepte van ons geloof word gemeet aan die waarheid van ons geloof, dit forseer my, Pappa om weer die beloftes waaraan ek so styf vas hou teen U Woord, teen die enigste onfeilbare Waarheid te gaan meet. Die drang om die selfde met my aksies te doen bly ook sterk en alhoewel U woord my daagliks aankla en daagliks wys waar daar gesnoei moet word sodat ek goeie vrugte kan dra, oorweldig U liefde en ‘n onbeskryflike opgewondenheid my van voor af.

Here vandag kom ons al ons behoeftes weer oop voor U neerlê. Here U weet ons behoeftes is ten opsigte van hospitaal en dokters kostes met Miachlan se geboorte wat nie te vêr weg is nie. U Here weet wat ons nodig het ten opsigte van ons ander finansiële behoeftes. Vader ons vertrou dat U getrou in al daardie behoeftes sal voorsien sodat ons, ons verpligtinge en verantwoordelikhede kan na kom.

Vader U weet in watter opsigte ons gesin verdruk word in hierdie tyd. U weet van elke sprinkaan wat aan ons beloftes wil kom knibbel en elke wapen wat die vyand teen ons wil gebruik. Pappa beskerm ons, maak ons paraat sodat ons nie sal blind wees vir die gevare nie. Gee ons steeds die vrede om rustig snags in U arms te slaap.

Ek wag geduldig op U reën Pappa. U sal weer lewe bring daar waar dit lyk of dit net woestyn is. U is ons beskermer en ons toevlug en U sorg so wonderbaarlik goed vir ons.

Dankie Pappa vir al U genade en liefde en die vrede wat U oor ons uit stort.

Amen!

Gideon – Deel 4

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes on Augustus 27, 2009 at 15:17

Teks Rigters 6:23 – 25

In Rigters 6:23 lees ons hoe die gebeure van die dag vir Gideon oorweldig het. Weereens het sy taak vir hom te groot gelyk, en weer praat die Here met hom, weer vertroos die Here hom.  Dit gebeur so gereeld dat ons ook herhaaldelik ook so oorweldig voel en dat die Here ons moet kom vertroos.

Vandag was juis een van daardie dae. Die seuntjies volg ‘n tuis skool program en alhoewel dit nie ‘n geval is van kinder speletjies nie, geniet ek die voorreg om hierdie kosbare jare saam met my kinders te kan spandeer geweldig. Een van my take is om my Erfstukkie te leer om nie sy talent ten opsigte van sy vermoë om mense goed op te som vir sy eie selfsugtige doeleindes te gebruik nie.

Die droom wat die Here sovêr vir sy lewe met my gedeel het sluit in dat hy hierdie talent moet gebruik om mense op te rig en te ondersteun. Tog sukkel ons met hierdie stukkie van sy opvoeding. Die emosionele wonde uit sy onstuimige baba jare veroorsaak dat hy eerder net na homself wil omsien, sy belange bo ander se belange stel, sonder om twee keer te dink oor die gevolge van sy aksies.

Vandag het hy weer besluit om te probeer om my geduld en lank moedigheid uit te buit, so asof dit ‘n swakheid is… dit het sommer my moed in my skoene laat sak en my laat voel of ons nou weer tien treë agteruit gegee het nadat ons die hele week darem dit kon reg kry om sovêr 5 treë vooruit te gee. Tog het ons Pappa gekom en my met wysheid en insig geseën sodat ek die situasie reg kon hanteer, en so kon ek steeds Sy Naam vereer en ook nog ‘n stukkie hemelse gereedskap in my rugsak sit.

Nadat die Here Gideon vertroos het, het Gideon ‘n altaar gebou. Die naam van die altar was “God gee gerus.” Die bou van die altaar wys ons nie net op Gideon se dankbaarheid nie, maar ook op die opofferings wat ons moet maak op hierdie  pad wat ons saam met die Here stap. Soos ons vêrder in Rigters lees, sien ons al die opofferings wat Gideon moes maak om die Here se wil te kon nastreef. So moet ons elkeen persoonlik ook bereid wees om opofferings te maak.

God het immers die grootse opoffering ooit vir ons gemaak, Hy het vir ons met die bloed en die lewe van Sy Seun betaal. Dit is juis uit dankbaarheid dat ons dan onsself moet gereed maak soos ‘n bruid haarself gereed maak. Ons bruidskleed moet verander van ‘n verflenterde wêreldse kleed na ‘n koninklike kleed….

Hoe lyk jou kleed vandag? Het jy die moeite gedoen om hom skoon te hou, hoe lyk jy as die wêreld na jou kyk, kan hulle sien dat jy deel Jesus se Bruid is… of sit jy nog op die ashoop in jou vuil flenters?

Gideon – Deel 2

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes,Uncategorized on Augustus 25, 2009 at 10:46

Teks Rigters 6:11 – 17

Vers 11 van Rigters 6 begin vir ons vertel van die ontmoeting tussen die Engel van die Here en Gideon. Gideon was besig om hard te werk, die woord sê dat hy besig was om koring te slaan in die pars kruip waar hy vir die Amalekiete weggekruip het.

Die Engel groet hom deur vir hom te sê “Die Here is by jou, dapper man.” Nou kan ek my net voorstel hoe Gideon moes voel. Hy is natgesweet en moeg. Hy verdien sy brood deur die sweet van sy aangesig. Hy voel soos ek en jy aan die einde van die dag, moeg gewerk, gespanne en moeg. Behalwe vir die harde werk moet hy nou nog boonop bekommerd wees oor sy eie veiligheid. Hy kruip weg, hy is bang en nou noem hierdie man hom dapper?

Gideon se eerste reaksie is so soortgelyk aan ons eerste reaksie wanneer ons hande in die hare by ‘n vriend of vriendin kom en hulle ons probeer vertroos deur ons van die Here se liefde te verseker. Gideon het God vir die Israeliete se situasie geblameer. Hy was oortuig dat God sy volk in die steek gelaat het, dat HY hulle verlaat het.

Gelukkig vir ons en vir Gideon steur God Homself nie aan hierdie redenasie en onsinnige praatjies nie. God regverdig ook nie eers Sy aksies nie, Hy herhaal eerder weer Gideon se roeping. “Gaan met die krag wat jy het, en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!”

Sjoe, Gideon se moed moes seker in sy skoene gesak het, want hier ten midde van sy eie krisis, ten spyte van sy geveg om net kos in sy lyf te kry sonder om deur die vyand gesien en bedreig te word, vra die Here hom om verby sy eie probleem te kyk en ‘n hele volk te red. As ons mooi terug dink en na ons eie lewe en ander se lewens rondom ons kyk sal ons verbaas wees om te sien juis hoeveel keer God ons reg in die middel van ons eie krisis vra om iemand anders te help. Dit is gewoonlik ook in sulke tye van uiterste persoonlike nood wat die Here jou roeping, jou skeppings doel aan jou begin openbaar.

Nes Gideon het ek ook net my kop geskud toe ek besef wat die Here van my gevra het. Keer op keer het ek op my knieë gegaan en vir die Here gevra hoe op aarde ek die taak wat Hy vir my gegee het moet verrig. In die middel van my stryd om my broer se dood te verwerk vra God van my om
• my verhouding met my lewensmaat te red,
• om my kinders voor te berei vir hulle onderskeidelike roepings
• En Hom dan nog deur dit alles heel hartig te loof en te prys.

Morele ondersteuning van mense was ook maar yl gesaai aangesien my familie en vriende nie kon verstaan hoekom ek weer wou probeer om hierdie dooie verhouding te probeer red nie. Ons lees in vers 16 van Gideon se verskoning, die redes wat hy aanvoer oor hoekom hy nie die Israeliete sal kan red nie. Hy het vir die Here gesê dat nie hy of sy familie genoeg aansien onder die volk geniet sodat hy die volk kan lei nie. As mens die sosiale struktuur van die Israeliete in ag neem kan mens sy redenasie verstaan.

My redes was meer van ‘n persoonlike aard, my krag was min, ek was op die rand van erge depressie, ek kon myself skaars motiveer om te gaan stort en my tande te borsel. Die liefdes vuur in my hart was besig om te versmoor. Ek het nie geweet of dit die moeite werd was om weer te probeer nie.

Die Here het geduldig dag en nag na my geluister. Ons lees ook hoe Hy na Gideon luister. Soos ‘n goeie pa luister Hy geduldig na die vrese van sy kind. En nes ‘n pa nie sommer sy kind se vrese afjak nie, vertroos God sy seun deur hom van Sy liefde en sy ondersteuning, hulp en nabyheid te verseker. God verseker hom dat hulle saam die vyand sommer maklik sal verslaan.
Die Here het ook deur Sy skrif my vrese vertroos. Ek het ‘n belofte dagboek begin hou, daar was soveel skrifte wat Hy met my gedeel het, ‘n hemelse vrede het oor my lewe en my gesin se lewe gekom. God het ons almal begin vertroetel, ons wonde genees elke dag bietjie meer, hy weef ons elke dag bietjie stywer saam van. Sy liefde het my gesin gered, sy vrede het my terug gebring van die rand van depressie en verwoesting af.

Gideon – Deel 1

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes on Augustus 24, 2009 at 13:03

Teks: Rigter 6: 1- 10

Die Ou Testament lê besaai met karakters waarvan ons as kinders in die Sondagskool geleer het, of dalk as Sondagskool Onnies vir die kinders geleer het. Maar dit spyt my om te sê dat my “Hoor en Doen” boekie nie eintlik net die hulp bron was wat dit veronderstel was om te wees nie, nee dit het vir ‘n groot deel van my Sondagskool loopbaan die woord van God vervang. So het ek en ek glo baie kinders verhale soos die van Gideon in ‘n afgewaterde formaat gekry, en so het ons nie regtig kon sien wat se waarhede in hierdie verhale opgesluit lê nie.

Rigters 6 skop af deur vir ons die groot prentjie van Gideon se omstandighede te skets. Die Isrealiete het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, en hulle was vir sewe jaar in die mag van die Midianiete.

Vir ons om ten volle te verstaan wat dit beteken kan ons dalkies net na ons eie geskiedenis kyk, selfs na ons hede. Daar is nie ‘n bevolkings groep in Suid Afrika wat nie die gevoel van frustrasie, onreg en vernedering wat van onderdrukking kom, nie verstaan nie.

Bolangs is ons dalk nou as nasie in Josef se reënboog kleed geklee, ‘n reënboog nasie verenig, maar onderlangs bly die ou skeidings mure tog al te gereël regop staan. Die geringste geleentheid word gebruik om mense wat anders as ons is te probeer onderdruk, half amper te verteer sodat ons kan plek maak vir nog mensies wat soos ons dink en doen.

Die Israeliete is op hierdie selfde manier deur die Midianiete verdruk. Die skrif sê dat die Israeliete in grotte en naby bergstroompies gaan woon het. Hulle het in onherbergsame dele gaan wegkruip. As ons dus mooi daaroor dink is hulle nie net an hulle tuistes, hulle huise weggedryf nie, maar hulle is geforseer om in ongemaklike en gevaarlike plekke hulle nuwe tuiste te gaan maak. Hulle is bloot eenvoudig verplaas soos mens ‘n ongewende objek sou verplaas.

Die skrif vertel ook hoe hulle oeste vernietig is en hulle vee dood gemaak is. Weereens kan ons hiermee identifiseer, die huidige ekonomiese klimaat laat ons ook voel of ons reg om ‘n voortbestaan vir ons self en ons kinders te bewerkstellig word aangeval, ons word van ons inkomste ontneem.

Die Midianiete word ook in vers 5 as sprinkane beskryf. Verwysings na spriknae in die skrif gaaan gewoonlik gepaard met die iets of iemand wat God se mense van Sy beloftes beloof. Die sprinkane kom eet gewoonlik die mense se beloftes op. Maar vers 7 sê ook dat die Here die Isrelaiete geroep het om teen hierdie verdrukking op te staan.

So roep die Here ons ook elke dag om eerder ons sprinkane op te eet soos Johannes die Doper gedoen het.
• Maar hoe eet ek my sprinkane?
• Hoe veg ek teen die goed in my lewe wat my so ontstel en my vreugde steel?
• Hoe veg ek teen my werkloosheid, my skuld, die dood van my ouer, my kind of my lewensmaat?
• Hoe kan ek, wat nie eers meer in die oggend my oë wil oop maak nie, ek wat alles deur my egskeiding verloor het, hoe moet ek opstaan en veg?

Self het ek hierdie vrae in April van hierdie jaar (2009) gevra. My lewe was aan skerwe, my lewensmaat en een van ons kinders het uitgetrek, ons paaie was op pad om finaal te skei. My ouers was sonder ‘n heenkome, en ons almal was sonder vaste werk. Die grootste slag was die dood van my jongste broer op die jong ouderdom van 19.

Die krag wat ek fisies nodig gehad het om op te staan daar waar ek inmekaar gesak het nadat my ma my van my broer se dood vertel het, het my ontbreek. Die pyn en die hartseer het my oorweldig, die krag om te skreeu en hardop te huil was nie eers daar nie. Daar waar ek op ‘n hopie gesit het was ek eensaam, hopeloos, swak en alleen.

Tog kan ek vandag met oorgawe getuig dat daar hoop is! Vers 8 van Rigters 6 vertel vir ons van die profeet wat God na die Israeliete toe gestuur het. Die profeet het hulle herinner aan die wonderdade wat God al vir hulle verrig het, hy jet ook rekenskap van hulle gevra oor hulle aksies, hy het hulle herinner dat hulle nie na God geluister het nie.

Daar is ook sulke profete in ons lewens, ons skel hulle so maklik uit, ons word so maklik kwaad vir hulle omdat hulle nie altyd sê wat ons wil hoor nie. Wie wil nou dankbaar wees as jy jou laaste salaris tjek moet gaan bank en jy weet voor jou siel dat daar nie nog een gaan wees nie. Wie kan nou dankbaar wees oor enige iets as jy jou lewensmaat gevang het toe hy / sy ontrou was aan jou, of jy dalk ontrou was en dit nou berou?
Maar die vreemde ding van dankbaarheid is dit, dankbaarheid kweek meer dankbaarheid. Dankbaarheid verag jou hart en maak die grond vrugbaar sodat dit weer goeie grond kan word en weer lewe kan voort bring.

Maak ‘n lys van al die kere wat God jou al gedra het, maak ook ‘n lys van al die goeie en positiewe goed in jou lewe. As jou lys nie te lank is nie, moet jouself nie bekommer nie, en moet nie op die as hoop van die lewe gaan sit en huil nie, gaan eerder met ‘n oop gemoed na jou God en begin hom prys vir die goedjies op jou lys. Prys hom met jou hele hart, met jou laaste bietjie krag, prays Hom met alles wat jy is.
Prys die Here elke dag, voor jy begin vra vir dit wat jy vandag nodig het, spoedig sal jy sien hoe jou lysie al hoe langer word, jy sal jou kan verheug oor die groen plantjies wat hulle koppe hier rondom jou in die woestyn uit steek. Die Here van hemel en aarde sal weer lewe in jou dorre woestyn bring…

Troos

In Koffietyd on Augustus 14, 2009 at 22:22

Soms neem die lewe oor en raak ons verlore tussen vuil gesiggies, kospotte en huiswerk… dan is daar nog werk en vergaderings en sport en probleme en irritasies.

Ons geduld sakkies raak leeg en ons empatie en meegevoel emmers begin beroerd lyk. Ons moed tenkies raak leeg en daarom straal ons minder liefde uit… Dit was een van daai weke hier in ons huis…. dol en besig… en toe ek uiteindelik vannaand dood moeg voor Sy voete neerslaan en nog voor ek kon begin kla, vra Hy my reguit uit Job 15:11

“Beteken die troos wat van God kom, vir jou niks, die woorde wat met soveel deernis tot jou gerig is? Waarom het jou gevoel met jou op loop gesit, waarom blits jou oë so?”

En al wat ek kan antwoord is Here vergewe my.. ek het nie meer krag gehad nie, want ek het nie my krag by U kom soek nie, ek het my Koffietyd saam met U afgeskeep… Vader verfris my, Vader vergewe my!

Amen.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.