Liza Welsh

Posts Tagged ‘lof’

ek-is-reg-en-jy-is-verkeerd-sindroom

In 80 Dae van Skattejag,Gebede on Maart 30, 2011 at 23:11

Die laaste keer wat ons verlede jaar gesels het, was ek nog besig om die wonderlike skattejag wat Pappie met my gedeel het… met julle te deel.

In die tussentyd het hierdie skattejag woeste, opwindende draaie gemaak, en is ek as nederige dienaar en ook ons gesin geestelik al weer op ‘n heel ander plek. Maar tog is dit belangrik om eers die eerste deel van hierdie storie klaar te gesels.

Ons het gesels oor die simptome van die Gees van Onmin… Ons het bepeins oor ons voos gestampte tone…. En vandag gesels ons oor een van die grootste wortels van onmin en rusie tussen mense… die-ek-is-reg-en-jy-is-verkeerd-sindroom.

ek-is-reg-en-jy-is-verkeerd-sindroom

Ek is ALTYD reg….

Jy. altyd VERKEERD…

My perspektief die enigste -

Joune van min belang
Trots laat die waarheid verdamp

Net droë klippe van eie wys bly gestand.

Vader maak my nie sus of so…

Soos daai een of die

Wees my genadig, verlaag my nie soos die ander.

So volg trots my tot in my binnekamer.

Tussen mens en God kom maak hy hom tuis.

Help die, help daai

Dat hulle MY waarheid kan sien…

Jou waarheid??

My waarheid?

Wat bly oor van DIE WAARHEID

die enigste Ware Waarheid?

God verander my man,

Here gee my vrou ‘n make-over,

Verander my kind se denke

Dat hy soos ek kan dink…

Jou wil??

My denke??

Wat bly oor van God se wil…

Waar is daar plek vir Sy denke?

Ek is ALTYD reg….

Jy. altyd VERKEERD…

My perspektief die enigste

Joune van min belang

Hoeveel keer ploeg ons nie so bo-oor mense… die mense vir wie ons die liefste is nie.? Dis ‘n les wat ons ook oor en oor moet leer… ek het die les onthou in November… miskien nog Desember, maar met toetse in Maart en huiswerk wat meer raak… moes ek al weer die selfde les leer hierdie week leer. Maar die keer het God dit in meer diepte op die tafels van my hart kom skryf….

Alles… maar alles waarvoor ons bid moet op die einde van die dag gaan om ons eie gemak of eie begeertes draai nie… alles waarvoor ons bid en waarvoor ons vra… ALLES moet gaan oor die eer van God, oor SY Almag, Sy Heiligdom, Sy Eer… nie my gemak nie.

Dit is wanneer ons dit begin verstaan dat ons die advies van Joyce Meyer kan volg wanneer sy vir ons die medikasie vir hierdie vreeslike sindroom voorskryf:

Vir die verdorde trotse keel is dit dalk drie bitter pille om te sluk….maar elkeen se uitwerking is absoluut onbeskryflik.

  1. Verruil jou trots vir nederigheid…
  2. Sit ‘n wag voor jou mond. (EN nee dis nie ‘n verskoning vir stilstuipe nie)
  3. Laat die Gees jou lei oor hoe om wat en wanneer te sê.

Dis amper naweek.. en dit blyk of ‘n mens bietjie meer tyd het om sulke moeilike oefeninge oor ‘n naweek te oefen. Gaan probeer gerus om hierdie drie beginsels toe te pas wanneer jy met jou man of jou vrou of jou kinders of dalk selfs jou werksmense te doen het.

Onthou ook dat dit nie oornag gaan kom nie. Jy gaan vir Vader moet vra om jou denke oor jouself en jou naaste weer te verander en te vernuwe sodat jy hulle deur Sy oë kan sien.. jy gaan moet aanvaar dat jy nie altyd met almal se opinies gaan saam stem nie, maar dit maak nie saak wie van wie verskil nie… ons moet verkil, omdat elkeen verskillend aanmekaar geweef is.

Jy gaan nie met ‘n houding kan stilstuipe kry en jou eerder by jou eie taak bepaal, en so dink jy sê maar eerder niks nie… jy gaan weer jou hart en jou siel en jou gees in die verhoudings wat deur hierdie afskuwelike sindroom geaffekteer word moet gaan inploeg, voor jou die saad van nuwe Liefde en Lewe daar sal kan saai.

( Behalwe vir die Lewende Woord van God, het Vader gedurende hierdie deel van ons reis saam, die volgende hulp middel in my lewe gebruik het: Conflict-Free Living, deur Joyce Meyer)

Vir U akker, waaroor ek aangestel is…

In Uncategorized on April 14, 2010 at 10:15

Pappa Vader… aan U en U Seun en U Gees… aan die drie heiligdom wat oor ons waak wanneer ons slaap, wanneer ons wakker is, wanneer ons met ons daaglikse take handel, self wanneer ons van U vergeet.. Aan U om al die lof en eer toe.

Here God, dankie vir die môre son wat sag kuns begin om die mis wolkies te kielie sodat hulle begin om die pad te vat… en dankie Here vir die Haan wat ons met sy lof lied uit die bed uit betower. Dankie Here vir die bekende geur van my eerste koppie koffie wat met soveel liefde deur Keenan gemaak is.

Dankie Jesus vir Connel skaterlag geluidjies uit die kombuis so vroeg in die môre, vir Ross middernag grappies wat Miachlan se seer tand vleisies vir almal soveel meer draagliker gemaak het. En Here dankie vir die trane wat U in die stilte van die nag van my wange kom afdroog het. Here dankie vir al hierdie seëninge wat U vir ons geskenk het. Dankie Here vir die stukkies van my boetie wat U in Connel en Miachlan vir ons kom bêre het.

Here dankie dat U ons skoon was deur U bloed, sodat ons deur Genade vlekloos voor U kan staan. Dankie Here dat U kragtens U besluit, daagliks die geheimenis van U wil vir ons lewens met ons deel en dankie Jesus dat U ons die krag gee om dan U Wil uit te voer.

Vader dankie dat U deur Christus en deur die Heilige Gees ons as U eiendom beseël, sodat ons tot eer en verheerliking van U naam gebruik kan word.

Pappa Jesus kom in hierdie oggend en kom was my skoon soos die dou die plantjies se groen blare kom skoon was, en kom kroon my met ‘n heilige kroon soos die kransies vol blomme daar buite. Vader breek my oop sodat strome vol lewende water oor U akker, waaroor ek aangestel is, kan loop.

Amen.

Vandag se Woord – 14 April 2010

In Uncategorized on April 14, 2010 at 10:11

Die afgelope twee dae was vir my so ‘n soet suur affêre… die 12de April was dit presies een jaar terug van die dag dat ek my broer vir die laaste keer lewend gesien het, hom kon vas hou, hom fisies hier langs my kon voel… die 13de April was ook die eerste dag van hierdie nuwe reis wat ek saam met Vader aangepak het, en terwyl dit ‘n ongelooflike reis is vol nuwe skatte om te ontdek en nuwe water strome om te besoek, is dit ook ‘n lang reis, soms ‘n seer reis, ‘n reis wat my so vêr van my aardse ours verwyder het. Hierdie verwydering is een van die grootste sambokke waarmee die duiwel my gereeld slaan wanneer ek te hard, deur God se genade, op sy tone trap, hierdie verwydering is die een ding wat soms nog by my in die nag kom spook… dit is hierdie verwydering wat dreig om trane in my oë te laat op bou elke keer as ek hulle klein dogter vas hou, ‘n klein dogter wat elke dag groter word, sonder dat sy al een keer haar oupa of ouma se liefdevolle aanraking gevoel het. Dit is ook hierdie verwydering wat soms ‘n vuur van opstand teen my God hier binne my aanwakker omdat ek weet dat die verwydering en die oplossing vir hierdie verwydering in Sy hand lê, en ek weet dat my tyd nie Sy tyd is nie, en ek weet dat Sy plan beter is as myne… maar hierdie wete vat op geen punt die pyn van my hart weg nie.

En so met hierdie mengelmoes van opgewondenheid, maar meer en deels neerslagtigheid het ek gisteraand gaan slaap. My kop het ek op my kussing neergelê en tot nou toe weet ek nie of ek so verwoed in my gedagtes gebid het, en of dit sommer hard op was nie… maar groot was my verbasing toe ek wakker word vanoggend en ek besef dat ek in my slaap oorgeslaan het van ‘n smeek gebed na ‘n jubel gebed… ‘n lof sang vir my groot en almagtige Vader. Ek het letterlik in my slaap gebid, konstant, aanhoudend, of nee die Gees het eerder namens my, maar ook deur my, vir my by my Vader ingetree.

Maar nie net het ek wakker geword met ‘n gejubel en ‘n gejuig in my hart nie. Deur genade het ek wakker geword met ‘n verstaan van Jesus se oorwinning oor die wêreld waarin ons, ons bevind.

In Johannes 16: 33 praat Jesus met sy dissipels en sê hy vir hulle “Dit sê ek vir julle , sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Dit is eers wanneer ons hierdie oorwinning verstaan dat ons ophou om ons blind te staar teen die lyding wat ons in hierdie wêreld beleef. Dit is ook wanneer ons hierdie oorwinning begin aanvaar en ons eie maak dat dit vir ons moontlik is om te midde van ons stryd en pyn en ‘n gebrekkige bestaan op hierdie aarde werklik ons God, met blydskap te vereer.

Dit is ook om hierdie selfde rede dat die duiwel ons so toe gooi met sulke gedagtes en aanvalle. Dit is gedagtes soos hierdie wat maak dat ons vervul word met die gee van die wees en die weduwee, soos dit in Klaagliedere oor en oor beskryf word. Dan leef ons 2 Konings 19:3 wat sê “… Dit is ‘n dag van rou. Ons is in die moeilikheid en ons is verneder. Ons is soos vrouens wat in kraam is, maar nie die krag daarvoor het nie.”

Wanneer ons so toe lê onder hierdie verdrukking dan kan ons nie ons God verheerlik nie. Dit is wanneer ons so wanhopig is dat die satan wen… hoekom?

Want in Johannes 17:4 verduidelik Jesus dit so mooi: “Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen.” Daar staan niks van wonder werke en tekens nie, nee Jesus praat van die groter prentjie… die vervolmaking van ons skeppings doel.. daardeur verheerlik ons, ons God.
Nou kom Jesus weer by my vanoggend, terwyl ek so na die mis buite my venster staar en Hy kom vra vir my:

“Ek wat Christus is, het gisteraand gekom en in jou slaap die gees van die wees in jou kom hanteer… ek het jou kom help om deur daardie poort te gaan sodat jy opreg en met blydskap in hierdie tyd van eina en pyn en onsekerheid kan leef en My kan loof. Hoe gaan jy die gees van die wees en die weduwee in jou mede mens hanteer?”

Danksegging te midde van moeilike tye

In Uncategorized on April 12, 2010 at 11:15

Vader God, Koning van my hart, Heerser van my hele lewe. Here ek loof U vandag as die middelpunt van my vlees, siel en gees. Vader U is die Vader van wonderwerke, die God wat skep, die God wat red, die God van Waarheid. Here God, ek kan net hoop dat my nederige woorde sal kan begin om U lof te besing, want Here geen aantal woorde or lof gesange sal ooit U majesteit waardig kan wees nie.

Vader God, dankie Here dat onss elke dag, enige uur van die dag by U voete kan kom sit en vir vergifnis kan kom vra vir ons oortredinge. Vader dankie dat ons deur die Genade Bloed wat U Seun vir ons aan die kruis gestort het, U vergifnis kan ervaar en mag aanvaar. Vader sie skrif sê, as is ons skarlaken rooi van sonde Here, U was ons so wit soos sneeu. Ere God kom was my, kom reinig asseblief weer my hart, kom ruk alles sonde wortel en al uit my siel, sodat ek in my gees opregte vrugte, goeie vrugte kan dra.

Here, uit genade en slegs genade leef ek in die wete dat U ‘n vader is wat U oor ons ontferm, en U is die God wat in elke omstandigheid moed kan gee deur die hoop wat U vir ons in die hemele bewaar. In elke moeilike omstandigheid Here is U met ons, bemoedig U ons, dra U ons.

Pappa God, dit is om hierdie rede dat ons dan ook ander kan bemoedig. Here dit is waar dat ons ‘n oorvloed van lyding ter wille van Christus ervaar, maar dit is ook waar dat ons ‘n oorvloed van bemoediging deur Christus geniet.

Here vandag bid ek dat U ons denke sal verander Here, sodat ons harte kan verander, want Vader die oomblik wat ons, ons daaglikse lewe vanuit hierdié perspektief beskou, verander die hele prentjie en dan Vader sal ons hele reaksie so verander dat ons die vrugte van U Gees sal dra.

Here God, vanuit hierdie perspektief verander die dreigement van onverantwoordelike en uittartende uitlatings deur verskeie politieke leiers in ‘n geleentheid om God se genade en bemoediging te ervaar, en om ook U teenwoordigheid in hierdie situasie en met ons mede mens te deel.

Here die selfde geld vir elke venstertjie koevert wat ons met soveel mismoedigheid uit ons posbus haal. Vader mag ‘n diep afhanklikheid van U die angs greep wat hierdie stukkies papier in ons verwek vervang. Mag ons in afwagting op U hand en U seën en U genade wag m God.

Here U het deur genade ‘n vaste verwagting geskep dat nes ek in Christus se lyding sal deel, dat ek ook in Dy bemoediging en Hoop en in die krag wat Hom uit die dood uit opgewek het sal deel. Vader mag ons oë nie net op die eer van die oorwinning wat ons met U sal deel wees en gevestig bly nie, nee Vader mag ons fokus eerder slegs die eer van U naam bly.

Here, U weet dat ons soms dae beleef wat dit voel asof ons vêr bo ons kragte versoek en beproef word, soms Here voel dit selfs of ons maar ale hoop kan laat vaar. Maar dit is juis op hierdie dae Here wat U ons herinner, en ons leer dat ons nie op onsself kan vertrou nie, maar dat ons eerder slegs op U moet vertrou. U is die Alfa en die Omega, die begin en die einde van my lewe, U is my hele lewe, niks gebeur met my sonder dat U hand dit toe laat nie my God en niks kan my ooit van U liefde skei nie en daarom Here is ek dankbaar vir die genade gawe van geloof waarmee U my elke môre seën.

Amen.

This morning is a beautiful new morning!

In Gebede on November 3, 2009 at 14:59

Lieste Pappa

“ This morning is a beautiful new morning!” Met hierdie woorde en ‘n goue skynsel oor die gras teen die koppie hier agter die huis het U my gegroet, toe ek net so voor ses uur die radio aansit… die glimlag wat op daardie oomblik om my mond hoeke gespeel het, het nog net breër en breër geword vandag.

Pappa vanaf die sesde uur van vandag af hou U genade gawes net nie op nie… vir die vierde keer in een week seën U my met die selfde belofte en ook waarskuwing wat U vir Salomo in 2 Kronieke 8 oor die tempel gegee het.

En vir die soveelste keer bevestig U dat ek my drome reg verstaan: U is waarlik besig om ons stukkie grond, hierdie grond aan U gewei, U tempel, te seën. Ons is op die regte pad, U is ons God, daar is niemand anders in ons harte nie, op niemand anders vestig ons, ons hoop nie – en stadig maar seker is U besig om ons vir ons deursettings vermoë te beloon.

Die dag het aangegaan… maar so tussen Wiskunde somme en Engelse Grammar luister ek na Tom en Estie wat gesels oor hoe ons die Bybel, die Lewende, Geïnspireerde Woord van ons God behoort te lees en weer hiermee raak U aan my tot op die murg van elkeen van my bene.
Oor en oor gee U vir my die gedeelte uit Psalm 119 vanaf vers 97 – 108 en weer bevestig U vir my dat dit waarlik U Gees is wat my lei as Ek U woord lees, U het my oë oopgemaak, my geseën met die vermoë om U woord reg te verstaan.

U rig my op om aan te gaan met die taak wat U voor my gestel het… U kom maak vir U atleet ‘n protein shake om haar kragte op te bou en U kom klee U stryder in ‘n spink splinter nuwe wapen rusting. U kom sluit krag en geduld en liefde in my hart oop, wat voorheen vir my verberg gelê het.

Maar Pappa dis mos maar hoe dit gaan. Nes ons dink ons kan nie meer liefde bewys nie, nog meer nederig wees nie, nog meer geduldig wees nie, sodra ons dink dat ons nie nog nader aan U kan beweeg nie, dan trek U ons nog nader aan U bors en vou U, U groot sterk arms nog stywer om ons vas en dan versier U ons gesiggies met nog sagter, meer liefdevolle skoenlapper soentjies tot ons straal van U liefde en U glorie.

En dan hou die dinge ook nie daar op nie. Pappa onthou U toe ek gister aan vir my Skottie gesê het dat ek tog moet onthou om vir my vriendin te vra of sy dalk vir my daardie hoedjie vir Miachlan sal hekel, daardie een wat soos ‘n Liewenheersbesie lyk…. En vanoggend terwyl ek en Connel werk aan sy klanke gesels Soekie en haar ateljee gas en een van die goedjies wat die ateljee gas noem is oor die twee soorte liewenheersbesies. Daar is die oorspronklike, inheemse Liewenheersbesie wat al die plae vernietig, en dan is daar die indringer Liewenheersbesie wat van Asië af kom wat alles sommer net voor die voet vernietig. En so met een woord kom U en bevestig U nog van U beloftes en woord wat U al vir ‘n geruime tyd vir my gee.

U bevestig dat al die beloftes wat ek glo U vir my gegee het oor Miachlan en haar plekkie in die wêreld en die manier waarop U sal voorsien vir haar geboorte, dit is alles ware beloftes waaraan ek maar kan vas hou, beloftes waaroor ek openlik kan praat omdat ek nie dan as valse profeet afgemat sal word nie.

Die tweede bevestiging wat U vir my gee is dat ek die woord wat ek die laaste paar maande al konstant kry reg verstaan. Die leiers van ons gemeenskap, en hiermee bedoel ek die ouers van elke gesinstruktuur moet begin om die peste wat ons gemeenskap so teister uit te roei. Die enigste plek waar ons kan begin is by ons eie kinders.

Ons moet begin om ons oë oop te maak en te begin onderskei tussen die ware Liewenheersbesies in ons lewens en die indringer besies. Daar is elemente waaraan ons kinders bloot gestel word wat op die oog opslag heel onskadelik lyk omdat dit in die vorm van oulike animasies of onskuldige liedjies voorgelê word, maar sodra ons hierdie elemente van nader bekyk dan sien ons hoe hulle die saad wat ons so getrou in ons kinder se lewens plant verwoes.

Pappa daarom kom staan ek op my knieë voor U en ek vra nederig dat U elke ouer se oë sal oop maak sodat hulle, hulle kinders se omgewing kan suiwer van die indringer besies wat soos sprinkane U beloftes en U woord binne in hulle harte opvreet. Vader gee ons ouers die wete dat U hulle in ‘n gesags posisie aanstel het, dat hulle wel hulle kinders mag tugtig, volgens U woord en wel dit wat in hulle kinders se lewens ingespreek en ingelaat word, kan en mag en MOET filter.

Vader leer ons as ouers om U beloftes daaglikse EN volgens U WIL en WOORD in ons kinders se lewens in te spreek. Vader maak ons rustig genoeg in die aand om seën wense oor ons kinder te spreek terwyl hulle slaap en ook wanneer ons hulle verlaat om ons dag take te verrig. Gee dat ons sal begin om ‘n punt daarvan te maak om U seën oor ons kinders te spreek ook op spesiale geleenthede soos verjaarsdae en jaareind funksies en prys uitdelings. Mag ons waarlik die God gegewe Liewenheersbesies in ons kinders se lewens begin beskerm en die indringer besies begin uitroei.

Amen.

Die Here se Seën bring lewe op die dorre aarde!!!

In Gebede on Oktober 13, 2009 at 22:16

Pappa God

Dankie vir die lewe wat U daagliks op hierdie mooi stukkie aarde voort bring. Hierdie was ‘n gesken pakkie so onverwags uit U Hand!

Amen!

Kyk na die fotos van diè geskenk pakkie!

Soos ‘n Wildsbok…

In Gebede on September 15, 2009 at 13:22

Pappa Vader

Ek wil saam met die Psalm digter van Psalm 42 vandag kon sê: “Soos ’n Wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U o, God.”

Here ek wil elke dag net nader en nader en nader aan U beweeg sodat ek meer en meer van U kan leer. Here in my soeke na U wil ek vra dat U my sal lei oom eerder van die Boom van die Lewe as die Boom van Kennis van Goed en Kwaad te eet. Here weerhou my daarvan dat my soeke na menslike verstand en menslike verstaan in die pad sal kom staan van my geloof in U beloftes. Vader voed my Gees vandag sodat ek nie verstrengel sal raak deur die menslike konstrukte en idees nie. Vader vrywaar my vas die Gees van Godsdienstigheid en Wetlikheid en seen my eerder met ‘n intieme verhouding met U my God.

Here U woord spreek soveel waarhede dat dit soms my gedagtes oorweldig. Daar is tye wat ek wonder hoe ek dit alles ooit gaan toepas en hoe ek dit alles ooit gaan onthou. Vader help my om in hierdie tye verby my eie menslike vermoë en my eie menslike verstand te kyk en eerder toe te laat dat U deur U Gees wat U oor my uitgestort het, met my te werk en om so te verseker dat ek ook op die Christus Wingerdstok ingeënt is sodat ek goeie vrug kan dra.

Here in my gebed vandag wil ek vra dat U, U seen oor die volgende mense sal uitspreek:

Vader ek bid heel eerste vir elke besigheid wat U eerste stel en hulle sake volgens U woord en instruksies behartig. Vader mag U hierdie besighede goedgesind wees, Vader beskerm hierdie besighede teen die aanslae van die bose, gee die leiers en eienaars van elkeen van die spanne wat by hierdie besighede werk die insig wat hulle nodig het om U hart en droom vir hulle besigheid te verstaan. Vader spreek tot hulle harte sodat hulle deur elke transaksie wat hulle doen U Grote en Wonderbaarlike Naam sal kan verheerlik. Vader in tye van finansiële onsekerheid wil ek vra dat U twyfel en angs vêr van hierdie besigheids leiers se harte sal weghou. Vader gee hulle die geloof wat hulle nodig het om op U beloftes te vertrou, eerder as om uit paniek oorhaastige en onetiese besluite te neem.

Vader ek wil dat U ook die skille van die oë van ons jong volwassenes en kinders se oë sal afhaal. Vader ons leef in ‘n tyd waar hulle so gebombardeer word met inligting en media. Hulle word oorlaai met liggies wat flits en harde musiek en tog Here soos U in Matteus 12:38 – 42 sal wonderdade nie die skares van hulle tot bekering bring nie Here, omdat hulle harte so hard geword het en omdat hulle soveel staat maak op hulle eie kennis eerder as om die Waarheid by U te kom soek.

Vader God, gee ons as ouers die nodige insig om met ons kinders om te gaan op ‘n manier wat hulle harte sal versag en wat hulle ontvanklik vir die onverganklike saad sal maak. Vader God gee dat ons as ouers goeie vrugte sal dra en dat ons sal leer om met ons kinders te kommunikeer op ‘n manier wat ons gesinne sal verenig eerder as om ons te verdeel.

Vader U praat hard en duidelik die laaste ruk oor die posisie van die gesin in die bruid en U roep ons aanhoudend om ons gesinne te begin mobiliseer. Vader maak ons gehoorsaam aan U voorskrifte my God,  U stel dit duidelik in U Woord dat U eerder barmhartigheid en gehoorsaamheid as offergawes verwag.

Pappa, die duiwel loop rond soos ‘n lustige leeu en hy probeer met al sy mag om U gehoorsame kinders te verslind. Vader die sprinkane wat ons beloftes will kom versnipper en aan ons geloof wil kom knaag sak op ons toe. Maak ons geloof sterk en gee ons die nodige insig en gehoorsaamheid om van hierdie sprinkane ontslae te raak. Vader wys vir ons uit waar daar nog wortels van ongeregtigheid en ongehoorsaamheid in ons lewens in sodat ons hulle wortel en tak kan uitroei.

Here seen elkeen van U kinders vandag met ‘n kalmte en ‘n vrede wat hulle verstand te bowe sal gaan. Spreek stilweg stil in hulle harte sodat hulle weet dat as hulle in die middel van die storm is en hulle sien U nie aangestap kom op die water nie, dat hulle net hulle oë moet oopmaak want U is al klaar saam met hulle in die bootjie.

Amen.

Share
Email

Lente Reën

In Gebede on September 9, 2009 at 17:08

Pappa

Vanmiddag lê daar ‘n ongewone atmosfeer hier oor ons plasie. Dit is ‘n mengsel van onbeskryflike opgewondenheid en afwagting, gemeng met ‘n bietjie spanning. Die wolke op die horison lyk so belowend en ek wil graag glo dat die reën wat daardie wolke belowe ook ‘n fisiese manifestasie is van die uitkoms wat U al vir so lank op soveel ander terreine van ons lewens belowe.

Vader of dit nou ‘n geestelike manifestasie van daardie uitkoms is of nie, Vader skeur die hemele oop en laat dit reën Pappa. Kom was die stof van die bome en die blare af, kom bad die voëltjies en die duikertjies wat hier in die veld voor die huis kom speel. Here kom les die dors van die gras en die veld blomme, laat die spruit weer sterk loop en laat die water weer lewe bring.

Laat die fonteine hier op die plaas weer borrel soos dit hier binne in my gees borrel. Pappa daar borrel ‘n ietsie, ‘n gevoel dat die beloofde land net om die draai is. Dit voel vreemd om hardop erkenning daaraan te gee omdat ek nie werklik kan verduidelik waar hierdie bewustheid vandaan kom nie. Van buite af, vir almal wat in kyk lyk dit op die oog af of my hoop op niks konkreet gebaseer is nie, maar ek staan vas op die beloftes en die vrede wat U my daagliks mee seën.

Vanoggend het die dametjie oor die radio gesels oor idees om ons geloof te versterk en sy het gesê dat dit nie die sterkte van ons geloof of die grote van ons geloof is wat saak maak nie, maar eerder die diepte van ons geloof. Here die diepte van ons geloof word gemeet aan die waarheid van ons geloof, dit forseer my, Pappa om weer die beloftes waaraan ek so styf vas hou teen U Woord, teen die enigste onfeilbare Waarheid te gaan meet. Die drang om die selfde met my aksies te doen bly ook sterk en alhoewel U woord my daagliks aankla en daagliks wys waar daar gesnoei moet word sodat ek goeie vrugte kan dra, oorweldig U liefde en ‘n onbeskryflike opgewondenheid my van voor af.

Here vandag kom ons al ons behoeftes weer oop voor U neerlê. Here U weet ons behoeftes is ten opsigte van hospitaal en dokters kostes met Miachlan se geboorte wat nie te vêr weg is nie. U Here weet wat ons nodig het ten opsigte van ons ander finansiële behoeftes. Vader ons vertrou dat U getrou in al daardie behoeftes sal voorsien sodat ons, ons verpligtinge en verantwoordelikhede kan na kom.

Vader U weet in watter opsigte ons gesin verdruk word in hierdie tyd. U weet van elke sprinkaan wat aan ons beloftes wil kom knibbel en elke wapen wat die vyand teen ons wil gebruik. Pappa beskerm ons, maak ons paraat sodat ons nie sal blind wees vir die gevare nie. Gee ons steeds die vrede om rustig snags in U arms te slaap.

Ek wag geduldig op U reën Pappa. U sal weer lewe bring daar waar dit lyk of dit net woestyn is. U is ons beskermer en ons toevlug en U sorg so wonderbaarlik goed vir ons.

Dankie Pappa vir al U genade en liefde en die vrede wat U oor ons uit stort.

Amen!

Victory – Halleluja!!!!!

In Gebede on September 4, 2009 at 11:01

Here die Nag was lank en die styd was wild. Moeg en dors en honger kom ek voor U staan, maar in my hart jubel daar ‘n nuwe lied:

Lord I’ve got VICTORY HALLELUJA,
over the enemy, GLORY GLORY,
and the world can do me na harm!

The are times when I’ve been wounded,
And I have battle scars to show,
And yes I am going through the storm of blinding rain,
But I am going on in Jesus’ name!

Lord I’ve got VICTORY HALLELUJA,
over the enemy, GLORY GLORY,
and the world can do me na harm!

Amen.

Ons Hemelse Vader vir wie ek so innig lief is…

In Gebede on September 3, 2009 at 16:48

In Lukas 11, vra Jesus se dissipels vir Hom om hulle te leer bid. Hierdie gedeelte is so ongelooflik bekend, dit is ‘n deel van die Bybel wat ons telkens hoor vandat ons klein is en tog lees ons net gou so vinnig daaroor omdat ons dink dat ons weet wat daar staan. Tog wil ek myself af vra hoekom ons dan nie altyd doen wat die woord van ons vra ten opsigte van gebed nie, dit beteken immers nie veel om die kop kennis rond te dra as ons dit nie toe pas nie.

Soos die ure van hierdie dag aanstap kry die gevoel dat die boodskappe wat deur hierdie eposse uitgaan harder en harder op die duiwel se stert begin trap. Die sentrale tema van al die boodskappe en publikasies op Koffietyd gaan oor die versoening tussen die Vaders en die Kinders van ons tyd. Die sentrale gedagtes draai rondom die Gees van Elia, en dit is vir my wonderlik omdat die artikels en die eposse nie lank vooruit beplan word nie. Ek skryf maar soos die Gees my deur die dag lei, en op hierdie manier is daar nie veel plek vir my slim idees en mense praatjies nie, maar moet my hart en my gees oop bly vir die stem van ons Pa.

 Ek is oortuig dat hierdie bediening besig is om ‘n doring in die bose se vlees te word omdat hy konstant die appel karretjie van ons gesin wat gereed maak om in ons beloofde land in te trek probeer omgooi. Verlede week het hy ‘n emosionele aanslag teen ons gesmee en die krag en die genade en die liefde van ons Here het ‘n laer rondom ons getrek en die vuur het ons nie geskroei nie en die vrede in ons huis was nie aangeraak nie.

 Vir die afgelope twee dae beleef ek dit weer dat daar ‘n aanslag is op ons in terme van die een plek waar ons as gesin kwesbaar is. Die Here het beloftes gemaak oor ons finansies. Met die nuwe baba oppad en dokters besoeke en hospitaal fooie het die Here ons gevra om Hom onvoorwaardelik te vertrou. Uit genade het ons ook die geloof ontvang om weer soos die lelies en die voëltjies van die veld uit Sy hand te leef, maar gister en vandag is die sprinkane wat ons beloftes wil kom opeet volop en lustig, en daarom is ek weereens so ongelooflik dankbaar dat die Here Lukas 11 vanmiddag met my kom deel het.

 Ons enigste verweer teen die sprinkane is gebed, die opregte, eerlike uitstort van ons harte voor ons God. En dan sal Hy ons ook antwoord soos Hy in Esegiël 12:28 aankondig: “So sê die Here my God: ‘Niks van wat Ek gesê het sal uitgestel word nie. Wat Ek gesê het, sal nou gebeur,’ so sê die Here my God.”

Laat ons nou saam bid soos ons in Lukas 11 deur ons Hemelse, Heerlike Bruidegom geleer word:

Pappa God

Ons Hemelse Vader vir wie ek so innig lief is. My Pa wat ek met soveel oorgawe wil dien. U is die trooster van ons harte se diepste angs en vrees.

Vanmiddag kom ek in my gebrokenheid, my menslikheid voor U staan. Vader mag al die eer vir die vreugde en vrede wat in ons lewens heers, U toekom. Mag U verheerlik word deur die liefde wat ons teenoor mekaar bewys en mag ons geloof in U beloftes soos ‘n helder loflied deur die wêreld weerklank. U Pappa is so getrou en so genadig en dit is vir my ‘n voorreg om op U skoot te kan sit en U stem te kan hoor.

 Pappa, ek wil saam met U Seun in Lukas 11 sê, “laat U Naam geheilig word en laat U koninkryk kom.” Vader mag U Wil ten alle koste geskied en mag U ons tot in ons onderskeie posisies bring sodat ons onsself, U Bruid, kan gereed maak vir die koms van U Seun, die Hemelse Bruidegom.

Vader kom voed ons gees, Vader kom praat met ons, ons wil U stem hoor, ons wil U teenwoordigheid voel, ons wil so baie graag nog meer van U leer. Breek U Woord vandag vir ons oop en kom lei ons in ons soeke na die Waarheid en na U Wysheid.

 Vader vergeef ons oortredinge, vergewe ons vir die slegte vrugte wat ons soms dra. Vader maak ons bewus van die wortels van ons ongehoorsaamheid en help ons Here om hulle sommer wortel en tak uit te kap. Here maak ons harte sag sodat ons die wat teenoor ons oortree ook kan vergewe soos U ons vergewe en Here dankie dat U bloed ons weer skoon was. U bloed laat ons spier wit, sonder skuld staan en daarvoor Here, loof ons U en prys ons U alleen.

Pappa terwyl ons smeek dat U ons teen die aanvalle van ons vyand sal beskerm wil ons U loof vir die beloftes wat U teenoor ons gemaak het. Vader die skrif sê vir ons dat die duiwel rondloop soos ‘n brullende leeu, ons lees van soveel kere wat die sprinkane kom U volk se beloftes op te eet. Vader mag hierdie aanvalle teen ons te vergeefs wees omdat ons, ons hulp by ons God en Vader gaan soek. Here U het ons al soveel keer uit genade beskerm en elkeen van die beloftes wat U teenoor ons gemaak het, het waar geword, en daarom kan ons nie anders as om aan U woord vas te kleef nie.

 Here God, onse Vader seën ons steeds met U vrede en U genade. Laat die hegtheid van ons gesinsbande en die egtheid van ons geloof deur hierdie aanvalle ongerep bly. Mag U namens ons die aanval afweer en mag ons spoedig in die beloofde land intrek. Mag ons steeds ons vreugde in U vind.

Vader ons bid dat die Bloed van U Seun ons sal bedek en dat ons steeds vrede en rus in U arms sal vind.

Amen.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.