Liza Welsh

Posts Tagged ‘hoe lyk jy?’

Vandag se Woord – 20 April 2010

In Uncategorized on April 20, 2010 at 14:26

Rigters 14:6 “Sy ouers het nie besef dat dit alles van die Here kom nie, want Hy wou ‘n geleentheid skep om die Filistyne te straf…”

Hierdie vers kom uit die verhaal van Simson… dit volg op die teks wat vertel van hoe Simson vir Delila as sy vrou wou hê, maar dat sy ouers hom probeer vermaan het. As Simson se ouers hom nie die geleentheid gegun het om sy eie besluite neem nie, sou hy dan die geleentheid gehad het om deur God gebruik te word om die filistyne te straf? Tog is daar ‘n fyn balans tussen gesonde grense on opvoeding sonder die nodige dissipline.

Die les wat Vader uit hierdie gedeelte vir ons oor en oor probeer leer, is dat ons versigtig moet wees dat ons nie ons eie planne vir ons kinder hoër op die prys stel as die planne wat God vir ons kinders het nie… dit is juis vir hierdie rede dat ons as ouers na aan ons God moet leef sodat ons Sy stem kan hoor wanneer dit by ons kinders kom.

Vandag se Woord – 14 April 2010

In Uncategorized on April 14, 2010 at 10:11

Die afgelope twee dae was vir my so ‘n soet suur affêre… die 12de April was dit presies een jaar terug van die dag dat ek my broer vir die laaste keer lewend gesien het, hom kon vas hou, hom fisies hier langs my kon voel… die 13de April was ook die eerste dag van hierdie nuwe reis wat ek saam met Vader aangepak het, en terwyl dit ‘n ongelooflike reis is vol nuwe skatte om te ontdek en nuwe water strome om te besoek, is dit ook ‘n lang reis, soms ‘n seer reis, ‘n reis wat my so vêr van my aardse ours verwyder het. Hierdie verwydering is een van die grootste sambokke waarmee die duiwel my gereeld slaan wanneer ek te hard, deur God se genade, op sy tone trap, hierdie verwydering is die een ding wat soms nog by my in die nag kom spook… dit is hierdie verwydering wat dreig om trane in my oë te laat op bou elke keer as ek hulle klein dogter vas hou, ‘n klein dogter wat elke dag groter word, sonder dat sy al een keer haar oupa of ouma se liefdevolle aanraking gevoel het. Dit is ook hierdie verwydering wat soms ‘n vuur van opstand teen my God hier binne my aanwakker omdat ek weet dat die verwydering en die oplossing vir hierdie verwydering in Sy hand lê, en ek weet dat my tyd nie Sy tyd is nie, en ek weet dat Sy plan beter is as myne… maar hierdie wete vat op geen punt die pyn van my hart weg nie.

En so met hierdie mengelmoes van opgewondenheid, maar meer en deels neerslagtigheid het ek gisteraand gaan slaap. My kop het ek op my kussing neergelê en tot nou toe weet ek nie of ek so verwoed in my gedagtes gebid het, en of dit sommer hard op was nie… maar groot was my verbasing toe ek wakker word vanoggend en ek besef dat ek in my slaap oorgeslaan het van ‘n smeek gebed na ‘n jubel gebed… ‘n lof sang vir my groot en almagtige Vader. Ek het letterlik in my slaap gebid, konstant, aanhoudend, of nee die Gees het eerder namens my, maar ook deur my, vir my by my Vader ingetree.

Maar nie net het ek wakker geword met ‘n gejubel en ‘n gejuig in my hart nie. Deur genade het ek wakker geword met ‘n verstaan van Jesus se oorwinning oor die wêreld waarin ons, ons bevind.

In Johannes 16: 33 praat Jesus met sy dissipels en sê hy vir hulle “Dit sê ek vir julle , sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Dit is eers wanneer ons hierdie oorwinning verstaan dat ons ophou om ons blind te staar teen die lyding wat ons in hierdie wêreld beleef. Dit is ook wanneer ons hierdie oorwinning begin aanvaar en ons eie maak dat dit vir ons moontlik is om te midde van ons stryd en pyn en ‘n gebrekkige bestaan op hierdie aarde werklik ons God, met blydskap te vereer.

Dit is ook om hierdie selfde rede dat die duiwel ons so toe gooi met sulke gedagtes en aanvalle. Dit is gedagtes soos hierdie wat maak dat ons vervul word met die gee van die wees en die weduwee, soos dit in Klaagliedere oor en oor beskryf word. Dan leef ons 2 Konings 19:3 wat sê “… Dit is ‘n dag van rou. Ons is in die moeilikheid en ons is verneder. Ons is soos vrouens wat in kraam is, maar nie die krag daarvoor het nie.”

Wanneer ons so toe lê onder hierdie verdrukking dan kan ons nie ons God verheerlik nie. Dit is wanneer ons so wanhopig is dat die satan wen… hoekom?

Want in Johannes 17:4 verduidelik Jesus dit so mooi: “Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen.” Daar staan niks van wonder werke en tekens nie, nee Jesus praat van die groter prentjie… die vervolmaking van ons skeppings doel.. daardeur verheerlik ons, ons God.
Nou kom Jesus weer by my vanoggend, terwyl ek so na die mis buite my venster staar en Hy kom vra vir my:

“Ek wat Christus is, het gisteraand gekom en in jou slaap die gees van die wees in jou kom hanteer… ek het jou kom help om deur daardie poort te gaan sodat jy opreg en met blydskap in hierdie tyd van eina en pyn en onsekerheid kan leef en My kan loof. Hoe gaan jy die gees van die wees en die weduwee in jou mede mens hanteer?”

Vandag se Woord – 13 April 2010

In Uncategorized on April 13, 2010 at 14:05

Jeremia 3:4-5

“En nou noem jy My skielik: ‘My vader’, en sê jy: ‘U is my vriend vandat ek ‘ kind was. Sal U vir altyd kwaad wees, vir altyd toornig wees?’ Dit is wat jy gesê het, maar jy het verkeerd bly doen, net waar jy kon.”

Ons weet dat ons ‘n God van oneindige genade dien. Maar soms voel dit vir my of ons probeer om te vergeet dat ons ook ‘n toornige God dien, omdat dit makliker is vir ons om dan te probeer om misbruik te maak van ons God se genade.

Ons tugtig ons kinder om seker te maak dat hulle verstaan dat sekere gedrags patrone onaanvaarbaar is, en tog wonder el hoeveel aandag ons as volwassenes aandag slaan op God se tugtiging. Soms, nes ‘n moeder of ‘n vader hulle kinders met ‘n sagte woord vermaan, so vermaan God ons soms deur die sagte woorde van mense wat ons pad deur die dag kruis…

• Hoe ingestel is jy op God se sagte vermaninge? Of gaan dit ‘n groot harde tugtiging neem voor jy luister?
• Dra jou lewe die vrugte van dit wat jou mond bely? Vra jy met ‘n opregte hart dat Vader jou sal waarsku wanneer jy weg dwaal, of wag jy eerder net elke keer tot na jy verbrou het om maar net weer om vergifnis te vra?
• Bid ons proaktief or reaktief… slaan jy vure dood, of maak jy voorbrande op die regte tyd, onder die leiding van die Gees?
• Hoe eerlik en naak staan jy regtig voor jou Skepper wanneer jy Hom ontmoet? Is jy steeds op die plek in julle verhouding waar jy sonder jou vye blaar kleed voor Hom kom staan wanneer Hy jou roep?

Vader het my die afgelope paar weke met hierdie vrae gekonfronteer omdat Hy vir my die ware skade van hoogmoed in ons lewens wou kom illustreer. Vader het my attent gemaak op die skade wat hoogmoed en trots in my lewe al aangerig het, en Hy het ook my aandag gevestig op die vrugte van hoogmoed wat in talle situasies as onskuldige aksies en reaksies na vore gekom het.

Op hierdie sagte manier het Vader my ook gemaan om nie te begin om in die gees van hoogmoed op te tree nie, veral nie wanneer ek te doen kry met mense wat ander glo as ek nie, en ook veral nie wanneer ek my kinders dissiplineer nie.

Dit is slegs vanuit Genade dat ek oor wysheid beskik wat Vader na hulle wil oordra… die wysheid wat ek het om te deel het niks met my ouderdom te doen nie… dit is nie as gevolg van my ouderdom dat ek my kinders se respek verdien nie, maar eerder as gevolg van die feit dat Christus my gemaak het, dat, ongeag van my aksies, is daar steeds ‘n deel van Christus in my, in elke persoon op aarde en daarom moet ons elke persoon respekteer, maak nie saak van waar hulle kom of hoe hulle vir ons lyk nie… elke mens verdien ons eerlike en opregte respek. Ons kan nie konstant aangaan om neer te sien op mense wat anders as ons lyk, of praat of volgens ons oor minder geestelike outoriteit beskik nie, want dit is wanneer ons op ons swakste is, wat God op sy beste deur ons kan werk…

I will always share my spoon with you…

In Koffietyd on November 30, 2009 at 15:08

A Holy man was having a conversation with the Lord one day and said, ‘Lord, I would like to know what Heaven and Hell are like.’

The Lord led the holy man to two doors.

He opened one of the doors and the holy man looked in.

In the middle of the room was a large round table..

In the middle of the table was a large pot of stew,

which smelled delicious and made the holy man’s mouth water.

The people sitting around the table were thin and sickly.

They appeared to be famished. They were holding spoons with very long handles that were strapped to their arms and each found it possible to reach into the pot of stew and take a spoonful.

But because the handle was longer than their arms, they could not get the spoons back into their mouths.

The holy man shuddered at the sight of their misery and suffering.

The Lord said, ‘You have seen Hell. They went to the next room and opened the door. It was exactly the same as the first one.

There was the large round table with the large pot of stew which made the holy man’s mouth water.

The people were equipped with the same long-handled spoons, but here the people were well nourished and plump, laughing and talking.

The holy man said, ‘I don’t understand.

‘It is simple,’ said the Lord. ‘It requires but one skill.

You see, they have learned to feed each other.

The greedy think only of themselves.’

Pad Na Sion – Aanhef

In Pad na Sion,Reeks Gedagtes on November 20, 2009 at 10:06

So sê die Heilige, die Ware God wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie:

My Liefste …….

Ek weet jy is moeg gespartel daar tussen die golwe van die lewe. Ek weet jou arms en jou bene pyn. Ek weet jou hart voel soos ‘n klip, wat jou hier vanuit jou binneste, onder die water in dwing.

Ek weet hoe klein jy teen die golwe voel. Ek tel elke traan wat jy stort… die wind wat hier teen jou wang verby skuur… dis Ek wat elke traan kom afdroog.

Ek is daar waar jy is: Ek is in die donderweer wat dreun en die weerlig wat so flits. Ek sien jou, Ek hou ‘n oog oor jou.

Ek weet jy is skaam oor dit wat gebeur het. Ek weet jy is verleë en jou skaamte en jou skuld gevoelens jaag jou soos genadelose spoke deur die oseaan se waters.

Ek weet jy is kwaad en bitter. Ek weet van al die onderdrukking wat jy verduur het. Ek weet hoeveel daar van jou gesteel is. Ek het elke een van jou wonde opgeskryf, elke verlies het Ek opgeteken! Vir daardie opofferings sal ek jou tien voudig beloon… Jy sal meer as net klein geld terug kry vir die diens wat jy sovêr vir My verrig het.

Ek weet jy voel alleen, Ek weet jou maters is maar skaars in hierdie rowwe tyd, maar Ek is hier! Ek wil myself vir jou neerlê, soos ‘n brug oor hierdie onstuimige see. 

My engel, appel van My oog, ek weet jy is platgeslaan. Ek weet jy voel so verlate soos ‘n weeskind, ek weet jy voel so alleen soos ‘n weduwee. Ek weet die donker het met ‘n harde slag om jou toegeslaan. Ek wil jou las vir jou kom dra – Ek wil jou kom troos.

Ek is klaar hier, die brug is klaar gebou my Liefling, dis net jy wat deur die sout water in jou oë moet tuur en My moet raak sien. Dis jy wat net moet vasgryp aan die brug sodat Ek jou kan optel en sodat jy van My brug gebruik kan maak.

Kyk hoe verlig die droom en die seëninge wat Ek voor die grondlegging van die aarde vir jou beplan het, die brug. My plan vir jou skyn so helder, kan jy dit sien? Gryp My vas, Ek wil die sout water wat jou ogies so brand kom weg vee sodat jy die glorie wat ek vir jou beplan het kan waardeer.

Ek wil jou afdroog en jou warm toevou, Ek wil vir jou nuwe, droë klere aantrek en jou honger magie vul met kos wat se smaak jy nog nie eers in jou wildste drome geproe het nie. Ek wil vir jou ‘n fees maal hou met die beste wyn om jou dors te les… Ek is klaar hier my Geliefde Bruid, Ek is die brug oor hierdie onstuimige see, Ek is die antwoord en die hoop waarna jy so desperaat opsoek is…. jy hoef nie eers vêrder te swem nie, Ek is hier binne gryp afstand… Kan jy My al sien??

Ek is lief vir jou!  My Eerste Liefde, Vlees van My Vlees – Ek verlang so innig, so baie verskriklik na jou… wil jy maar nie My hulp en My liefde aanvaar nie?

My antwoord op die gebed van ‘n kind…

In Gebede,Koffietyd on November 17, 2009 at 09:29

Die sand korreltjies in die uurglas gemerk as 2009 is besig om baie vinnig uit te loop en oral is almal besig om gou-gou net ‘n inventaris van die jaar te neem voor hulle te verstrengel raak in Kersfees liggies en blink tinsel stringetjies.

Soos ek ook maar onwillekeurig inventaris van ‘n wasmasjien jaar waardeur my gesin en my familie is. Die onbeskryflike vrede wat God my hart mee toevou kom dan loodreg teenoor onafgehandelde besigheid staan. Die opgewondenheid en afwagting van ‘n nuwe lewe kom staan loodreg teenoor die pyn en die nood wat oral rondom my heers. My eie genesing kom staan ook loodreg teenoor die wonde van die vir wie ek so innig lief is.

En tussen dit alles deur wil ek amper soos Johannes opstandig raak omdat die rondom my soveel meer lei as ek. Johannes het opstandig geraak oor die feit dat hy nie die geleentheid gegun was om soos die ander dissipels vir sy geloof te kon sterf nie. Nee, ek wil nie sterf nie, ek weet dat my werkie hier op aarde is nog nie klaar nie, maar ek wens so gereeld dat ek die jeuk van die mensies om my namens hulle kan dra. Soms wens ek dat daar ‘n vitamien B kompleks inspuiting vir die hart se seerste eina kan wees en dat ek namens ander deur hulle pyn kan werk sodat hulle wonde kan genees.

Dis terwyl ek so voel, dat ek selfs nog hier in my gees nog meer opstandig word wanneer ek versoeke uitstuur en geleenthede wat deur ons Pappa self geskep word onder die aandag van God se geliefdes te bring – soos my Vader my beveel en nie eens een persoon die moeite kan doen om hulle oë en hulle aandag vir ‘n oomblik van hulle eie lewe en eie behoeftes af te haal en so na ‘n ander uit te reik nie.

Die Here raak al hoe meer dringend in Sy oproep aangaande ons kinders en die wees kinders wat so aan hulle eie genade oorgelaat word. Vader se hart is regtig seer oor die gebrek aan die Bruid se bereidheid om uit te reik en hierdie kinders se harte met hulle God se hart te versoen. Elkeen van ons hou ‘n bos sleutels vas, wat die deur vir soveel kinders kan oopsluit, tog is ons so besig met ander goed dat ons nie uitkom by dit wat Vader regtig in hierdie tyd van ons vra nie.

Matteus 18 vers 1-5 is tog so duidelik oor die belangrikheid van kinders in die koninkryk van God. En daar is niks meer kosbaar as die manier waarop ‘n kind sy God vertrou nie. Self het ek die voorreg om daagliks te sien hoe my twee wille perdjies op hulle God vertrou en hoe getrou hulle Hemelse Pappa vir hulle sorg.

Daar is nie iemand anders wat vir hierdie kinders kan klere gee nie, daar is nie iemand anders wat hulle oor die kinders kan ontferm terwyl jy gou-gou net eers jou Desember vakansie se finale reëlings tref nie. Dis vir jou wat God vra, wees My hande, wees My voete, wees My arms…

Ek het nie die skares met ‘n mooi gebed en honger magies huis toe gestuur nie, NEE Ek het vir hulle kos saam met die brood van die lewe bedien. Ek het nie die vrou met die bloedvloeiing vertel hoe lief Ek haar het en haar toe weer weggestuur sodat Ek met my belangrike dagtake kon voort gaan nie, NEE, Ek het haar eers genees, eers het Ek van my tyd aan haar afgestaan om na haar te luister en haar te genees… daarom beveel Ek jou my kind kom stort My liefde uit en kom wees My antwoord op die gebed van ‘n kind.

 

Swaard of Septer?

In Koffietyd on November 11, 2009 at 15:17

Hierdie naweek sit ek by ‘n verjaardag partytjie en soos die aand verloop kruis my en my Skottie se paaie met ‘n jong man wat ywering en uit volle bors sy toewyding aan ons Pappa verkondig.

My hart het so warm geklop in die begin van die aand, maar teen die einde was daar ‘n frons en ‘n paar vraag tekens wat seker baie duidelik hulle verskyning op my voorkop gemaak het.

Daar was geen verskil tussen die optrede van meneer ywerig en sy aardse maters wat nie so ywerig is om hulle te onderwerp aan ‘n Hemelse Koning nie. Maar dit was nie die grootste van my issues nie… my hare het begin rys toe meneertjie ewe judgmental met sy glasie Grants en water in die een hand en sy Bybel versies in die ander mense links en regs wou oordeel en veroordeel en dan begin ek wonder wanneer ons wat Christus se verteenwoordigers hier op aarde is gaan op hou om liedere soos die volgende te inspireer?

“Kan jy my skroewe vir my vas draai?
Kan jy my alabasters vir my vind?
Kan jy jou idée van normaal in jou gat opdruk, kan jy?
Kan jy apatie spel?

Kan iemand dalk ‘n God bel en
Vir Hom sê ons het Hom nie meer nodig nie, kan jy?
Kan jy apatie spel?…”

Ja, ons die ‘n God van liefde en woede, ‘n God van genade en torn en ‘n God wat wel oordeel, maar dis ons God wat moet oordeel, nie ons nie.

Laat die wat onbeskaamd voor my Jesus en Sy kruis kan staan dan die eerste klippe gooi, want al is my hande en my voete ook al saam met my Christus gekruisig en al doen ek my bes om elke dag om my vlees vir Christus te laat sterf, en al is ek deur my God en Pa se genade deur die Heilige Gees vervul, wil ek nooit, ooit vergeet om die Christus in my mede mense te dien nie, en wil ek nooit ooit die een wees wat soveel pyn en leuens in die harte van God se verlore skapies saai nie, want dan verander ek van die swaard van Waarheid in die Hand van my Heiland na ‘n septer in die hand van die bose.

Hou jou Kastaiings uit die Vuur Deel 3 – Wat is ‘n Man en Wat is ‘n Vrou (2)

In Hou jou kastaiings uit die Vuur on Oktober 6, 2009 at 11:04

In die vorige hoofstuk het ons gekyk na die rol van die man en die vrou soos dit opgeteken staan in Genesis 2 : 4 -18. Die slotsom waarby ons uitgekom het is soos volg:
- Die man en vrou is albei deur God geskape en hulle is as gelyke geskape.
- Die man verwesenlik God die versorger van ons basiese fisiese behoeftes en daarom dien die man as konstante herinnering daaraan dat God aan ons fisiese behoeftes voorsien.
- Die vrou verwesenlik God die versorger van ons emosionele behoeftes en daarom dien die vrou as konstante herinnering daaraan dat God ook aan ons emosionele behoeftes voorsien.

Tog hou die skrif nie hier op nie en soos ons vêrder deur Genesis 2 lees vind ons nog sleutels tot die identiteit van die man en die vrou. Vers 19 en 20 verduidelik vir ons hoe God al die diere na die man gebring het en hy hulle almal name gegee het, hulle deur gekyk het en tog het hy nie een wat sy gelyke was gevind nie. Nie een van die diere was sy gelyke nie.

Hierdie skrif lyk op die oog opslag vir ons wat so gewoond as aan die wêreld soos dit vandag is, so onbelangrik, maar tog wil dit vir ons iets sê van hoe belangrik dit vir God en die man was dat die man ‘n helper gekry het wat by hom gepas het. Dit is ook belangrik om te sien dat God heel eerste die keuse vir helper by die mens gelaat het, en nadat die mens besluit het dat nie een van die diere sy gelyke was nie, het God ingegryp en vir die mens ‘n helper, ‘n gelyke gemaak.

Dit is ook belangrik dat ons weereens die waarde van hierdie twee verse met ons kinders deel. Soos hulle groot word gaan hulle baie moontlike lewens maats tee kom en God se genade is groot genoeg dat as hulle in die huwelik sou tree met een van daardie lewens maats wat dalk nou nie vir hulle bedoel is nie, dat God hulle tog sal seën, juis omdat Hy ons die reg om te kies gegee het. Tog moet ons ook met hulle die wonder van vers 21- 25 ook deel.

Nadat die mens nie ‘n geskikste gelyke onder die diere kon kry nie, het God hom aan die slaap gemaak en vlees uit die mens se sy gebruik om vir hom ‘n helper te maak. En hierin lê die volgende sleutel van die man en die vrou se identiteit. Die man en vrou is gemaak om mekaar aan te vul. Tussen man en vrou is daar ‘n heilige band, die een is uit die ander gehaal. Man en vrou is gemaak om naak (openlik, sonder pretensie en maskers) voor mekaar te staan.

Elke paar soos Vader ons voor die grondlegging van die Aarde vir mekaar geskape het, is die perfekte paar. Hulle sal mekaar se sterk en swak punte aanvul. Sy sal wees vlees van sy vlees, been van sy been, skaamte van sy skaamte.

Hiermee bedoel ek glad nie dat die verhouding tussen hierdie man en vrou maklik en sonder hak plekke gaan wees nie. Om mekaar aan te vul sal ons juis tien teen een teenoorgesteldes wees en daarom sal dit vir ons moeilik wees om mekaar te verstaan. Maar as ons elkeen se posisie verstaan dan sal ons kan begin om die verskille tussen ons te aanvaar en te respekteer. En mekaar die spasie gun om ons afsonderlike rolle te vervul.

Ons kan egter nie na die identiteit van die man en die vrou kyk sonder om na die sondeval in Genesis 3 te kyk nie. In hierdie gedeelte sien ons dat die vrou deur die slang verlei word om van die vrug van die boom van Kennis van Goed en Kwaad te eet en hoe sy dan ook die selfde vrug aan haar van gee om te eet.

Alhoewel dit belangrik is om notisie te neem van die duiwel se slinksheid en die manier waarop Hy die waarheid verdraai, is dit net so belangrik om nie te vergeet dat die vrou steeds die keuse gehad het om nie na die slang te luister nie. Die grootste fout wat die vrou begaan het was om nie te vertrou dat God haar met die nodige kennis sal toerus nie en daarom het sy kennis in a ander vorm as van God aanvaar.

Die vrou kan ook gesien word as die beskermer van die man, veral as ons kyk na die engelse benamings, man en woman (man with a womb.) Die baarmoeder gee en beskerm lewe en daarom is dit deel van die vrou se identiteit van die vrou om as haar man se beskermer op te tree. Dus kan ons in hierdie gedeelte ook sien dat as die vrou uit haar posisie tree kom daar dood oor haar man. Hiermee ignoreer ek glad nie die feit dat die man steeds ‘n keuse gehad het nie, en dat ‘n man wat ook uit posisie beweeg en buite sy God se wil handel, ook swaarkry oor sy familie bring nie. Tog is dit vir my belangrik om die vrou se identiteit as geestelike en emosionele beskermer van die man te beklemtoon, veral omdat die samelewing die vrou as die damsel in distress en die swakker geslag skets en hierdie beeld word in die koppe van ons dogters ingeprent en daarom sukkel ons dogters om op te staan in hulle posisie in die Bruid.

Vanaf vers 14 deel God die straf vir die sonde wat sy kinders van Hom vervreem het uit. In vers 16 word die vrou se straf aan haar gegee en die laaste twee sinne gee vir ons nog sleutels tot die identiteit van die vrou. Die Here het aan die vrou gesê dat na haar man sal hunker en dat hy oor haar sal heers. Dus is dit belangrik dat ons verstaan dat ons verlange na die man en lewens maat wat Vader vir ons geskape het deel van ons identiteit geword het en ons moet ook aanvaar dat God in hierdie verse die man as hoof van die huis aangestel het. Dit beteken glad nie dat ons rol as die man se emosionele en geestelike beskermer wegval nie, maar dit beteken wel dat ons aan die man onderdanig moet wees en sy besluite moet respekteer.

Hierdie verse plaas ook ‘n verantwoordelikheid op die man, want alhoewel hy as hoof oor die gesin aangestel is, waarsku die skrif oor en oor dat die mens nie die gesag wat Vader hom gegee het mag gebruik om ander te onder druk nie. Vêrder lees ons dan van die vloek wat die mens oor die aarde gebring het, en die moeite waarmee die man vir sy gesin en sy familie sal sorg.

Die gedeelte sluit af met die gedeelte waar die mens sy vrou Eva noem. Eva kan vertaal word as lewend en die Hebreeus vir Eva klink baie soos die Hebreeus vir Adam. Adam beteken mensdom. En selfs in die name van die eerste twee mense word daar vir my ‘n belangrike sleutel opgesluit. Die oomblik wat die man of die vrou of beide uit hulle posisie beweeg is die dood die uiteinde. Saam verskaf die man en vrou soos deur God bymekaar geplaas die platform vir ‘n lewende mensdom, maar sodra die twee van mekaar geskei het, gaan die mensdom agteruit en tans getuig die ooreenkoms tussen die hoë egskeidings syfer en die agteruitgang van ons samelewing van hierdie sleutel.

Hou jou Kastaiings uit die Vuur Deel 1 – Proudly a Woman?

In Hou jou kastaiings uit die Vuur on September 16, 2009 at 14:50

Ons is almal deesdae proudly South African, maar is jy proudly Woman? Is jou trots op jou vroulikheid of probeer jy dit verberg omdat jy voel dat dit in jou pad na sukses staan?
In Julie verlede jaar het ek op God se opdrag uit die korporatiewe mark gestap. Die rede vir my onttrekking was dat die vereistes van my beroep tussen my en God begin staan het. Tog is dit nou eers dat ek besef het hoog die muur was wat ek tussen myself en my God gebou het.

Ek sal nooit die dag vergeet nie, dit was ‘n Woensdag oggend… ek was oppad werk toe en ek het toevallig die radio aangeskakel, deur die gebroke sein was die enigste woorde wat ek gehoor het was: “hou op met die verkeerde dinge wat jy doen!” Dadelik het ek soos ‘n stout kind besef dat ek nie langer kon weghardloop van die stem van die Heilige Gees nie, ek kon nie langer die spanning wat ek op myself geplaas het deur my gewete te ignoreer verdra nie. Die spanning het my fisies siek begin maak, die Here het ‘n stop teken by my kruis pad kom oprig en dit was tyd om op te hou om myself te sus met die prentjie van God wat ek teen die muur wat tussen my God gestaan opgeplak het. Ek moes weer by God uitkom!

Die grootste fout wat ek tussen Julie verlede jaar en April vanjaar gemaak het was dat ek my eie plan van aksie vir God se droom wou volg. Ek was nie regtig geïnteresseerd in God se plan nie, ek het geglo dat ek met my eie verstand God se weg sou kon vind. Hierdie is die grootste leun wat Satan my nog my hele lewe lank gevoer het, die puin hoop wat my lewe vroeër vanjaar wag het getuig van die krag van hierdie leun en as ek enige iemand die pyn en leiding wat ek en my gesin deurgemaak het kan spaar sal ek my storie oor en oor vertel, al wil my trotse mense vlees nie altyd erken watter ompad ek gevat het nie.
Dit was eers op ‘n vroue kamp aan die einde van Mei maand wat ek regtig besef het wat God al verlede jaar vir my wou sê. God wou kom en my identiteit as vrou, wat ek so gewilliglik in die korporatiewe mark opgegee het aan my terug gee.

Die probleem met die klimaat van ons korporatiewe mark tans word so mooi deur die top verkoper boek “Good Girls don’t get the Corner Office” uitgebeeld. Dit is weereens die grootste leun wat die duiwel aan mans en vrouens tesame in die korporatiewe mark verkoop het. Vroulikheid, ons God gegewe identiteit word as ‘n swakheid beskou. Tog besef ons nie die impak van ons aksies en die gevolge van die feit dat dood en droogte volg wanneer ‘n vrou uit haar oorspronklike posisie in God se skepping geforseer word nie.
Die Here ons God het die vrou gemaak om lewe te gee. (Genesis 3:20) Dit is ons primêre taak as vrou. In Genesis 3 lees ons ook dat die vrou gemaak is as haar man se helper. In die besigheids wêreld moet vrouens en mans dus sy aan sy kan werk om mekaar te komplimenteer eerder as om mekaar te veroordeel oor ons unieke eienskappe en mekaar so te probeer regeer.

Ek stem saam dat in die huwelik en gesin struktuur dat die man die hoof van die huis te wees, omdat God hom so aangestel het en ja daarom uit gehoorsaamheid aan die woord van ons God moet ons aan ons mans onderdanig wees, maar ons as vrouens moet ook die spasie gegun word om in ons eie skeppings doel op te staan en in ons gekose posisie in te beweeg.

Kom ons kyk maar na die lande in die midde ooste, waar die vrou gruwelik, buite God se opdrag onderdruk word. Daardie lande word gekenmerk deur ‘n dorre landskap en woestynagtige landskappe. Dood en ellende word geassosieer met hierdie lande en dit wys ons duidelik op die feit dat daar dood volg waar die vrou uit haar posisie geforseer word.

Ons kan dan ook dan ‘n parallel tussen hierdie lande en die egskeidings syfer wat ‘n mens so aan die keel kom gryp en kom bewus maak van die feit dat daar êrens iets baie verkeerd geloop het met die fondasie van ons samelewing. Die huwelik en die gesin is Goddelike instellings wat veronderstel is om die fondasie vir ons samelewing te vorm. Die gesin is die plek waar ons respek en liefde en gehoorsaamheid en ons waardes leer. Dit is die plek waar ons moet veilig voel en waar ons kan kom rus vind.

Tog wat tans gebeur is dat beide ouers werk en omdat daar van ‘n vrou verwag word om haar vroulikheid prys te gee in haar werksituasie gebeur dit so gereël dat sy dan ook haar vroulikheid binne in haar huwelik en haar gesinstruktuur ook opgee. So baie keer veroorsaak hierdie afwesigheid van vroulikheid ‘n magstryd tussen ouers wat op die ou end tot die ondergang van hulle huwelik lei. Moederlike kwaliteite soos geduld en liefde en aanvaarding bly ook telkens in die slag wat weer ‘n vêrdere negatiewe impak op ons kinders het.

Ons dogters word groot met ‘n verwronge beeld van vrou en ma wees en dit dompel hulle net vêrder in ‘n identiteitskrisis. Ons kweek onrealistiese verwagtinge in ons seuns oor hulle eie rol en die rol van hulle vrouens en die feit dat ons soos viswywe tekere gaan help ook glad nie om respek vir die teenoorgestelde geslag in ons kinders te kweek nie. OP hierdie manier lei ons eintlik maar net ons kinders vêrder en vêrder weg van hulle skeppings doel en hulle posisie.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, ek wil glad nie probeer sê dat Mamma by die huis moet bly en as slaaf agter haar man en kinders loop en optel nie. Ek wil ook glad nie insinueer dat vrouens nie in die markplein hoort nie. Ek is self ‘n dame wat daarvan hou om my eie inkomste te verdien en myself buite my gesinstruktuur met ander aktiwiteite uit te leef en so my talente te ontwikkel. Ek dink dit is baie nodig dat ‘n vrou ook in sirkels buite haar gesin beweeg sodat sy juis haar Godgegewe talente en gawes tot Sy eer kan gebruik.

Wat ek wel probeer deel is dat die vrou weer by God moet gaan hoor wat Sy plan vir haar lewe is. Die kollektiewe plan kan ‘n mens dwars deur die Woord van die Here gaan na vors en ek gaan my bes probeer om dit te verduidelik, maar ons moet ook by God gaan hoor hoe Hy elkeen van ons aanmekaar gesit het. Jy het ‘n persoonlikheid en sterk punte wat perfek by jou pas en wat jou gaan toelaat om jou skeppings doel te verrig. Ons moet elkeen weer by ons Pa se voete gaan sit en hom gaan vra om ons identiteit soos Hy voor die grondlegging van die aarde daaroor gedroom het vir ons oop te breek.

Hierdie selfde waarhede geld vir manne in ons lewens. Net soos ons nie van hulle kan verwag om hulle manlikheid prys te gee omdat dit vir ons gemakliker is as om hulle manlikheid te verstaan nie. Elke man moet ook sy identiteit in God dwars deur die Bybel gaan navors om so sy kollektiewe identiteit as man te ontdek, en hy moet ook by sy skepper se voete gaan sit en vir hom gaan vra wie en wat God hom geskape het om te wees.

As ouers is dit ons verantwoordelikheid om ook ons kinders so groot te maak dat hulle elkeen hulle kollektiewe identeit en hulle individuele identiteite te verstaan en aantegryp en hulle self op hierdie manier uit teleef.

Share
Email

Gideon – Deel 9

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes on September 3, 2009 at 16:53

Teks Rigters 7: 15 – 8: 4

Die tweede deel van Rigters 7:15 het my opgeval toe ek dit weer vanoggend lees. In die tweede deel van die vers deel Gideon met sy manskappe (sy span) die opdrag en die troos van die Here, m.a.w. Gideon deel die strategie of die plan wat die Here vir Hom gegee het met sy span maats.

In die laaste paar weke het die Here die belangrikheid van die gesinstruktuur op hart kom lê. Die posisie wat die gesin binne die liggaam van Christus moet vervul is dalk ‘n  bekende konsep vir ons, maar tog druk daar ‘n dringendheid op hart om die gesin as die fondament van ons samelewing te onderstreep.

As jong dame was ek bevoorreg genoeg was om die waarde van die gesin struktuur by my ouers te leer. My ouers het ‘n bediening in Heidedal, net buit Bloemfontein gehad. Die bediening se naam was Gesinsbou, en die roeping wat die Here op my ouers se harte gelê het was om die gebroke gesinstruktuur wat jong kinders na die strate toe gedryf het, te gaan herstel.

As tiener dogter het dit ongelukkig teen vlees en been ingesny om my waardering vir hulle werk en die waardes wat hulle my geleer het te wys. Op 18 weet ons mos alles, is ons mos alles en kan ons niks by enige iemand leer nie. Maar die waarheid is dat my ouers se bediening my voorberei het vir die rowwe pad wat ons gesin in die afgelope jaar geloop het. Terwyl ek nou terug dink, kom verlig die Gees weer die waarde van die gesin as span vir my – die enigste verweer wat ons teen die morele aanslae op ons kinders se lewens het, is ons gesinstruktuur en die voorbeeld wat ons binne daardie struktuur vir ons kinders stel.

Hierdie beginsel bring my terug na die tweede gedeelte van vers 15. Dit is alles goed en wel dat ons as ouers by die Here gaan hoor wat Sy plan vir ons gesin is, maar die plan val plat wanneer ons nie die groter prentjie aan ons kinders oordra nie.

Ek het nou die dag die mooi voorbeeld gehoor van iemand wat oor hierdie selfde beginsel gepraat het. Kom ons dink nou maar net aan die slag wat ons op ‘n vliegtuig klim. Die loots kondig voor die tyd aan waarheen die vliegtuig vertrek. Ek kan nie aan een persoon dink wat sommer net so op ‘n vliegtuig sal klim sonder om te weet waarheen die vliegtuig vlieg nie. Die selfde geld vir ons kinders, dit is ons verantwoordelikheid om die vlug plan wat die Here aan ons as ouers oordra, weer aan ons kinders oor te dra. Dit is belangrik dat ons God se doelwitte en drome vir ons lewens met hulle sal deel. Daarmee saam is dit ook belangrik dat ons nie net ons welslae nie maar ook ons teleurstellings met hulle moet deel.

Die krag wat ontsluit word wanneer ‘n span korporatief saam onder die leiding van die Here werk, word vir ons baie duidelik in die daaropvolgende verse uitgebeeld. Die hand van die Here in die slagting word ook omslagtig beskryf, en  dit onderskryf die feit dat ons God ten alle tye moet eer vir die rol wat Hy in ons suksesse speel.

Dit is belangrik dat ons hierdie beginsels wat Gideon en sy manskappe toegepas het, ook in ons eie lewens sal toepas. Daar is soveel verborge seëninge wat die Here vir elkeen van ons wil oopsluit, maar dit is soms seëninge wat slegs deur korporatiewe gehoorsaamheid en gebed oopgesluit kan word. Dit is regtig tyd dat die Bruid van Christus openlik en effektief met mekaar sal begin kommunikeer, en ek voel sterk dat die Gees wil hê dat hierdie kommunikasie eers in ons eie huise en op ons eie voorstoepe moet geskied, voor dit kan uitkring.

Vanaf vers 23 lees ook hoe Gideon die ander Israeliete en die Efraimiete genader het om die Midianiete te agtervolg en ten volle te verslaan. Ons lees ook in die eerste 4 verse van Rigter 8 dat die groepe wat later ingeroep was, ontsteld was dat Gideon hulle nie oorspronklik genader het nie.

Daar is ook ‘n les vir die korporatiewe bruid in hierdie gedeelte. Binne ons gesinstruktuur en die Bruid het elke lid van die span hulle eie werkie wat die groter skeppings doel van die struktuur bevorder. Ons moet ophou om so besig te wees met ander mense se stukkies en se werkies, en eerder weer begin om die muur hier voor ons eie huis te bou.

Die Here weef ons werkies en verkillende take aanmekaar volgens Sy volmaakte plan. Ons moet ook ophou om afgunstig te wees op die werkies wat die ander by die Here gekry het, ons moet eerder dankbaar wees vir ons eie skeppings doel en daarop fokus, en op hierdie manier sal God dan openbaar hoe ons by die struktuur wat Hy vir ons gekies het moet inval.

Ek voel dat dit weereens belangrik is om hierdie beginsel deur te trek na ons gesinne en ons kinders, Binne in die gesin het elkeen hulle verskillende persoonlikhede en nukke en grille en ons is juis so gemaak omdat ons identiteit so nou aan ons skeppings doel gekoppel is. Dit is ons werk om elkeen van ons gesinslede die geleentheid te gun om hulle voorbereiding ten opsigte van hulle skeppings doel te voltooi. Ons moet die moeite begin doen om elkeen van ons kinders te verstaan, hulle onderskeidelike roepings met die Here te bespreek en hulle dan toe te rus, elkeen vir sy eie werkie.

Hoe lyk jou vlug plan? Weet jy en jou mede loots wat julle gesamentlike doel in die lewe is? Het julle al saam by Pa gaan aanklop vir Sy padkaart, of ploeter julle maar net voort in hierdie onstuimige storm van spanning en frustrasie? Weet julle mede passasiers waarheen julle oppad is, en weet hulle op wie julle vertrou om julle veilig anderkant aan te bring? Is jy nog dankbaar vir die unieke en besonderse pad wat die Here met jou wil stap, of wens jy ook steeds konstant dat jy maar eerder plekke met ‘n ander een van God se kinders kan ruil?

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.