Liza Welsh

Posts Tagged ‘bruilof’

Pad Na Sion – Aanhef

In Pad na Sion,Reeks Gedagtes on November 20, 2009 at 10:06

So sê die Heilige, die Ware God wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie:

My Liefste …….

Ek weet jy is moeg gespartel daar tussen die golwe van die lewe. Ek weet jou arms en jou bene pyn. Ek weet jou hart voel soos ‘n klip, wat jou hier vanuit jou binneste, onder die water in dwing.

Ek weet hoe klein jy teen die golwe voel. Ek tel elke traan wat jy stort… die wind wat hier teen jou wang verby skuur… dis Ek wat elke traan kom afdroog.

Ek is daar waar jy is: Ek is in die donderweer wat dreun en die weerlig wat so flits. Ek sien jou, Ek hou ‘n oog oor jou.

Ek weet jy is skaam oor dit wat gebeur het. Ek weet jy is verleë en jou skaamte en jou skuld gevoelens jaag jou soos genadelose spoke deur die oseaan se waters.

Ek weet jy is kwaad en bitter. Ek weet van al die onderdrukking wat jy verduur het. Ek weet hoeveel daar van jou gesteel is. Ek het elke een van jou wonde opgeskryf, elke verlies het Ek opgeteken! Vir daardie opofferings sal ek jou tien voudig beloon… Jy sal meer as net klein geld terug kry vir die diens wat jy sovêr vir My verrig het.

Ek weet jy voel alleen, Ek weet jou maters is maar skaars in hierdie rowwe tyd, maar Ek is hier! Ek wil myself vir jou neerlê, soos ‘n brug oor hierdie onstuimige see. 

My engel, appel van My oog, ek weet jy is platgeslaan. Ek weet jy voel so verlate soos ‘n weeskind, ek weet jy voel so alleen soos ‘n weduwee. Ek weet die donker het met ‘n harde slag om jou toegeslaan. Ek wil jou las vir jou kom dra – Ek wil jou kom troos.

Ek is klaar hier, die brug is klaar gebou my Liefling, dis net jy wat deur die sout water in jou oë moet tuur en My moet raak sien. Dis jy wat net moet vasgryp aan die brug sodat Ek jou kan optel en sodat jy van My brug gebruik kan maak.

Kyk hoe verlig die droom en die seëninge wat Ek voor die grondlegging van die aarde vir jou beplan het, die brug. My plan vir jou skyn so helder, kan jy dit sien? Gryp My vas, Ek wil die sout water wat jou ogies so brand kom weg vee sodat jy die glorie wat ek vir jou beplan het kan waardeer.

Ek wil jou afdroog en jou warm toevou, Ek wil vir jou nuwe, droë klere aantrek en jou honger magie vul met kos wat se smaak jy nog nie eers in jou wildste drome geproe het nie. Ek wil vir jou ‘n fees maal hou met die beste wyn om jou dors te les… Ek is klaar hier my Geliefde Bruid, Ek is die brug oor hierdie onstuimige see, Ek is die antwoord en die hoop waarna jy so desperaat opsoek is…. jy hoef nie eers vêrder te swem nie, Ek is hier binne gryp afstand… Kan jy My al sien??

Ek is lief vir jou!  My Eerste Liefde, Vlees van My Vlees – Ek verlang so innig, so baie verskriklik na jou… wil jy maar nie My hulp en My liefde aanvaar nie?

gebed vir my man se vrou

In Gebede on November 19, 2009 at 20:54

Op die beste van dae sukkel ek om ‘n multi layered, multi tasking vrou van die 21 eeu te wees. Net so wanneer dinge vir my te veel wil raak, kniel ek by die Here, en dan help Hy my. Jesus het my geleer dat voor ek aan mense wil staan en verander, moet ek eers na myself begin kyk, en daarom is my eerste gebed vir my man se vrou.

Liefste Koning Jesus

Vanaand kom sit ek hier op U skoot, en ek wil graag erken dat ek glad nie tot enige iets instaat is sonder U nie. Ek kan nie eers die tuin van my lewe in stand hou nie. Here daar is vlekke, slegte plekkies wat die vrugte van my hart bederf. Here verwyder die goggatjies, hier uit my hart, wat al daardie skade aanrig. Here daardie goggatjies kan ek sommer in so ‘n hele string op noem: hulle name is selfsug, ongeduld, en geïrriteerdheid. Here spin hulle toe in die kokon van U genade en laat daar skoenlappertjies van goedhartigheid, lank moedigheid en die gewilligheid om ander se laste te dra, uit kruip.

Here neem die onkruid van my ou slegte gewoontes, negatiewe ingesteldheid, onregverdige verwagtings en self verdedigende standpunte weg. Here saai die saad van geduld, goed hartigheid, getrouheid, nederigheid en sagtheid.

Here net U, die grootte Tuinier kan hierdie oerwoud van ‘n hart in ‘n mooi, vrugbare, God-aanbiddende tuin verander. Wys my die onkruid wat nog moet uitgeroei word Here, veral die wat my liefde en my verhouding met my man verdring.

Ja Here, soms is ek nie liefdevol nie, ek kritiseer hom, ek word kwaad, ek wil soms ook wraak neem, en soms bewys ek ook nie die respek wat ek behoort te bewys aan my man nie. Here gee dat ek van hierdie selfsugtige onkruid sal kan afstand doen, maak nie saak hoe ek voel nie. Here gee dat ek sal kan vergewe sonder om ooit weer terug te kyk.

Here gebruik my as ‘n vrede maker, en iemand wat genesing in my verhoudings met ander kan bring. Here maak asb. die lyne van kommunikasie tussen my en ander mense oop. Here maak my, my man se lewenslange helper, sy siels-genoot, sy friend, en sy pilaar van ondersteuning.

Here gee dat ek ‘n spesiale plekkie vir hom sal kan inrig, waar hy rustig en vreedsaam kan verkeer, Here gee dat hy by my kan veilig voel. Here help my ook om tussen dit alles steeds ‘n tydjie in te ruim om myself te versorg. Here laat my groei om ‘n kreatiewe, sterk vrou met vuur in my gees en die nodige self vertroue te wees. Here mag my man ten alle tye trots wees om my as sy vrou te hê.

Here hier voor U kruis kom sit ek nou al my verwagtinge. Here ek ontslaan my man van enige laste wat ek hom onnodiglik oplê. Laste wat ek eintlik vir U moet gee. Here help my om hierdie man wat U vir my gegee het te aanvaar nes hy is, sonder om hom te probeer verander. Here as daar enige veranderings in hom nodig is, Here plaas ek dit in U hande, vorm hom soos U goed dink, en soos ek wil nie. Here help my om te onthou dat slegs U perfek is, en dat ek na U moet opkyk om ons perfek by mekaar te laat pas.

Here leer my hoe om vir my man te bid, en leer my om te verseker dat my gebede sal spreek van my onbeskryflike liefde vir my man. Here wys my wat onvoorwaardelike liefde regtig is, en Here snoei ons liefde, daar waar daar dooie puntjies is, sny hulle uit, en kweek asb. nuwe liefde om die dooie stukkies te vervang..

Here bring ‘n gevoel van enigheid tussen ons.. Mag die Here van geduld en liefde ons toe laat om die selfde oor goed te begin dink, om soos Jesus oor goed te begin dink.

Mag ons saam werk om mekaar aan te vul. En help ons om saam na vrede te streef. Here mag ons commitment tot U en mekaar sterker word by die dag, mag ons meer passievol oor U en mekaar word, elke dag.

Here staan my man by, in sy taak om die Hoof van ons huis te wees. Wys my Here, hoe om sy leiding te aanvaar en hoe om hom te ondersteun. Here gee my die perspektief om sy drome en wense te verstaan. Wys my Here wat dit is wat my man nodig het, en wys ook vir my moontlike probleme uit, voordat hulle kan skade doen. Here bring nuwe lewe na ons verhouding.

Here vernuwe my hart, siel, gees en verstand. Here maak my ‘n nuwe mens, met nuwe perspektief en ‘n nuwe uitkyk op die lewe. Help my om met nuwe oë na my man te kyk, met vernuwe waardering, nuwe liefde, nuwe aanvaarding en ‘n vernuwe getrouheid. Here gee vir my man, ‘n nuwe vrou, Here laat daardie nuwe vou ek wees.

Ek bid dit alles in die naam van my Verlosser en Salig maker, Jesus Christus.

Amen.

Gideon – Deel 9

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes on September 3, 2009 at 16:53

Teks Rigters 7: 15 – 8: 4

Die tweede deel van Rigters 7:15 het my opgeval toe ek dit weer vanoggend lees. In die tweede deel van die vers deel Gideon met sy manskappe (sy span) die opdrag en die troos van die Here, m.a.w. Gideon deel die strategie of die plan wat die Here vir Hom gegee het met sy span maats.

In die laaste paar weke het die Here die belangrikheid van die gesinstruktuur op hart kom lê. Die posisie wat die gesin binne die liggaam van Christus moet vervul is dalk ‘n  bekende konsep vir ons, maar tog druk daar ‘n dringendheid op hart om die gesin as die fondament van ons samelewing te onderstreep.

As jong dame was ek bevoorreg genoeg was om die waarde van die gesin struktuur by my ouers te leer. My ouers het ‘n bediening in Heidedal, net buit Bloemfontein gehad. Die bediening se naam was Gesinsbou, en die roeping wat die Here op my ouers se harte gelê het was om die gebroke gesinstruktuur wat jong kinders na die strate toe gedryf het, te gaan herstel.

As tiener dogter het dit ongelukkig teen vlees en been ingesny om my waardering vir hulle werk en die waardes wat hulle my geleer het te wys. Op 18 weet ons mos alles, is ons mos alles en kan ons niks by enige iemand leer nie. Maar die waarheid is dat my ouers se bediening my voorberei het vir die rowwe pad wat ons gesin in die afgelope jaar geloop het. Terwyl ek nou terug dink, kom verlig die Gees weer die waarde van die gesin as span vir my – die enigste verweer wat ons teen die morele aanslae op ons kinders se lewens het, is ons gesinstruktuur en die voorbeeld wat ons binne daardie struktuur vir ons kinders stel.

Hierdie beginsel bring my terug na die tweede gedeelte van vers 15. Dit is alles goed en wel dat ons as ouers by die Here gaan hoor wat Sy plan vir ons gesin is, maar die plan val plat wanneer ons nie die groter prentjie aan ons kinders oordra nie.

Ek het nou die dag die mooi voorbeeld gehoor van iemand wat oor hierdie selfde beginsel gepraat het. Kom ons dink nou maar net aan die slag wat ons op ‘n vliegtuig klim. Die loots kondig voor die tyd aan waarheen die vliegtuig vertrek. Ek kan nie aan een persoon dink wat sommer net so op ‘n vliegtuig sal klim sonder om te weet waarheen die vliegtuig vlieg nie. Die selfde geld vir ons kinders, dit is ons verantwoordelikheid om die vlug plan wat die Here aan ons as ouers oordra, weer aan ons kinders oor te dra. Dit is belangrik dat ons God se doelwitte en drome vir ons lewens met hulle sal deel. Daarmee saam is dit ook belangrik dat ons nie net ons welslae nie maar ook ons teleurstellings met hulle moet deel.

Die krag wat ontsluit word wanneer ‘n span korporatief saam onder die leiding van die Here werk, word vir ons baie duidelik in die daaropvolgende verse uitgebeeld. Die hand van die Here in die slagting word ook omslagtig beskryf, en  dit onderskryf die feit dat ons God ten alle tye moet eer vir die rol wat Hy in ons suksesse speel.

Dit is belangrik dat ons hierdie beginsels wat Gideon en sy manskappe toegepas het, ook in ons eie lewens sal toepas. Daar is soveel verborge seëninge wat die Here vir elkeen van ons wil oopsluit, maar dit is soms seëninge wat slegs deur korporatiewe gehoorsaamheid en gebed oopgesluit kan word. Dit is regtig tyd dat die Bruid van Christus openlik en effektief met mekaar sal begin kommunikeer, en ek voel sterk dat die Gees wil hê dat hierdie kommunikasie eers in ons eie huise en op ons eie voorstoepe moet geskied, voor dit kan uitkring.

Vanaf vers 23 lees ook hoe Gideon die ander Israeliete en die Efraimiete genader het om die Midianiete te agtervolg en ten volle te verslaan. Ons lees ook in die eerste 4 verse van Rigter 8 dat die groepe wat later ingeroep was, ontsteld was dat Gideon hulle nie oorspronklik genader het nie.

Daar is ook ‘n les vir die korporatiewe bruid in hierdie gedeelte. Binne ons gesinstruktuur en die Bruid het elke lid van die span hulle eie werkie wat die groter skeppings doel van die struktuur bevorder. Ons moet ophou om so besig te wees met ander mense se stukkies en se werkies, en eerder weer begin om die muur hier voor ons eie huis te bou.

Die Here weef ons werkies en verkillende take aanmekaar volgens Sy volmaakte plan. Ons moet ook ophou om afgunstig te wees op die werkies wat die ander by die Here gekry het, ons moet eerder dankbaar wees vir ons eie skeppings doel en daarop fokus, en op hierdie manier sal God dan openbaar hoe ons by die struktuur wat Hy vir ons gekies het moet inval.

Ek voel dat dit weereens belangrik is om hierdie beginsel deur te trek na ons gesinne en ons kinders, Binne in die gesin het elkeen hulle verskillende persoonlikhede en nukke en grille en ons is juis so gemaak omdat ons identiteit so nou aan ons skeppings doel gekoppel is. Dit is ons werk om elkeen van ons gesinslede die geleentheid te gun om hulle voorbereiding ten opsigte van hulle skeppings doel te voltooi. Ons moet die moeite begin doen om elkeen van ons kinders te verstaan, hulle onderskeidelike roepings met die Here te bespreek en hulle dan toe te rus, elkeen vir sy eie werkie.

Hoe lyk jou vlug plan? Weet jy en jou mede loots wat julle gesamentlike doel in die lewe is? Het julle al saam by Pa gaan aanklop vir Sy padkaart, of ploeter julle maar net voort in hierdie onstuimige storm van spanning en frustrasie? Weet julle mede passasiers waarheen julle oppad is, en weet hulle op wie julle vertrou om julle veilig anderkant aan te bring? Is jy nog dankbaar vir die unieke en besonderse pad wat die Here met jou wil stap, of wens jy ook steeds konstant dat jy maar eerder plekke met ‘n ander een van God se kinders kan ruil?

Woede teenoor Selfbeheersing

In Koffietyd on Augustus 27, 2009 at 15:04

Vir die grootste deel van my lewe het ek vas geglo dat dit verkeerd is om kwaad te word. Ek het geglo dat woede sonde is en dat ek nie mag kwaad word nie. Dit is eers onlangs dat ek agtergekom het dat daar ‘n fyn balans is tussen kwaad word en om nie self beheersing toe te pas nie. Daar is ook ‘n fyn balans wat gehandhaaf moet word want, alhoewel woede natuurlik is en ‘n emosie is wat ons moet erken en verwerk, moet ons waak daarteen om nie bitter en hard te word nie. Woede moet altyd gevolg word deur vergifnis, sodat bitterheid nie sal saad skied in ons harte nie.

Woede is ‘n emosie wat as een van ons ingebore beskermings meganismes dien. Woede veroorsaak dat ons liggame meer adrenalien afskei, en dit is ons liggaam se natuurlike manier om ons I staat te kan stel om onsself en ons geliefdes te kan verdedig.

Hiermee bedoel ek glad nie dat ons links en regs nou kan kwaad word nie. Ons moet eerder na die character van ons Hemelse Vader kyk om te sien hoe ons, ons woede moet bestuur. Ons Vader is lank moedig, Hy word nie vinnig kwaad nie, en beteël Homself deur nie die volle omvang van Sy woede op Sy volk te laat neerstort nie. Hy vergewe hulle ook telkens, nog voor dat hulle selfs om Sy vergifnis gevra het.

Dit is ook belangrik dat ons moet verstaan dat ons selfbeheersing moet toe pas terwille van onsself en nie terwille van ander nie. As ons Kyk na Jesaja 48:9-11 kan ons sien hoe die Here verduidelik dat Hy terwille van Sy eie Naam en Eer Homself en Sy woede beteël. Daarom moet ons ook ons woede nie onderdruk nie, maar wel beteël.

Om ons woede te onderdruk en te glo dat ons nie mag kwaad word nie is ‘n baie ongesonde denkpatroon. Dit is juis hierdie denkpatroon wat so ‘n septiese seer hier in my binneste veroorsaak het. Vir soveel jare het ek my woede onderdruk, geïgnoreer en dan nog skuldig gevoel omdat ek so gereël myself moes keer omdat ek wou kwaad word. Hier wond het so nou en dan oopgebars en dan was dit ‘n verskriklike gemors waarin ek myself glad nie op ‘n gesonde manier kon uit druk en kon uiting gee aan my emosies nie.

Die ironie van die saak is dat nou nadat die Here my geleer het om my woede te erken, te aanvaar en daar deur te werk en dan daarna te vergewe, is ek meer lank moedig, meer geduldig en emosioneel baie meer gesond.

Wit en Skarlaken

In Koffietyd on Augustus 13, 2009 at 16:15

Die maan was wit…
Die maan is rooi,
Bloed het gevloei
Bloed is gestort
Bloed is uitgegiet oor ons grond, my lief…

Wit soos sneeu…
Skarlaken rooi,
Bloed het gevloei
Bloed is gestort
Bloed is uitgegiet vir ons, my lief…

‘n Bruid vir eeue heen deur leuns verblind,
‘n Liggaam deur Sy vlees verslind,
‘n liggaam deur Sy hand verbind.

‘n Bruidegom se Glorie oor eeue heen verbloem,
Kosbare Bloed en Water het uit Sy sy gekom,
Kosbare Bruid met Heerlike Bruidegom versoen!

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.