Liza Welsh

Posts Tagged ‘bruidegom’

Pad Na Sion – Aanhef

In Pad na Sion,Reeks Gedagtes on November 20, 2009 at 10:06

So sê die Heilige, die Ware God wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie:

My Liefste …….

Ek weet jy is moeg gespartel daar tussen die golwe van die lewe. Ek weet jou arms en jou bene pyn. Ek weet jou hart voel soos ‘n klip, wat jou hier vanuit jou binneste, onder die water in dwing.

Ek weet hoe klein jy teen die golwe voel. Ek tel elke traan wat jy stort… die wind wat hier teen jou wang verby skuur… dis Ek wat elke traan kom afdroog.

Ek is daar waar jy is: Ek is in die donderweer wat dreun en die weerlig wat so flits. Ek sien jou, Ek hou ‘n oog oor jou.

Ek weet jy is skaam oor dit wat gebeur het. Ek weet jy is verleë en jou skaamte en jou skuld gevoelens jaag jou soos genadelose spoke deur die oseaan se waters.

Ek weet jy is kwaad en bitter. Ek weet van al die onderdrukking wat jy verduur het. Ek weet hoeveel daar van jou gesteel is. Ek het elke een van jou wonde opgeskryf, elke verlies het Ek opgeteken! Vir daardie opofferings sal ek jou tien voudig beloon… Jy sal meer as net klein geld terug kry vir die diens wat jy sovêr vir My verrig het.

Ek weet jy voel alleen, Ek weet jou maters is maar skaars in hierdie rowwe tyd, maar Ek is hier! Ek wil myself vir jou neerlê, soos ‘n brug oor hierdie onstuimige see. 

My engel, appel van My oog, ek weet jy is platgeslaan. Ek weet jy voel so verlate soos ‘n weeskind, ek weet jy voel so alleen soos ‘n weduwee. Ek weet die donker het met ‘n harde slag om jou toegeslaan. Ek wil jou las vir jou kom dra – Ek wil jou kom troos.

Ek is klaar hier, die brug is klaar gebou my Liefling, dis net jy wat deur die sout water in jou oë moet tuur en My moet raak sien. Dis jy wat net moet vasgryp aan die brug sodat Ek jou kan optel en sodat jy van My brug gebruik kan maak.

Kyk hoe verlig die droom en die seëninge wat Ek voor die grondlegging van die aarde vir jou beplan het, die brug. My plan vir jou skyn so helder, kan jy dit sien? Gryp My vas, Ek wil die sout water wat jou ogies so brand kom weg vee sodat jy die glorie wat ek vir jou beplan het kan waardeer.

Ek wil jou afdroog en jou warm toevou, Ek wil vir jou nuwe, droë klere aantrek en jou honger magie vul met kos wat se smaak jy nog nie eers in jou wildste drome geproe het nie. Ek wil vir jou ‘n fees maal hou met die beste wyn om jou dors te les… Ek is klaar hier my Geliefde Bruid, Ek is die brug oor hierdie onstuimige see, Ek is die antwoord en die hoop waarna jy so desperaat opsoek is…. jy hoef nie eers vêrder te swem nie, Ek is hier binne gryp afstand… Kan jy My al sien??

Ek is lief vir jou!  My Eerste Liefde, Vlees van My Vlees – Ek verlang so innig, so baie verskriklik na jou… wil jy maar nie My hulp en My liefde aanvaar nie?

gebed vir my man se vrou

In Gebede on November 19, 2009 at 20:54

Op die beste van dae sukkel ek om ‘n multi layered, multi tasking vrou van die 21 eeu te wees. Net so wanneer dinge vir my te veel wil raak, kniel ek by die Here, en dan help Hy my. Jesus het my geleer dat voor ek aan mense wil staan en verander, moet ek eers na myself begin kyk, en daarom is my eerste gebed vir my man se vrou.

Liefste Koning Jesus

Vanaand kom sit ek hier op U skoot, en ek wil graag erken dat ek glad nie tot enige iets instaat is sonder U nie. Ek kan nie eers die tuin van my lewe in stand hou nie. Here daar is vlekke, slegte plekkies wat die vrugte van my hart bederf. Here verwyder die goggatjies, hier uit my hart, wat al daardie skade aanrig. Here daardie goggatjies kan ek sommer in so ‘n hele string op noem: hulle name is selfsug, ongeduld, en geïrriteerdheid. Here spin hulle toe in die kokon van U genade en laat daar skoenlappertjies van goedhartigheid, lank moedigheid en die gewilligheid om ander se laste te dra, uit kruip.

Here neem die onkruid van my ou slegte gewoontes, negatiewe ingesteldheid, onregverdige verwagtings en self verdedigende standpunte weg. Here saai die saad van geduld, goed hartigheid, getrouheid, nederigheid en sagtheid.

Here net U, die grootte Tuinier kan hierdie oerwoud van ‘n hart in ‘n mooi, vrugbare, God-aanbiddende tuin verander. Wys my die onkruid wat nog moet uitgeroei word Here, veral die wat my liefde en my verhouding met my man verdring.

Ja Here, soms is ek nie liefdevol nie, ek kritiseer hom, ek word kwaad, ek wil soms ook wraak neem, en soms bewys ek ook nie die respek wat ek behoort te bewys aan my man nie. Here gee dat ek van hierdie selfsugtige onkruid sal kan afstand doen, maak nie saak hoe ek voel nie. Here gee dat ek sal kan vergewe sonder om ooit weer terug te kyk.

Here gebruik my as ‘n vrede maker, en iemand wat genesing in my verhoudings met ander kan bring. Here maak asb. die lyne van kommunikasie tussen my en ander mense oop. Here maak my, my man se lewenslange helper, sy siels-genoot, sy friend, en sy pilaar van ondersteuning.

Here gee dat ek ‘n spesiale plekkie vir hom sal kan inrig, waar hy rustig en vreedsaam kan verkeer, Here gee dat hy by my kan veilig voel. Here help my ook om tussen dit alles steeds ‘n tydjie in te ruim om myself te versorg. Here laat my groei om ‘n kreatiewe, sterk vrou met vuur in my gees en die nodige self vertroue te wees. Here mag my man ten alle tye trots wees om my as sy vrou te hê.

Here hier voor U kruis kom sit ek nou al my verwagtinge. Here ek ontslaan my man van enige laste wat ek hom onnodiglik oplê. Laste wat ek eintlik vir U moet gee. Here help my om hierdie man wat U vir my gegee het te aanvaar nes hy is, sonder om hom te probeer verander. Here as daar enige veranderings in hom nodig is, Here plaas ek dit in U hande, vorm hom soos U goed dink, en soos ek wil nie. Here help my om te onthou dat slegs U perfek is, en dat ek na U moet opkyk om ons perfek by mekaar te laat pas.

Here leer my hoe om vir my man te bid, en leer my om te verseker dat my gebede sal spreek van my onbeskryflike liefde vir my man. Here wys my wat onvoorwaardelike liefde regtig is, en Here snoei ons liefde, daar waar daar dooie puntjies is, sny hulle uit, en kweek asb. nuwe liefde om die dooie stukkies te vervang..

Here bring ‘n gevoel van enigheid tussen ons.. Mag die Here van geduld en liefde ons toe laat om die selfde oor goed te begin dink, om soos Jesus oor goed te begin dink.

Mag ons saam werk om mekaar aan te vul. En help ons om saam na vrede te streef. Here mag ons commitment tot U en mekaar sterker word by die dag, mag ons meer passievol oor U en mekaar word, elke dag.

Here staan my man by, in sy taak om die Hoof van ons huis te wees. Wys my Here, hoe om sy leiding te aanvaar en hoe om hom te ondersteun. Here gee my die perspektief om sy drome en wense te verstaan. Wys my Here wat dit is wat my man nodig het, en wys ook vir my moontlike probleme uit, voordat hulle kan skade doen. Here bring nuwe lewe na ons verhouding.

Here vernuwe my hart, siel, gees en verstand. Here maak my ‘n nuwe mens, met nuwe perspektief en ‘n nuwe uitkyk op die lewe. Help my om met nuwe oë na my man te kyk, met vernuwe waardering, nuwe liefde, nuwe aanvaarding en ‘n vernuwe getrouheid. Here gee vir my man, ‘n nuwe vrou, Here laat daardie nuwe vou ek wees.

Ek bid dit alles in die naam van my Verlosser en Salig maker, Jesus Christus.

Amen.

Hou jou Kastaiings uit die Vuur Deel 4 – Dit is man en dit is vrou, maar wie is hulle saam?

In Hou jou kastaiings uit die Vuur,Reeks Gedagtes on Oktober 13, 2009 at 21:06

 In die vorige hoofstuk het ons gekyk na die rol van die man en die vrou soos dit opgeteken staan in Genesis 2 : 4 -3:22. Die slotsom waarby ons uitgekom het is soos volg:

  • Die man en vrou is albei deur God geskape en hulle is as gelyke geskape.
  • Die man verwesenlik God die versorger van ons basiese fisiese behoeftes en daarom dien die man as konstante herinnering daaraan dat God aan ons fisiese behoeftes voorsien.
  • Die vrou verwesenlik God die versorger van ons emosionele behoeftes en daarom dien die vrou as konstante herinnering daaraan dat God ook aan ons emosionele behoeftes voorsien.
  • Die vrou is die moeder van al die mense en die feit dar sy die baarmoeder in haar dra wys daarop dat sy nie net gewer van lewe is nie, maar ook die emosionele en geestelike beskermer van die man.
  • Na die sondeval is die vrou onder die man aangestel.
  • Na die sondeval neem die man die posisie as die hoof van die huis in en daarom is hy die fisiese beskermer en die leier van die gesin.
  • Saam beteken Adam en Eva lewende mensdom. Die skeiding van die twee se uiteinde is altyd die dood in die vorm van die agteruitgang van ons samelewing.

In Genesis 2:24 beskryf die uiteinde van die samekoms tussen man en vrou. Daar staan geskrywe: “Daarom sal ‘n man sy vader en sy moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle sal een word.”

Maar wat beteken hierdie proses van en word? Waarom het God die huwelik tussen man en vrou ingestel? En hoe het ons so verblind geraak dat ons die counterfeit weergawe wat die wêreld ons bied met sulke oop arms verwelkom?

Reg deur die skrif en veral die boek Hooglied maak dit vir ons duidelik dat die huwelik die bloudruk is vir die tipe verhouding wat God met ons elkeen wil hê. Die huwelik is daargestel om as voorbeeld en voorbereiding te dien vir die bruilof van alle bruilofte, die wederkoms. Soos die tyd aangestap het, het mense na die huwelik begin verwys as slegs ‘n belofte, maar die skrif beskryf dit as ‘n verbond. In engels praat ons van ‘n covenant.

Dit was eers nadat ek die oorspronklike sluiting van ‘n verbond gaan navors het, dat ek die êrens van die verbond tussen mens en God en man en vrou begin verstaan het. Dit was die gebruik dat wanneer ‘n verbond tussen twee partye gesluit is dat beide die partye ‘n dier bring, die diere is dan geslag en die bloed is op die grond gestort. In die geval van ‘n huweliks verbond het die twee vaders van die man en vrou onderskeidelik, voor menigte getuies, deur die bloed gestap as teken dat die enigste uitweg uit die verbond die dood is. Sou een van die partye van die huweliks verbond die verbond breek dan sou hulle Vader wat deur die bloed gestap het, met sy lewe daarvoor betaal. God het die selfde verbond met Abraham gesluit in Genesis 15. Behalwe dat dit ‘n eensydige verbond was. Maak nie saak wie die verbond breek nie, God sou met Sy lewe daarvoor betaal. God se volk het soveel keer die verbond verbreek, en daarom moes die bloed van Jesus Christus gestort word ons weer met ons God te versoen en om sodoende ‘n nuwe verbond te sluit. Die bloed en water wat uit Jesus se sy op geloop het nadat Hy met ‘n spies deurboor is, het Hom met Sy bruid versoen.

As God bereid was om so vêr te gaan vir Sy geliefde wat soveel keer ontrou was aan Hom, dan is daar eintlik geen verskoning vir ons as gelowiges om nie ook so toegewyd aan ons huweliks maat te wees nie. Hierdie opdrag word vir my so mooi saamgevat in Efesiërs 5:21. As moderne vrou, het ek baie keer verby hierdie skrif geblaai en dit geïgnoreer omdat dit vir my maar baie ouderwets geklik het, totdat ek dit uit my nuwe perspektief gaan lees het. As ek dit in kort sou moes vertaal en dit eenvoudiger stel dan sal dit na so iets klink:

“Mans, vrouens, wees onderdanig aan mekaar uit respek en eerbied vir die groot opoffering wat Jesus Christus aan die Kruis vir ons gemaak het.

Dames, dien julle mans soos julle vir Christus dien… m.a.w. maak vir hom kos so asof jy dit vir Christus doen, wees vir hom lief sodat jy op die manier vir Christus behaag, respekteer sy besluite uit respek vir die posisie waarin Christus hom aangestel het.

Menere wees lief vir jou vrou soos Christus ons lief gehad het. Geen prys mag te hoog wees om vir haar te betaal nie, geen opoffering mag te groot wees nie, omdat Jesus bereid was om Sy lewe vir ons op te offer m.a.w. sien om na haar behoeftes soos Christus na ons behoeftes om sien, behandel haar met die selfde liefde en respek wat Christus ons mee behandel het, wees haar behulpsaam soos wat Christus ons steeds vandag behulpsaam is. “

Die wêreld het ons laat glo dat die rede vir die huwelik, ons eie persoonlike geluk en vervulling is, maar hierdie is ‘n ongelooflike selfsugtige uitkyk op die lewe. As ons eerlik na God se huwelik met Sy Bruid kyk dan kan ons sien hoekom God vir Hosea ‘n prostituut as vrou gekies het, toe Hy Hosea se huwelik as teken van Sy verhouding met Sy volk gebruik het. Die hoof doel van die huwelik is nie geluk nie, maar die verheerliking van ons Hemelse Vader en ons Heerlike Bruidegom. As ons maar net elke oomblik van elke dag ons huwelike so kan benader sal ons die diep geheimenisse waarvan daar in Efesiërs 5 gepraat word, begin verstaan en begin leef en dan omdat ons so onselfsugtig onsself vir ons huweliks maat opoffer, sal hulle mettertyd ook die selfde vir ons doen en dan kan die by produk van hierdie verbond net geluk wees, maar bo dit alles, maak nie saak hoe die harde werk wat ons nou in ons verhouding moet in sit, ons laat voel nie, die enigste doel wat ons voor oë moet hou is die verheerliking van ons Vader, Koning, Pa en Bruidegom.

As hierdie tog maar net deel van ons skool kurrikulum kon uitmaak, of as iemand êrens in ons kinder jare die huwelik en ons plig as man en vrou teenoor mekaar op hierdie manier kon verduidelik het, was daar soveel minder kastaiings wat ek en my lewens maat uit die vuur moes krap… dan was daar dalk soveel minder verbrokkelde verhoudings en dan weet ek ook definitief van soveel minder egskeidings wat sou plaas gevind het… is dit nie dalk omtrent tyd dat ons, ons kinders van kleins af begin leer hoe om hulle kastaiings uit die vuur te hou nie?

Die Seën van Partytjie Tyd

In Koffietyd,seën wense on September 14, 2009 at 10:15

Die van julle wat gereeld die blog lees sal nou al teen hierdie tyd agter gekom het dat die Here twee goed vir my in die laaste ruk oopgebreek het. Die eerste waarheid waarop Hy my aandag wou vestig is die belangrikheid daarvan om mense rondom ons en ook ons eie pad wat ons daagliks met die Here loop te seën. Die tweede ding wat die Here vir my oop gebreek het is die feit dat Hy wil hê dat gesinne hulle posisies in die Bruid moet begin in neem. Ek glo ook dat daar ‘n sterk oproep op ons is om deur Gebed en die uitspraak van God Gegewe Seëninge oor mekaar die gesinne waarby ons betrokke is tot hulle posisie in die Bruid op te rig.

Die Manna wat ek verlede week ontvang het, het gehandel oor die vrugte van die Gees en dag 40 het veral gehandel oor die mag van die tong. Die skrif gedeeltes: Genesis 40, Psalm 40 en Matteus 10 het net weer die belangrikheid van die woorde wat ons spreek vir my ingeskerp.

Die ander oproep wat op my hart begin druk het was om geleenthede soos verjaarsdae, kombuis tees, ram partytjies en ooievaars tees, self verwelkomings of afskeids partytjies en troues op ‘n nuwe manier te benader. Hoeveel seëninge sal ons nie vir mekaar kan oop sluit as ons gedurende die samekoms die Seën Wense wat God die geleentheid op ons harte lê met almal by die samekoms sou deel.

Die krag van die Seën Wense wat die Here tot dus vêr op my hart vir ander gelê het, word elke dag duideliker en duideliker bevestig. Na die uitspraak van die verkillende Seën Wense het daar weer ‘n geleentheid vir moontlike beter werks vooruitsigte vir my Pa oor sy pad gekom. Die Here het my die genade gawe bewys om ‘n baie liewe vriendin as Mamma te seën nog voor sy regtig geweet het dat sy swanger is, daar is ‘n definitiewe gedrags verandering in ons kinders en ‘n vrede oor ons gesin ten spyte van die druk van buite. Hierdie selfde druk het ons gesin vroeër van jaar amper verpletter, en nou kan ons saam by die Here gaan hoor wat Sy oplossing vir die uitdagings op ons pad is.

Ek wil jou weer uitdaag vandag, gaan lees veral Matteus 10 en spreek die Seën Wense wat die Here op jou hart gele het oor jou geliefdes en oor jouself uit.

Gideon – Deel 10

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes on September 8, 2009 at 13:49

Teks Rigters 8: 4 – 35

Die finale gedeelte van Gideon se storie is vol waarskuwings. Op die oog af lyk dit maar na bietjie nuttelose geskiedenis, maar ons het ook mos al geleer dat niks verniet in ons Pa se woord opgeskryf staan nie.

Die goeie stryd, die geveg wat ons daagliks vir die Here veg is maar ook ‘n alleen geveg. Daar is ‘n ou gesegde wat sê “When times are dark, friends are few.” Ek wil dit nogal bietjie aanpas om eerder by die intieme verhouding wat ons met ons God het, in te pas: “When we fight the darkness with all our might, friends are few.”

Ons lees dat Gideon en sy manne moeg was na hulle stryd, maar dat hulle steeds volhard het om die leiers van die Midianiete te agtervolg. Ons lees ook van al die mense by wie hulle aangeklop het om hulp, en hoe daar van hulle en hulle taak ‘n bespotting gemaak is.
Daar is tye wat ons in Gideon se skoene staan, hier waar ons gesin tans staan en dan kom mens agter hoeveel mense wat hierdie pad saam met jou begin stap het, uitgesak het. Jy kom agter hoe mense agter jou rug vir jou geloof lag en jy kom agter hoekom die Here jou span so selektief gekies het.

Partykeer is ons die mense by wie mede stryders aanklop vir hulp, daar is so baie keer wat ons so skepties is en ons ore vol wêreldse klei is sodat ons nie kan hoor wanneer die Here vra dat ons Sy manskappe moet versorg nie. Dit gebeur so maklik dat ons geduld en ons genade op is en dat ons medelye vir ‘n ander nêrens te vinde is nie.

Ons lees dat nadat Gideon sy taak vir die Here voltooi het, dat hy gaan wraak neem het op die wat van hom en sy leer ‘n bespotting gemaak het. Ons lees ook dat hy aan die Israeliete verkondig het dat hy nie oor hulle kan heers nie, juis omdat slegs God oor hulle heers. Tog in die amper die selfde asem lees ons van die buit wat hy bymekaar gemaak het vir ‘n afgod beeld.

Die groot waarskuwings van hierdie gedeelte lê vir my in hierdie laaste gedeelte. Vir die van ons wat in Gideon se bootjie is wil ek dit op ons harte druk om nie arrogant te raak oor God se goedheid en Sy beskerming nie. Ons kan nie van die Here vergeet en weer terug hardloop na ons afgode toe sodra die Here ons klaar gehelp het nie. Ons kan en mag nie die Here soos ‘n ou stukkende stoflap wat klaar sy werk gedoen het behandel nie, nee ons moet nie terug sak nie, nooit moet ons gemaklik raak as die Here goed vir ons sorg nie, ons moet steeds bly waak, steeds bly stry en steeds aanhou om ons Hemelse Bruidegom se Bruid voor te berei.

Vir die van ons wat God se Gideons in ons lewens tee kom wil ek ook waarsku. Moet nie op God se stryders, veral die wat die waarheid bring neer kyk nie. Jy gaan dalk nie hou van die waarhede wat uit hulle mond kom nie, maar God gebruik immer Sy stryders as Sy swaard, hulle is die skepr pyle wat uit Sy pyle koker kom.

Moet nie trap op daardie delikate veldblom wat God eintlik as vertrooster op jou pad gebring het nie. Hulle geduld en liefde en eerlikheid is nie ‘n swakheid nie. Wees versigtig hoe jy met ander omgaan, wees versigtig hoe jy handel.

Miga 2 maak dit duidelik dat God names Sy stryders wat onderdruk word sal optree.
“Ellende wag vir hulle wat rampe teen ander beplan, wat op die bed lê en dink aan kwaad om te doen, wat dit vroeg in die more gaan uitvoer omdat hulle mag in hulle hande het. Hulle begeer ‘n stuk grond en vat dit, huise en lê beslag daarop. Hulle kul ‘n ‘n man uit sy huis uit . Daarom sê die Here: Ek beplan ‘n ramp teen hierdie mense, hulle sal nie meer regop kan loop nie, want dit sal ‘n tyd van swaarkry wees.”

In watter kamp val jy? As God jou nou as ‘n Gideon gebruik, gaan jy ook na die stryd gemaklik raak en van jou God vergeet, of is jou ‘n bittereinder? En as jy van die is waar die Gideons van die lewe moet kom aan klop, hoe gaan jy hulle ontvang? Hoe lyk jou liefdes tenk, is hy vol genoeg om oor te loop en die honger stryders te voed?

Gideon – Deel 9

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes on September 3, 2009 at 16:53

Teks Rigters 7: 15 – 8: 4

Die tweede deel van Rigters 7:15 het my opgeval toe ek dit weer vanoggend lees. In die tweede deel van die vers deel Gideon met sy manskappe (sy span) die opdrag en die troos van die Here, m.a.w. Gideon deel die strategie of die plan wat die Here vir Hom gegee het met sy span maats.

In die laaste paar weke het die Here die belangrikheid van die gesinstruktuur op hart kom lê. Die posisie wat die gesin binne die liggaam van Christus moet vervul is dalk ‘n  bekende konsep vir ons, maar tog druk daar ‘n dringendheid op hart om die gesin as die fondament van ons samelewing te onderstreep.

As jong dame was ek bevoorreg genoeg was om die waarde van die gesin struktuur by my ouers te leer. My ouers het ‘n bediening in Heidedal, net buit Bloemfontein gehad. Die bediening se naam was Gesinsbou, en die roeping wat die Here op my ouers se harte gelê het was om die gebroke gesinstruktuur wat jong kinders na die strate toe gedryf het, te gaan herstel.

As tiener dogter het dit ongelukkig teen vlees en been ingesny om my waardering vir hulle werk en die waardes wat hulle my geleer het te wys. Op 18 weet ons mos alles, is ons mos alles en kan ons niks by enige iemand leer nie. Maar die waarheid is dat my ouers se bediening my voorberei het vir die rowwe pad wat ons gesin in die afgelope jaar geloop het. Terwyl ek nou terug dink, kom verlig die Gees weer die waarde van die gesin as span vir my – die enigste verweer wat ons teen die morele aanslae op ons kinders se lewens het, is ons gesinstruktuur en die voorbeeld wat ons binne daardie struktuur vir ons kinders stel.

Hierdie beginsel bring my terug na die tweede gedeelte van vers 15. Dit is alles goed en wel dat ons as ouers by die Here gaan hoor wat Sy plan vir ons gesin is, maar die plan val plat wanneer ons nie die groter prentjie aan ons kinders oordra nie.

Ek het nou die dag die mooi voorbeeld gehoor van iemand wat oor hierdie selfde beginsel gepraat het. Kom ons dink nou maar net aan die slag wat ons op ‘n vliegtuig klim. Die loots kondig voor die tyd aan waarheen die vliegtuig vertrek. Ek kan nie aan een persoon dink wat sommer net so op ‘n vliegtuig sal klim sonder om te weet waarheen die vliegtuig vlieg nie. Die selfde geld vir ons kinders, dit is ons verantwoordelikheid om die vlug plan wat die Here aan ons as ouers oordra, weer aan ons kinders oor te dra. Dit is belangrik dat ons God se doelwitte en drome vir ons lewens met hulle sal deel. Daarmee saam is dit ook belangrik dat ons nie net ons welslae nie maar ook ons teleurstellings met hulle moet deel.

Die krag wat ontsluit word wanneer ‘n span korporatief saam onder die leiding van die Here werk, word vir ons baie duidelik in die daaropvolgende verse uitgebeeld. Die hand van die Here in die slagting word ook omslagtig beskryf, en  dit onderskryf die feit dat ons God ten alle tye moet eer vir die rol wat Hy in ons suksesse speel.

Dit is belangrik dat ons hierdie beginsels wat Gideon en sy manskappe toegepas het, ook in ons eie lewens sal toepas. Daar is soveel verborge seëninge wat die Here vir elkeen van ons wil oopsluit, maar dit is soms seëninge wat slegs deur korporatiewe gehoorsaamheid en gebed oopgesluit kan word. Dit is regtig tyd dat die Bruid van Christus openlik en effektief met mekaar sal begin kommunikeer, en ek voel sterk dat die Gees wil hê dat hierdie kommunikasie eers in ons eie huise en op ons eie voorstoepe moet geskied, voor dit kan uitkring.

Vanaf vers 23 lees ook hoe Gideon die ander Israeliete en die Efraimiete genader het om die Midianiete te agtervolg en ten volle te verslaan. Ons lees ook in die eerste 4 verse van Rigter 8 dat die groepe wat later ingeroep was, ontsteld was dat Gideon hulle nie oorspronklik genader het nie.

Daar is ook ‘n les vir die korporatiewe bruid in hierdie gedeelte. Binne ons gesinstruktuur en die Bruid het elke lid van die span hulle eie werkie wat die groter skeppings doel van die struktuur bevorder. Ons moet ophou om so besig te wees met ander mense se stukkies en se werkies, en eerder weer begin om die muur hier voor ons eie huis te bou.

Die Here weef ons werkies en verkillende take aanmekaar volgens Sy volmaakte plan. Ons moet ook ophou om afgunstig te wees op die werkies wat die ander by die Here gekry het, ons moet eerder dankbaar wees vir ons eie skeppings doel en daarop fokus, en op hierdie manier sal God dan openbaar hoe ons by die struktuur wat Hy vir ons gekies het moet inval.

Ek voel dat dit weereens belangrik is om hierdie beginsel deur te trek na ons gesinne en ons kinders, Binne in die gesin het elkeen hulle verskillende persoonlikhede en nukke en grille en ons is juis so gemaak omdat ons identiteit so nou aan ons skeppings doel gekoppel is. Dit is ons werk om elkeen van ons gesinslede die geleentheid te gun om hulle voorbereiding ten opsigte van hulle skeppings doel te voltooi. Ons moet die moeite begin doen om elkeen van ons kinders te verstaan, hulle onderskeidelike roepings met die Here te bespreek en hulle dan toe te rus, elkeen vir sy eie werkie.

Hoe lyk jou vlug plan? Weet jy en jou mede loots wat julle gesamentlike doel in die lewe is? Het julle al saam by Pa gaan aanklop vir Sy padkaart, of ploeter julle maar net voort in hierdie onstuimige storm van spanning en frustrasie? Weet julle mede passasiers waarheen julle oppad is, en weet hulle op wie julle vertrou om julle veilig anderkant aan te bring? Is jy nog dankbaar vir die unieke en besonderse pad wat die Here met jou wil stap, of wens jy ook steeds konstant dat jy maar eerder plekke met ‘n ander een van God se kinders kan ruil?

Woede teenoor Selfbeheersing

In Koffietyd on Augustus 27, 2009 at 15:04

Vir die grootste deel van my lewe het ek vas geglo dat dit verkeerd is om kwaad te word. Ek het geglo dat woede sonde is en dat ek nie mag kwaad word nie. Dit is eers onlangs dat ek agtergekom het dat daar ‘n fyn balans is tussen kwaad word en om nie self beheersing toe te pas nie. Daar is ook ‘n fyn balans wat gehandhaaf moet word want, alhoewel woede natuurlik is en ‘n emosie is wat ons moet erken en verwerk, moet ons waak daarteen om nie bitter en hard te word nie. Woede moet altyd gevolg word deur vergifnis, sodat bitterheid nie sal saad skied in ons harte nie.

Woede is ‘n emosie wat as een van ons ingebore beskermings meganismes dien. Woede veroorsaak dat ons liggame meer adrenalien afskei, en dit is ons liggaam se natuurlike manier om ons I staat te kan stel om onsself en ons geliefdes te kan verdedig.

Hiermee bedoel ek glad nie dat ons links en regs nou kan kwaad word nie. Ons moet eerder na die character van ons Hemelse Vader kyk om te sien hoe ons, ons woede moet bestuur. Ons Vader is lank moedig, Hy word nie vinnig kwaad nie, en beteël Homself deur nie die volle omvang van Sy woede op Sy volk te laat neerstort nie. Hy vergewe hulle ook telkens, nog voor dat hulle selfs om Sy vergifnis gevra het.

Dit is ook belangrik dat ons moet verstaan dat ons selfbeheersing moet toe pas terwille van onsself en nie terwille van ander nie. As ons Kyk na Jesaja 48:9-11 kan ons sien hoe die Here verduidelik dat Hy terwille van Sy eie Naam en Eer Homself en Sy woede beteël. Daarom moet ons ook ons woede nie onderdruk nie, maar wel beteël.

Om ons woede te onderdruk en te glo dat ons nie mag kwaad word nie is ‘n baie ongesonde denkpatroon. Dit is juis hierdie denkpatroon wat so ‘n septiese seer hier in my binneste veroorsaak het. Vir soveel jare het ek my woede onderdruk, geïgnoreer en dan nog skuldig gevoel omdat ek so gereël myself moes keer omdat ek wou kwaad word. Hier wond het so nou en dan oopgebars en dan was dit ‘n verskriklike gemors waarin ek myself glad nie op ‘n gesonde manier kon uit druk en kon uiting gee aan my emosies nie.

Die ironie van die saak is dat nou nadat die Here my geleer het om my woede te erken, te aanvaar en daar deur te werk en dan daarna te vergewe, is ek meer lank moedig, meer geduldig en emosioneel baie meer gesond.

Gideon – Deel 3

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes,Uncategorized on Augustus 26, 2009 at 10:18

Teks Rigters 6:17 – 22

Ons lees in Rigters 6:17 dat Gideon na die vertroosting van Sy Vader vir bevestiging van sy roeping, van sy opdrag gevra het. Bevestiging is belangrik. Ons is menslik en dit is belangrik dat ons leer om te onderskei tussen ons eie menslike begeertes en God se woord. Dit help nie ons raak besig met ons eie goddelike takies en dan vra ons net na die tyd dat God dit moet seën nie. Dit werk nie so nie, die skrif sê dat ons allereers Sy wil moet na streef.

Gideon vra vir ‘n wonder teken en die Here bevestig so vir Gideon sy opdrag. Die gee gehoor aan Gideon se versoek. Tog is dit belangrik dat ons sal oplet en notisie neem van die hoeveelheid moeite wat Gideon gedoen het die voorbereiding van sy offergawe. Hier kan ons duidelik sien dat die Here wil hê dat ons behoorlik sal bemoeienis maak met sy saak. Ons moet moeite doen met ander, met onsself. Ons moet onsself vir hom eenkant hou. Ons moet ons geestelik mooi maak soos ‘n bruid haar mooi maak vir haar bruid op hulle trou dag. Ons moet ander lyk as die wêreld, op hierdie manier vereer ons ook ons God daagliks.

On lees dan in vers 22 dat die Engel van die Here van Gideon af weggegaan het na die wonder teken. Dit is belangrik dat ons sal verstaan dat dit nie beteken dat die Here nou weer heeltemal vir Gideon verlaat het nie. Dit beteken bloot dat ons moet onthou dat ‘n intieme verhouding met God nie beteken dat ons elke dag daardie hoendervleis geestelike ervaring gaan beleef nie, nee ons sal eerer die vrede dat ons met Sy Gees vervul is beleef. Ons moet ook nie net jaag van een hoendervleis ondervinding na die volgende nie. Ons moet eerder fokus daarop om met God te komunkeer en te luister as Hy met ons praat.

Ja ek stem saam ons dien ‘n ongelooflike, ‘n wonderbaarlike God, maar Hy is ook ‘n God wat goedertieren is, ‘n sagte God. Daarom is Hy ook soms in die aand wind wat so saggies aan jou wang vat as jy so eensaam en verlore voel. Partykeer is Hy die onverwagste soentjie wat my vierjarige wille wragtig op my wang kom plak en ek weet dat Hy altyd daar is as my Blondekop Skottie vir my oog knip.

Dit maak nie saak hoe seer my hart is of hoe kwaad of ontsteld ek is nie. As daardie Skotie sy regter oog met al sy lag stempeltjies vir my knip, glimlag ek onwillekeurig. Die warm gevoel wat oor my begin spoel versag my hart en droog my trane af want ek weet dat daardie warm gevoel deel uitmaak van ‘n liefdes vuur wat voor die grond legging van die aarde al aangesteek is. Ek is vlees geneem van my Skottie se vlees, been van sy been.. ‘n verbintenis deur God bepaal lank voor die berge gestalt gekry het en die hemel gewelf van die waters op die aarde geskei is.

Hoe praat die Here met jou? Het jy al daaroor gedink, wat is daardie spesiale ietsie wat God net met jou deel en niemand anders weet daarvan nie, wat is julle geheime ietsie?

Wit en Skarlaken

In Koffietyd on Augustus 13, 2009 at 16:15

Die maan was wit…
Die maan is rooi,
Bloed het gevloei
Bloed is gestort
Bloed is uitgegiet oor ons grond, my lief…

Wit soos sneeu…
Skarlaken rooi,
Bloed het gevloei
Bloed is gestort
Bloed is uitgegiet vir ons, my lief…

‘n Bruid vir eeue heen deur leuns verblind,
‘n Liggaam deur Sy vlees verslind,
‘n liggaam deur Sy hand verbind.

‘n Bruidegom se Glorie oor eeue heen verbloem,
Kosbare Bloed en Water het uit Sy sy gekom,
Kosbare Bruid met Heerlike Bruidegom versoen!

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.