Liza Welsh

Posts Tagged ‘bevestiging’

My antwoord op die gebed van ‘n kind…

In Gebede,Koffietyd on November 17, 2009 at 09:29

Die sand korreltjies in die uurglas gemerk as 2009 is besig om baie vinnig uit te loop en oral is almal besig om gou-gou net ‘n inventaris van die jaar te neem voor hulle te verstrengel raak in Kersfees liggies en blink tinsel stringetjies.

Soos ek ook maar onwillekeurig inventaris van ‘n wasmasjien jaar waardeur my gesin en my familie is. Die onbeskryflike vrede wat God my hart mee toevou kom dan loodreg teenoor onafgehandelde besigheid staan. Die opgewondenheid en afwagting van ‘n nuwe lewe kom staan loodreg teenoor die pyn en die nood wat oral rondom my heers. My eie genesing kom staan ook loodreg teenoor die wonde van die vir wie ek so innig lief is.

En tussen dit alles deur wil ek amper soos Johannes opstandig raak omdat die rondom my soveel meer lei as ek. Johannes het opstandig geraak oor die feit dat hy nie die geleentheid gegun was om soos die ander dissipels vir sy geloof te kon sterf nie. Nee, ek wil nie sterf nie, ek weet dat my werkie hier op aarde is nog nie klaar nie, maar ek wens so gereeld dat ek die jeuk van die mensies om my namens hulle kan dra. Soms wens ek dat daar ‘n vitamien B kompleks inspuiting vir die hart se seerste eina kan wees en dat ek namens ander deur hulle pyn kan werk sodat hulle wonde kan genees.

Dis terwyl ek so voel, dat ek selfs nog hier in my gees nog meer opstandig word wanneer ek versoeke uitstuur en geleenthede wat deur ons Pappa self geskep word onder die aandag van God se geliefdes te bring – soos my Vader my beveel en nie eens een persoon die moeite kan doen om hulle oë en hulle aandag vir ‘n oomblik van hulle eie lewe en eie behoeftes af te haal en so na ‘n ander uit te reik nie.

Die Here raak al hoe meer dringend in Sy oproep aangaande ons kinders en die wees kinders wat so aan hulle eie genade oorgelaat word. Vader se hart is regtig seer oor die gebrek aan die Bruid se bereidheid om uit te reik en hierdie kinders se harte met hulle God se hart te versoen. Elkeen van ons hou ‘n bos sleutels vas, wat die deur vir soveel kinders kan oopsluit, tog is ons so besig met ander goed dat ons nie uitkom by dit wat Vader regtig in hierdie tyd van ons vra nie.

Matteus 18 vers 1-5 is tog so duidelik oor die belangrikheid van kinders in die koninkryk van God. En daar is niks meer kosbaar as die manier waarop ‘n kind sy God vertrou nie. Self het ek die voorreg om daagliks te sien hoe my twee wille perdjies op hulle God vertrou en hoe getrou hulle Hemelse Pappa vir hulle sorg.

Daar is nie iemand anders wat vir hierdie kinders kan klere gee nie, daar is nie iemand anders wat hulle oor die kinders kan ontferm terwyl jy gou-gou net eers jou Desember vakansie se finale reëlings tref nie. Dis vir jou wat God vra, wees My hande, wees My voete, wees My arms…

Ek het nie die skares met ‘n mooi gebed en honger magies huis toe gestuur nie, NEE Ek het vir hulle kos saam met die brood van die lewe bedien. Ek het nie die vrou met die bloedvloeiing vertel hoe lief Ek haar het en haar toe weer weggestuur sodat Ek met my belangrike dagtake kon voort gaan nie, NEE, Ek het haar eers genees, eers het Ek van my tyd aan haar afgestaan om na haar te luister en haar te genees… daarom beveel Ek jou my kind kom stort My liefde uit en kom wees My antwoord op die gebed van ‘n kind.

 

This morning is a beautiful new morning!

In Gebede on November 3, 2009 at 14:59

Lieste Pappa

“ This morning is a beautiful new morning!” Met hierdie woorde en ‘n goue skynsel oor die gras teen die koppie hier agter die huis het U my gegroet, toe ek net so voor ses uur die radio aansit… die glimlag wat op daardie oomblik om my mond hoeke gespeel het, het nog net breër en breër geword vandag.

Pappa vanaf die sesde uur van vandag af hou U genade gawes net nie op nie… vir die vierde keer in een week seën U my met die selfde belofte en ook waarskuwing wat U vir Salomo in 2 Kronieke 8 oor die tempel gegee het.

En vir die soveelste keer bevestig U dat ek my drome reg verstaan: U is waarlik besig om ons stukkie grond, hierdie grond aan U gewei, U tempel, te seën. Ons is op die regte pad, U is ons God, daar is niemand anders in ons harte nie, op niemand anders vestig ons, ons hoop nie – en stadig maar seker is U besig om ons vir ons deursettings vermoë te beloon.

Die dag het aangegaan… maar so tussen Wiskunde somme en Engelse Grammar luister ek na Tom en Estie wat gesels oor hoe ons die Bybel, die Lewende, Geïnspireerde Woord van ons God behoort te lees en weer hiermee raak U aan my tot op die murg van elkeen van my bene.
Oor en oor gee U vir my die gedeelte uit Psalm 119 vanaf vers 97 – 108 en weer bevestig U vir my dat dit waarlik U Gees is wat my lei as Ek U woord lees, U het my oë oopgemaak, my geseën met die vermoë om U woord reg te verstaan.

U rig my op om aan te gaan met die taak wat U voor my gestel het… U kom maak vir U atleet ‘n protein shake om haar kragte op te bou en U kom klee U stryder in ‘n spink splinter nuwe wapen rusting. U kom sluit krag en geduld en liefde in my hart oop, wat voorheen vir my verberg gelê het.

Maar Pappa dis mos maar hoe dit gaan. Nes ons dink ons kan nie meer liefde bewys nie, nog meer nederig wees nie, nog meer geduldig wees nie, sodra ons dink dat ons nie nog nader aan U kan beweeg nie, dan trek U ons nog nader aan U bors en vou U, U groot sterk arms nog stywer om ons vas en dan versier U ons gesiggies met nog sagter, meer liefdevolle skoenlapper soentjies tot ons straal van U liefde en U glorie.

En dan hou die dinge ook nie daar op nie. Pappa onthou U toe ek gister aan vir my Skottie gesê het dat ek tog moet onthou om vir my vriendin te vra of sy dalk vir my daardie hoedjie vir Miachlan sal hekel, daardie een wat soos ‘n Liewenheersbesie lyk…. En vanoggend terwyl ek en Connel werk aan sy klanke gesels Soekie en haar ateljee gas en een van die goedjies wat die ateljee gas noem is oor die twee soorte liewenheersbesies. Daar is die oorspronklike, inheemse Liewenheersbesie wat al die plae vernietig, en dan is daar die indringer Liewenheersbesie wat van Asië af kom wat alles sommer net voor die voet vernietig. En so met een woord kom U en bevestig U nog van U beloftes en woord wat U al vir ‘n geruime tyd vir my gee.

U bevestig dat al die beloftes wat ek glo U vir my gegee het oor Miachlan en haar plekkie in die wêreld en die manier waarop U sal voorsien vir haar geboorte, dit is alles ware beloftes waaraan ek maar kan vas hou, beloftes waaroor ek openlik kan praat omdat ek nie dan as valse profeet afgemat sal word nie.

Die tweede bevestiging wat U vir my gee is dat ek die woord wat ek die laaste paar maande al konstant kry reg verstaan. Die leiers van ons gemeenskap, en hiermee bedoel ek die ouers van elke gesinstruktuur moet begin om die peste wat ons gemeenskap so teister uit te roei. Die enigste plek waar ons kan begin is by ons eie kinders.

Ons moet begin om ons oë oop te maak en te begin onderskei tussen die ware Liewenheersbesies in ons lewens en die indringer besies. Daar is elemente waaraan ons kinders bloot gestel word wat op die oog opslag heel onskadelik lyk omdat dit in die vorm van oulike animasies of onskuldige liedjies voorgelê word, maar sodra ons hierdie elemente van nader bekyk dan sien ons hoe hulle die saad wat ons so getrou in ons kinder se lewens plant verwoes.

Pappa daarom kom staan ek op my knieë voor U en ek vra nederig dat U elke ouer se oë sal oop maak sodat hulle, hulle kinders se omgewing kan suiwer van die indringer besies wat soos sprinkane U beloftes en U woord binne in hulle harte opvreet. Vader gee ons ouers die wete dat U hulle in ‘n gesags posisie aanstel het, dat hulle wel hulle kinders mag tugtig, volgens U woord en wel dit wat in hulle kinders se lewens ingespreek en ingelaat word, kan en mag en MOET filter.

Vader leer ons as ouers om U beloftes daaglikse EN volgens U WIL en WOORD in ons kinders se lewens in te spreek. Vader maak ons rustig genoeg in die aand om seën wense oor ons kinder te spreek terwyl hulle slaap en ook wanneer ons hulle verlaat om ons dag take te verrig. Gee dat ons sal begin om ‘n punt daarvan te maak om U seën oor ons kinders te spreek ook op spesiale geleenthede soos verjaarsdae en jaareind funksies en prys uitdelings. Mag ons waarlik die God gegewe Liewenheersbesies in ons kinders se lewens begin beskerm en die indringer besies begin uitroei.

Amen.

Seën Wense en Gebed vir Woensdag 16 September 2009

In Gebede,Koffietyd on September 16, 2009 at 14:55

Pappa Vader

Die lof en dankbaarheid borrel en kook oor hier in my Gees vandag. Here ek wil op die dak gaan staan en U lof uitbasuin, ter selfde tyd wil ek die atmosfeer van vrede, rus en kalmte wat U oor ons huis gebring het nie versteur.

Ek wil soos die bruid in Hooglied 5:2 sê: Ek het gister aand geslaap maar my hart het wakker gebly omdat ek my Beminde God se stem wou hoor en vir Hom wil oop maak as Hy klop.
Here dankie vir die kosbare tye wat ons snags saam spandeer wanneer niemand behalwe die jakalse daar buite roer nie. Dankie vir die kosbare beloftes wat U daagliks met my deel, en bevestig en waarmee U my troos.

Hier waar ek sit en U woord bestudeer, hier waar U my genadig genoeg is om met my te gesels maak U my aandagtig op die vreedsame manier wat Keenan toets skryf en Connel sit en planne beraam vir sy volgende “uitvindsel.” My Skottie se sagte gesnork op die bank herinner my aan die genade gekoppel aan sy eerste ware rusdag in twee weke en ook die wonderbaarlike manier waarop U deur sy besigheid vir ons sorg.

Here daar is soveel projekte wat steeds hang en waar mense hulle voete sleep. Here ek bid en vertrou dat U daardie projekte sal gebruik om op U tyd die finansies wat nodig is vir Miachlan se geboorte te verskaf. Vader Miachlan is waarlik ‘n geskenk pakkie uit die Hemel, ‘n kindjie deur U gestuur en daarom weet ek dat U al klaar voor die grondlegging van die aarde voorsiening gemaak het vir haar en daarom weet ek dat vir so lank as wat ons vas staan op U beloftes en vir so lank as wat ons glo dat ons meer werd is as die swaeltjies, wat nie een val sonder U toestemming nie, sal U op die regte tyd vir ons voorsien wat ons nodig het net soos U die Manna uit die Hemel vir die Israeliete gegee het.

Dankie Here dat ons huis nie meer ‘n oorlog zone is nie, dankie dat Keenan veilig genoeg voel om te konsentreer op sy studies en dat Connel die vryheid geniet om sy kreatiewe denke te ontwikkel. Here dankie dat ons kan begin om die vrugte van U werking in hulle gees te sien en dankie vri die manier waarop hulle geloof daagliks groei.

Dankie dat Ross so rustig slaap en veilig genoeg voel om eerlik oor sy emosies te wees. Dankie Here vir drie manne wat my geliefkoos en vertroetel laat voel, dankie Here vir die genade wat U ons daagliks bewys deur die liefde en geduld en rustigheid wat soos ‘n konings kleed om elkeen van ons skouers hang. Dankie Here dan U ons soos ‘n koninklike gesin seën met ons daaglikse benodighede nes U die lelies van die veld seën. Here dankie vir emmers vol waardering en aanvaarding vir mekaar en Here dankie bo dit alles vir U teenwoordigheid hier op ons plaas.
Here dankie dat U my daagliks herinner dat my genade gawes nie uit my eie vermoë gebore word nie, maar dit slegs op U tyd deur genade aan my geskenk word. Here dankie vir wysheid en kennis en insig en Here dankie vir die gawe om die Waarheid te kan herken. Here seën elke woord wat my vingers tik, laat nie een woord uit my menslike vermoë gebore word nie, maar eerder uit die mond van U Gees. Here seën my daagliks met die genade en insig wat ek nodig het om in outoriteit in U naam op te staan en U boodskap uit te dra.

Vader vandag is ook die dag waarop een van U diamante, en genade gawes haar eerste asem ingeasem het. Here dankie vir die genesing wat U deur Izan in my lewe en my gesin se lewe gebring het. Here ongelooflik baie bankie vir die reënboog van hoop wat haar glimlag en U liefde wat deur haar skyn in ‘n baie donker tyd vir my gebring het. Here dankie dat sy ‘n gedeelte van die leemte wat boeta se dood in my lewe gelaat het kom vul het en dankie Here vir die afwagting wat die vooruitsig op ‘n God gegewe vriendskap inhou. Vader, ek wil graag die volgende seën wens oor haar uitspreek op hierdie wonderlike dag: “Jy is Sy beminde bruid wat Hy een kant gesit het in Sy tuin, beskerm deur ‘n muur, kompleet met jou eie fontein. Mag jy ‘n granaatboom met keurige vrugte wees, mag jy soos Sy beste lekker ruik kruie wees, mag Sy liefde, Sy Woord en Sy genade soos ‘n borrelende fontein vir jou wees.” (Hooglied 4:12-15)

Here God ek wil U vra dat U vir ons die lente reën sal stuur Vader. Die grond is droog en dor en dit smag na water. Die nuwe grassies doen hulle bes en die bome bot, maar die grond en hard en die water skaars, Here skeur U hemel oop Vader en stuur vir ons reën my God, kom was die wêreld skoon, laat die stof gaan lê en die strome borrel en vloei. Vader wees ons genadig, hoor ons kreet Here ons is afhanklik van die reën uit U hand geskenk.

Amen.

Share
Email

Gideon – Deel 2

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes,Uncategorized on Augustus 25, 2009 at 10:46

Teks Rigters 6:11 – 17

Vers 11 van Rigters 6 begin vir ons vertel van die ontmoeting tussen die Engel van die Here en Gideon. Gideon was besig om hard te werk, die woord sê dat hy besig was om koring te slaan in die pars kruip waar hy vir die Amalekiete weggekruip het.

Die Engel groet hom deur vir hom te sê “Die Here is by jou, dapper man.” Nou kan ek my net voorstel hoe Gideon moes voel. Hy is natgesweet en moeg. Hy verdien sy brood deur die sweet van sy aangesig. Hy voel soos ek en jy aan die einde van die dag, moeg gewerk, gespanne en moeg. Behalwe vir die harde werk moet hy nou nog boonop bekommerd wees oor sy eie veiligheid. Hy kruip weg, hy is bang en nou noem hierdie man hom dapper?

Gideon se eerste reaksie is so soortgelyk aan ons eerste reaksie wanneer ons hande in die hare by ‘n vriend of vriendin kom en hulle ons probeer vertroos deur ons van die Here se liefde te verseker. Gideon het God vir die Israeliete se situasie geblameer. Hy was oortuig dat God sy volk in die steek gelaat het, dat HY hulle verlaat het.

Gelukkig vir ons en vir Gideon steur God Homself nie aan hierdie redenasie en onsinnige praatjies nie. God regverdig ook nie eers Sy aksies nie, Hy herhaal eerder weer Gideon se roeping. “Gaan met die krag wat jy het, en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!”

Sjoe, Gideon se moed moes seker in sy skoene gesak het, want hier ten midde van sy eie krisis, ten spyte van sy geveg om net kos in sy lyf te kry sonder om deur die vyand gesien en bedreig te word, vra die Here hom om verby sy eie probleem te kyk en ‘n hele volk te red. As ons mooi terug dink en na ons eie lewe en ander se lewens rondom ons kyk sal ons verbaas wees om te sien juis hoeveel keer God ons reg in die middel van ons eie krisis vra om iemand anders te help. Dit is gewoonlik ook in sulke tye van uiterste persoonlike nood wat die Here jou roeping, jou skeppings doel aan jou begin openbaar.

Nes Gideon het ek ook net my kop geskud toe ek besef wat die Here van my gevra het. Keer op keer het ek op my knieë gegaan en vir die Here gevra hoe op aarde ek die taak wat Hy vir my gegee het moet verrig. In die middel van my stryd om my broer se dood te verwerk vra God van my om
• my verhouding met my lewensmaat te red,
• om my kinders voor te berei vir hulle onderskeidelike roepings
• En Hom dan nog deur dit alles heel hartig te loof en te prys.

Morele ondersteuning van mense was ook maar yl gesaai aangesien my familie en vriende nie kon verstaan hoekom ek weer wou probeer om hierdie dooie verhouding te probeer red nie. Ons lees in vers 16 van Gideon se verskoning, die redes wat hy aanvoer oor hoekom hy nie die Israeliete sal kan red nie. Hy het vir die Here gesê dat nie hy of sy familie genoeg aansien onder die volk geniet sodat hy die volk kan lei nie. As mens die sosiale struktuur van die Israeliete in ag neem kan mens sy redenasie verstaan.

My redes was meer van ‘n persoonlike aard, my krag was min, ek was op die rand van erge depressie, ek kon myself skaars motiveer om te gaan stort en my tande te borsel. Die liefdes vuur in my hart was besig om te versmoor. Ek het nie geweet of dit die moeite werd was om weer te probeer nie.

Die Here het geduldig dag en nag na my geluister. Ons lees ook hoe Hy na Gideon luister. Soos ‘n goeie pa luister Hy geduldig na die vrese van sy kind. En nes ‘n pa nie sommer sy kind se vrese afjak nie, vertroos God sy seun deur hom van Sy liefde en sy ondersteuning, hulp en nabyheid te verseker. God verseker hom dat hulle saam die vyand sommer maklik sal verslaan.
Die Here het ook deur Sy skrif my vrese vertroos. Ek het ‘n belofte dagboek begin hou, daar was soveel skrifte wat Hy met my gedeel het, ‘n hemelse vrede het oor my lewe en my gesin se lewe gekom. God het ons almal begin vertroetel, ons wonde genees elke dag bietjie meer, hy weef ons elke dag bietjie stywer saam van. Sy liefde het my gesin gered, sy vrede het my terug gebring van die rand van depressie en verwoesting af.

Was dit my verbeelding?

In Koffietyd on Augustus 15, 2009 at 08:22

Die huis is aan die kant, die basse gepoeier en die wasgoed gewas…. Uiteindelik is almal geholpe en het ek ‘n paar minute vir myself. Vader praat met my, leer my, ek wik U so graag nog beter leer ken.

Die Here my wakker gemaak vroeg van oggend, toe die haan vir die eerste keer kraai…daar waar ek in my bed gele het, het Hy met my begin praat oor die toekoms, oor dinge wat Hy in ons lewens wil doen. Tog is dit so maklik om te wonder was dit my verbeelding, het ek reg gehoor… veral as die nuus so ongelooflik goed is en die beloftes so ongelooflik groot is….

Vanoggend antwoord Hy my, bevestig Hy sy beloftes, en tog waarsku Hy my teen die wat my dalk sal uitlag. Uit Kronieke 11, vertel Hy my van die wonder dade wat Hy met slegs 3 manne in David se leër gedoen het, die veldslae wat hulle gewen het, dan In Nehemia 2 herinner Hy my aan hoe die muur van Jerusalem weer opgebou is, en ook wys Hy vir my hoe Nehemia nie toegelaat het dat ander se skeptiese denkpatrone en klein geloof hom onder kry nie…

Daarom antwoord ek vandag almal wat so skepties is oor dit wat die Here vir ons elkeen wil doen: “….Die God van die hemels sal ons laat slaag in wat ons doen. Ons, sy dienaars gaan bou….” (Nehemia 2:20)

 Amen.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.