Liza Welsh

Posts Tagged ‘afrontasie’

Hou jou Kastaiings uit die Vuur Deel 2 – Wat is ‘n Man en Wat is ‘n Vrou? (1)

In Hou jou kastaiings uit die Vuur,Reeks Gedagtes on September 17, 2009 at 14:03

Elkeen van ons het ‘n ander prentjie in ons koppe van wie of wat ‘n man en wat ‘n vrou nou eintlik is. Hierdie prentjie verskil van persoon tot persoon en word maar baie beïnvloed deur die media en die samelewing.

As ons na manne kyk en die prentjies wat die media skets is ek redelik bly dat ek nie ‘n man is nie. Om aanvaarbaar te wees vir die samelewing moet jy ‘n delikate mengsel wees tussen ‘n metro man was sensitief is en wat sy sagter kant nie verwerp nie, tog moet jy ook ‘n goeie dosis Camel Man in jou bloed hê, veral as dit kom by die bou van jou lyf en jy moet my darem kan beskerm, maar jy moet asseblief tog net nie jou La Coste Hempie in die proses vuil smeer en verwag dat ek dit moet was nie en jy moet ook nie te veel sweet of oor die algemeen te veel foute maak nie.
Dit klink dalk verspot, maar as ons so na die praatjies om die girls se Vrydag Middag lunch tafel luister is dit tog maar nie waarop ons praatjies neer kom nie. “Ek wens my man wil dit doen, of ek wens hy was so en ag as hy maar net soos X se man kon wees.” Ons maak ons harte ‘n herberg vir soveel verwagtinge, tog vergeet ons om ieder een van daardie verwagtinge aan God se woord te gaan meet. Die probleem is dat as ons weer ons oë uitvee kan ons nie onthou hoekom ons vir hom lief geraak het of in die eerste plek van hom gehou het nie.

Vir ons dames is dit ook maar ‘n wipplank rit. Die een jaar is wulpse klein lyfies en skraal boutjies mode en die volgende jaar is dit weer mode om effe groter curves te hê. Ons word omring deur catch phrases soos: Dress for success! Al wat ‘n kosmetiese maatskappye is wil ons glo dat hulle produkte ons lewens gaan verander, Because you are worth it sê hulle, maar wat van Daisy wat vrou alleen twee tieners in die week groot maak en daagliks 40l water 2km vêr moet dra om haar kinders se klere te was. Sy loop 7 km werk toe en weer 7km tot waar haar taxi haar oplaai en dit met ‘n baba wat in haar binneste ontwikkel…. Sy het nie ‘n even complexion nie en sy kan ook nie Sadie en Dove bekostig die maand nie, want die prys van Paraffien is weer op, beteken dit dan dat sy maar eintlik nie ‘n regte vrou is nie?

My punt is eintlik dit: Ons staar ons so vas aan die uiterlike dat ons nie by die hart, wat nog te sê van die gees van ‘n man of ‘n vrou soos God ons geskape het uitkom nie.

Oral om my sien ek klein dogtertjies wat aantrek soos bekende Pop sterre, en ek kan jou waarborg dat Mamma en Pappa oor tien jaar geskok gaan staan as sy op 16 swanger is of dalk verslaaf gaan wees aan dwelms of drank, tog kan dit dan nie anders nie want haar rol model kan nie eers onthou om onderklere aan te trek as sy uitgaan of om haar kind in die veiligheid stoeltjie van haar motor vas te maak nie.

Vir so lank het ek myself gemeet aan my snyers pakkie en die sukses van die verkoopspan wat ek gelei het. As daar nie genoeg sales was die week nie, wat dit vir my soos ‘n persoonlike mislukking, die druk wat van die ander bestuurslede af gekom het, het aan my identiteit gevat en het my eerder afgebreek as wat dit my gemotiveer het.

Ek was my werk, ek was my verkoop personeel, ek was my snyerspakke en ek was die kontrakte wat ek ingebring het. My identiteit het uit sukses in die oë van ander bestaan en soos daardie sukses as gevolg van die ekonomiese klimaat vervaag het, het ek fisies siek geword, ek was bleek in my gesig en naar op my maag, my kop het gehang en die mislukking het soos die soet reuk van die dood om my gehang. As mens was ek besig om dood te gaan ek het nie meer geweet wie of wat ek was nie.

Dit was op hierdie punt dat ek uit die formele korporatiewe mark gestap het, ek het geweet dat ek moet uit, maar wat ek nie besef het nie, was dat ek my identiteit in God moes gaan soek het nie. Ek het veel eerder soveel geleenthede raakgesien om maar net weer my identiteit op ander besigheids geleenthede en die moontlikheid van sukses te bou. Ek het weer geval, weer seer gekry en die keer amper my gesin verloor. Nie een keer in hierdie woestyn van my identiteitskrisis het ek eers daaraan gedink om myself as ‘n vrou te sien nie. Ek was bewus van my verantwoordelikheid as Ma van twee, maar nooit het ek verstaan dat ek heel eerste vrou is nie en nooit het ek eers daaraan gedink om my vroulikheid te omhels en uit te leef nie. Voor ek kan besigheidsvrou wees en voor ek kan ma wees moet ek eers weer vrou wees!

Die waardevolle bydraes wat op die vroue kamp aan die einde van Mei maand van jaar gelewer is het my genoodsaak om my identiteit as vrou in die Woord van God te gaan soek. Daar is nie ‘n beter plek om te begin as by die eerste vrou in die Bybel nie. Tog voel ek ook dat dit belangrik is om ter selfde tyd te kyk na die identiteit van die man soos God hom geskape het. Die rede hiervoor is vermenigvuldig. Die vrou is die man se gelyke, van sy vlees en sy been gemaak so alhoewel daar so baie verskille is, is daar ook ooreenstemmings wat ook belangrik is om te verstaan.

Ons lees in Genesis 2:5 -17 hoe sorgvuldig God vir Adam geskape het: “Toe die Here God die aarde en die hemel klaar gemaak het, was daar nog nie enige stuike op die aarde nie, en het daar nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie ‘n mens om die grond te bewerk nie. Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak. Die Here God het toe die mens gevorm uit die stof van die aarde en lewensasem in sy neus ingeblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het.
Die Here God het toe ‘n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon. Die Here God het vêrder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.

Daar het ‘n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier rivier geword. Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is. Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks. Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus. Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat.

Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

Die Here het vir Adam uit die stof van die aarde gemaak. Maar die eerste kenmerk wat Adam van al die diere onderskei het was dat God self Lewens asem by die mens se neus ingeblaas het. Op hierdie manier deel God van homself met die mens. Om hierdie manier is daar van die begin af ‘n band tussen man en God. En soos ons aan beweeg sal dit ook duidelik word dat ons band al van hier af met Christus ook begin, omdat Christus in God is en ons in Christus is. Die troos wat ons vêrder hieruit kan put is dat ons meer kosbaar as enige ander lewende wese op hierdie aarde is. God het van Homself met ons gedeel, sodat ons, ons eerste asem kon inasem.

Dit was ook nie ‘n geval van so gemaak en so laat staan nie. Nee die Here het in al die mens se fisiese behoeftes voorsien, daar was vir hom kos en water in die tuin en hy moes homself besig hou deur die grond in die tuin te bewerk. God het ook aan sy behoefte om na mooi goedjies te kyk in ag geneem.

Dus as ons na hierdie verse kyk kan ons sien dat die mens, gebore uit die samekoms van stof en Gods asem, aangestel is oor die skepping, om dit op te pas en om die aarde te bewerk. Oor die algemeen kan ‘n mens aanvaar dat as jy iets bewerk, dat jy dit meer vrugbaar maak. Hierdie prinsiep in opsig self laat ‘n mens al klaar dink oor die pad wat die mens so vêr met ons aarde gestap het, en dit laat ‘n mens wonder oor ons eie daaglikse aksies, is ek regtig besig om die aarde meer vrugbaar te maak, of is my aksies ook besig om die aarde stadig maar seker te versmoor.

Vers 18 hou egter die sleutel tot hoekom die vrou geskape is:
“Vêrder het die Here God gesê:”Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

Hierdie vers wys vir ons dat God die mense se emosionele behoefte vir geselskap (companionship) ook verstaan en ook in daardie behoefte wou voorsien. Die feit dat God ons behoeftes verstaan en wil bevredig is iets wat ons van kleins af by ons kinders moet tuis bring en inskerp.

Ek wil graag die tyd neem om die gebrek aan hierdie prinsiep en die gevaarlike gevolge daarvan met voorbeelde uit ons samelewing vir jou te illustreer.

Ek glo regtig dat die boodskap dat ons maar gerus op God kan vertrou vir ons basiese behoeftes (fisies, emosioneel en geestelik) omdat God ons so goed verstaan (aangesien Hy ons geskape het,) die plek moet inneem van sinnelose praatjies soos:
“As jy die en daai doen sal jy tog nooit ‘n man kry nie.”

Wat se onsin is dit? Daar is voor die grondlegging van die aarde vir elkeen van ons ‘n lewens maat geskep (ons sal nog na die skriftelike verwysings hiervoor in detail kyk) en ons moet God vra en vertrou dat Hy dinge so sal bewerkstellig dat ons op Sy tyd daardie lewens maat sal ontmoet. Dit is dus nie ons vermoëns wat sal verseker dat ons kan “man vang nie.”

Die hartseer ding is dat ons kinders dit nie weet nie, ek het dit nie geweet nie, en daar is soveel letsels op my hart wat juis deur hierdie onkunde daar uitgekerf is. Daar is soveel jong dames wat ek al tee gekom het wat so bang is dat hulle nie ‘n man gaan kry nie dat hulle dikwels met die eerste beste man wat in hulle belangstel ‘n verhouding probeer aanknoop of dalk selfs trou net sodat hulle nie alleen oud hoe te word nie. Dit noodsaak my om te vra hoekom ons nie op God se natuur en se genade vertrou nie. Die son kom elke oggend op, al vir soveel jare en dit alleen behoort te bevestig hoe getrou ons God nou eintlik is. Hoekom ignoreer ons die rooi ligte met soveel gemak en dan sus ons maar ons gewete deur te sê dat die samelewing besig is om vêrder te ontwikkel en daarom werk die instellings en Bybelse prinsiepe nie meer nie.

Ek dank God elke dag dat al die ompaaie wat ek geloop tog op die ou end my by my regte lewens maat uitgebring het. Ek het nou wel gearriveer met soveel meer bagasie as wat nodig is, maar Hy was my genadig en Hy het my gelei tot by die deur van die lewens maat wat Hy voor die grondlegging van die aarde al vir my gekies het. Nie almal is so gelukkig nie, en alhoewel ek steeds my kastaiings uit die vuur krap en foute van die verlede reg maak is daar so baie mense wat nooit eers weet wat God eintlik vir hulle beplan het nie, en so mis hulle uit op die wonderlike lewe wat God vir hulle beplan het. Dit is ons taak as ouers en leiers in ons gemeenskap om seker te maak dat almal hierdie sleutel wat in Genesis 2 opgesluit is raaksien.

Daar is ‘n soortgelyke siekte onder ons jong manne om hulle behoefte vir ‘n standvastige lewensmaat te ontken. Hulle noem dit commitment anxiety en dit versprei soos ‘n veldbrand onder ons mense. Hoe meer meisies in jou bed, hoe meer merkies op jou manlike kerfstok. Tog wil ek vra hoekom niemand bekommerd is oor die feit dat ons eeue oue behoeftes ignoreer nie, hoekom gaan daar nie rooi ligte af wat ons waarsku dat daar êrens baie groot fout is nie?
Weereens leef ek en my lewensmaat ook steeds onder die jeuk van hierdie siekte, nes ek my eie onnodige bagasie in ons verhouding ingebring het, het hy ook uit onkunde sy eie bagasie in ons verhouding ingebring. Hierdie bagasie wat ons so op ons ompaaie versamel veroorsaak soveel onnodige pyn, en meeste van die tyd verstaan ons dan nie eers waar die emosies en die pyn vandaan kom nie.

In die besigheids wêreld sien ons ook hoe mense daarop uit is om net hulle self te verryk. Die son mag tog net nie ook op my buurman of my broer skyn nie, ons gun mekaar oor die algemeen niks, nie eers vrede en geluk nie, nee ons moet altyd probeer om mekaar in te doen. Hierdie selfsug word ook gebore uit die oorlewing instink wat oorneem as ons nie op God vertrou om in ons daaglikse behoeftes te voorsien nie. Dit is wanneer ons op ons self aangewese probeer wees wat ons oneerlike dinge aanvang en bedrog pleeg in ons soeke na rykdom en aansien of dalk net gemak.

Hiermee wil ek glad nie insinueer dat ons maar by die huis kan bly en die geld wat ons nodig het sal soos manna uit die hemel reën nie. Ek probeer eerder sê dat ons, ons daaglikse take eerder volgens God se opdrag en doel vir ons moet inrig, en dan Sy naam vereer deur die goeie vrug te dra en al voel dit of dit waar is as mense sê “The nice guy always finishes last!” dat jy steeds nie jou morele waardes sal prys gee nie, al beteken dit dat jy dalk party maande nie jou DSTV kan bekostig nie of dalk eerder meer hoender as steak moet eet.

Die duiwel gebruik ook hierdie leuens (soos hierbo uitgespel) wat so diep in die wese van ons en ons kinders wortel geskied het om mekaar ook vêrder en vêrder aan te por. Meisies glo dat hulle maar moet uithaal en wys om raak gesien te word en die manne glo dat hulle maar kan proe en proe totdat hulle trommeldik is, maar tog raak hulle nooit versadig nie, hulle wil al amper uit hulle nate uitbars van die verkeerde vrugte maar hulle bly gulsig en ter selfde tyd bly daar amper niks van ons jonge dames oor terwyl hulle so hard opsoek is na die berugte Mr Right nie. Ons kinders en ouers jaag na geld en so jaag ons by mekaar verby en dan spat ons fondasies, ons gesinne een vir een uit mekaar. Ons kinders hoor nie, want ons het nie genoeg tyd om te praat nie, en as ons praat skreeu ons bevel want ek is laat en tyd is geld en ons kan nooit genoeg geld hê nie. Ons maak televisie reekse en films by die dosyne oor hierdie selfde onderwerpe, maar nooit kom een van hierdie analises by die eintlike waarheid uit nie. Nie een van hulle is dapper genoeg om hardop te sê dat God soveel meer as hierdie gejaag na wind vir ons bestem het nie.
Daar is ‘n skrif wat die Here vanoggend vir my gegee het wat hierdie situasie so mooi verduidelik. Die skrif verduidelik nie net die status van ons kinders nie, maar ook die rol wat ons as ouers hier in speel en ook die rol wat ons ouers in hierdie petalje gespeel het, want jy sien hierdie is nie ‘n nuwe probleem nie, dit kom nou al vir twee of so geslagte.

Die skrif is Jesaja 56:9-11
“Kom verslind my volk, al julle diere wilde diere, al julle diere van die bos! Die wat oor my volk moet waak, is almal blind, hulle weet niks nie. Hulle is almal stom honde, hulle kan nie blaf nie; hulle lê net, hulle wil net slaap. Hulle (die volk) is gulsige honde, hulle ken nie iets soos genoeg kry nie. Hulle is herders sonder insig, hulle slaan elkeen sy eie koers in, elkeen is op sy eie voordeel uit.”

Daarom is dit belangrik dat ons kyk na die eerste kenmerke van die man wat God geskape het. Die man is gebore uit God se asem en sy primêre taak is om God se skepping op te pas en te bewerk. Die man is die manifestasie van God se skeppende en vertroetelende natuur, hierdie manifestasies kom uit in ons manne vandag in die drang om steeds die brood winner van die huis te wees en daarom is dit nie nodig vir die vrou van die huis om te skop teen haar man se drang om die brood winner te wees nie.

Dit is nie sommer net ‘n ego ding as hy seer kry wanneer jy jou groter salaris tjek in sy gesig vryf nie, en dit is nie nodig nie. Maak jou bydrae tot die huis stil weg stil en respekteer sy identiteit. Hy was die een wat eerste die opdrag ontvang het om die aarde te bewerk.

Respekteer die feit dat die man die konstante herinnering is dat God aan ons fisiese basiese behoeftes soos kos en woonplek aandag gee en daarin voorsien. Dit is tyd dat die manne sal begin om hulle lewens volgens hierdie Waarheid in te rig. Die toepassing van hierdie Waarheid sal verseker dat ons gesinne meer gebalanseerd sal funksioneer. Daardie ongesonde druk van konstante prestasie sal verdwyn omdat jy weet dat jy God sal kan vertrou om jou tot jou volle potensiaal uit te lig ter eer van Sy naam en nie jou naam nie. Die feit dat die man meer ontspanner is sal dan ook outomaties oorspoel na die res van die gesin en so kan ons as gesinne nader beweeg aan die rus en vrede wat God vir ons bestem het.

Ter selfde tyd is die eerste kenmerk van ‘n vrou is dat sy ook deur God geskape is, sy is die konstante herinnering aan die feit dat God die basiese emosionele behoeftes van beide geslagte verstaan. Hy het ons aanmekaar geweef, niemand verstaan ons beter as God nie. Die vrou moet begin om heelhartig te glo aan die Geestelike prinsiep wat sy verwesenlik (of wat in haar manifesteer) sodat haar geloof kan oor spoel in die lewens van die wat sy mee in aanraking kom en sodat sy op hierdie manier weer kan lewe bring.

Woede teenoor Selfbeheersing

In Koffietyd on Augustus 27, 2009 at 15:04

Vir die grootste deel van my lewe het ek vas geglo dat dit verkeerd is om kwaad te word. Ek het geglo dat woede sonde is en dat ek nie mag kwaad word nie. Dit is eers onlangs dat ek agtergekom het dat daar ‘n fyn balans is tussen kwaad word en om nie self beheersing toe te pas nie. Daar is ook ‘n fyn balans wat gehandhaaf moet word want, alhoewel woede natuurlik is en ‘n emosie is wat ons moet erken en verwerk, moet ons waak daarteen om nie bitter en hard te word nie. Woede moet altyd gevolg word deur vergifnis, sodat bitterheid nie sal saad skied in ons harte nie.

Woede is ‘n emosie wat as een van ons ingebore beskermings meganismes dien. Woede veroorsaak dat ons liggame meer adrenalien afskei, en dit is ons liggaam se natuurlike manier om ons I staat te kan stel om onsself en ons geliefdes te kan verdedig.

Hiermee bedoel ek glad nie dat ons links en regs nou kan kwaad word nie. Ons moet eerder na die character van ons Hemelse Vader kyk om te sien hoe ons, ons woede moet bestuur. Ons Vader is lank moedig, Hy word nie vinnig kwaad nie, en beteël Homself deur nie die volle omvang van Sy woede op Sy volk te laat neerstort nie. Hy vergewe hulle ook telkens, nog voor dat hulle selfs om Sy vergifnis gevra het.

Dit is ook belangrik dat ons moet verstaan dat ons selfbeheersing moet toe pas terwille van onsself en nie terwille van ander nie. As ons Kyk na Jesaja 48:9-11 kan ons sien hoe die Here verduidelik dat Hy terwille van Sy eie Naam en Eer Homself en Sy woede beteël. Daarom moet ons ook ons woede nie onderdruk nie, maar wel beteël.

Om ons woede te onderdruk en te glo dat ons nie mag kwaad word nie is ‘n baie ongesonde denkpatroon. Dit is juis hierdie denkpatroon wat so ‘n septiese seer hier in my binneste veroorsaak het. Vir soveel jare het ek my woede onderdruk, geïgnoreer en dan nog skuldig gevoel omdat ek so gereël myself moes keer omdat ek wou kwaad word. Hier wond het so nou en dan oopgebars en dan was dit ‘n verskriklike gemors waarin ek myself glad nie op ‘n gesonde manier kon uit druk en kon uiting gee aan my emosies nie.

Die ironie van die saak is dat nou nadat die Here my geleer het om my woede te erken, te aanvaar en daar deur te werk en dan daarna te vergewe, is ek meer lank moedig, meer geduldig en emosioneel baie meer gesond.

Gideon – Deel 2

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes,Uncategorized on Augustus 25, 2009 at 10:46

Teks Rigters 6:11 – 17

Vers 11 van Rigters 6 begin vir ons vertel van die ontmoeting tussen die Engel van die Here en Gideon. Gideon was besig om hard te werk, die woord sê dat hy besig was om koring te slaan in die pars kruip waar hy vir die Amalekiete weggekruip het.

Die Engel groet hom deur vir hom te sê “Die Here is by jou, dapper man.” Nou kan ek my net voorstel hoe Gideon moes voel. Hy is natgesweet en moeg. Hy verdien sy brood deur die sweet van sy aangesig. Hy voel soos ek en jy aan die einde van die dag, moeg gewerk, gespanne en moeg. Behalwe vir die harde werk moet hy nou nog boonop bekommerd wees oor sy eie veiligheid. Hy kruip weg, hy is bang en nou noem hierdie man hom dapper?

Gideon se eerste reaksie is so soortgelyk aan ons eerste reaksie wanneer ons hande in die hare by ‘n vriend of vriendin kom en hulle ons probeer vertroos deur ons van die Here se liefde te verseker. Gideon het God vir die Israeliete se situasie geblameer. Hy was oortuig dat God sy volk in die steek gelaat het, dat HY hulle verlaat het.

Gelukkig vir ons en vir Gideon steur God Homself nie aan hierdie redenasie en onsinnige praatjies nie. God regverdig ook nie eers Sy aksies nie, Hy herhaal eerder weer Gideon se roeping. “Gaan met die krag wat jy het, en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!”

Sjoe, Gideon se moed moes seker in sy skoene gesak het, want hier ten midde van sy eie krisis, ten spyte van sy geveg om net kos in sy lyf te kry sonder om deur die vyand gesien en bedreig te word, vra die Here hom om verby sy eie probleem te kyk en ‘n hele volk te red. As ons mooi terug dink en na ons eie lewe en ander se lewens rondom ons kyk sal ons verbaas wees om te sien juis hoeveel keer God ons reg in die middel van ons eie krisis vra om iemand anders te help. Dit is gewoonlik ook in sulke tye van uiterste persoonlike nood wat die Here jou roeping, jou skeppings doel aan jou begin openbaar.

Nes Gideon het ek ook net my kop geskud toe ek besef wat die Here van my gevra het. Keer op keer het ek op my knieë gegaan en vir die Here gevra hoe op aarde ek die taak wat Hy vir my gegee het moet verrig. In die middel van my stryd om my broer se dood te verwerk vra God van my om
• my verhouding met my lewensmaat te red,
• om my kinders voor te berei vir hulle onderskeidelike roepings
• En Hom dan nog deur dit alles heel hartig te loof en te prys.

Morele ondersteuning van mense was ook maar yl gesaai aangesien my familie en vriende nie kon verstaan hoekom ek weer wou probeer om hierdie dooie verhouding te probeer red nie. Ons lees in vers 16 van Gideon se verskoning, die redes wat hy aanvoer oor hoekom hy nie die Israeliete sal kan red nie. Hy het vir die Here gesê dat nie hy of sy familie genoeg aansien onder die volk geniet sodat hy die volk kan lei nie. As mens die sosiale struktuur van die Israeliete in ag neem kan mens sy redenasie verstaan.

My redes was meer van ‘n persoonlike aard, my krag was min, ek was op die rand van erge depressie, ek kon myself skaars motiveer om te gaan stort en my tande te borsel. Die liefdes vuur in my hart was besig om te versmoor. Ek het nie geweet of dit die moeite werd was om weer te probeer nie.

Die Here het geduldig dag en nag na my geluister. Ons lees ook hoe Hy na Gideon luister. Soos ‘n goeie pa luister Hy geduldig na die vrese van sy kind. En nes ‘n pa nie sommer sy kind se vrese afjak nie, vertroos God sy seun deur hom van Sy liefde en sy ondersteuning, hulp en nabyheid te verseker. God verseker hom dat hulle saam die vyand sommer maklik sal verslaan.
Die Here het ook deur Sy skrif my vrese vertroos. Ek het ‘n belofte dagboek begin hou, daar was soveel skrifte wat Hy met my gedeel het, ‘n hemelse vrede het oor my lewe en my gesin se lewe gekom. God het ons almal begin vertroetel, ons wonde genees elke dag bietjie meer, hy weef ons elke dag bietjie stywer saam van. Sy liefde het my gesin gered, sy vrede het my terug gebring van die rand van depressie en verwoesting af.

Gideon – Deel 1

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes on Augustus 24, 2009 at 13:03

Teks: Rigter 6: 1- 10

Die Ou Testament lê besaai met karakters waarvan ons as kinders in die Sondagskool geleer het, of dalk as Sondagskool Onnies vir die kinders geleer het. Maar dit spyt my om te sê dat my “Hoor en Doen” boekie nie eintlik net die hulp bron was wat dit veronderstel was om te wees nie, nee dit het vir ‘n groot deel van my Sondagskool loopbaan die woord van God vervang. So het ek en ek glo baie kinders verhale soos die van Gideon in ‘n afgewaterde formaat gekry, en so het ons nie regtig kon sien wat se waarhede in hierdie verhale opgesluit lê nie.

Rigters 6 skop af deur vir ons die groot prentjie van Gideon se omstandighede te skets. Die Isrealiete het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, en hulle was vir sewe jaar in die mag van die Midianiete.

Vir ons om ten volle te verstaan wat dit beteken kan ons dalkies net na ons eie geskiedenis kyk, selfs na ons hede. Daar is nie ‘n bevolkings groep in Suid Afrika wat nie die gevoel van frustrasie, onreg en vernedering wat van onderdrukking kom, nie verstaan nie.

Bolangs is ons dalk nou as nasie in Josef se reënboog kleed geklee, ‘n reënboog nasie verenig, maar onderlangs bly die ou skeidings mure tog al te gereël regop staan. Die geringste geleentheid word gebruik om mense wat anders as ons is te probeer onderdruk, half amper te verteer sodat ons kan plek maak vir nog mensies wat soos ons dink en doen.

Die Israeliete is op hierdie selfde manier deur die Midianiete verdruk. Die skrif sê dat die Israeliete in grotte en naby bergstroompies gaan woon het. Hulle het in onherbergsame dele gaan wegkruip. As ons dus mooi daaroor dink is hulle nie net an hulle tuistes, hulle huise weggedryf nie, maar hulle is geforseer om in ongemaklike en gevaarlike plekke hulle nuwe tuiste te gaan maak. Hulle is bloot eenvoudig verplaas soos mens ‘n ongewende objek sou verplaas.

Die skrif vertel ook hoe hulle oeste vernietig is en hulle vee dood gemaak is. Weereens kan ons hiermee identifiseer, die huidige ekonomiese klimaat laat ons ook voel of ons reg om ‘n voortbestaan vir ons self en ons kinders te bewerkstellig word aangeval, ons word van ons inkomste ontneem.

Die Midianiete word ook in vers 5 as sprinkane beskryf. Verwysings na spriknae in die skrif gaaan gewoonlik gepaard met die iets of iemand wat God se mense van Sy beloftes beloof. Die sprinkane kom eet gewoonlik die mense se beloftes op. Maar vers 7 sê ook dat die Here die Isrelaiete geroep het om teen hierdie verdrukking op te staan.

So roep die Here ons ook elke dag om eerder ons sprinkane op te eet soos Johannes die Doper gedoen het.
• Maar hoe eet ek my sprinkane?
• Hoe veg ek teen die goed in my lewe wat my so ontstel en my vreugde steel?
• Hoe veg ek teen my werkloosheid, my skuld, die dood van my ouer, my kind of my lewensmaat?
• Hoe kan ek, wat nie eers meer in die oggend my oë wil oop maak nie, ek wat alles deur my egskeiding verloor het, hoe moet ek opstaan en veg?

Self het ek hierdie vrae in April van hierdie jaar (2009) gevra. My lewe was aan skerwe, my lewensmaat en een van ons kinders het uitgetrek, ons paaie was op pad om finaal te skei. My ouers was sonder ‘n heenkome, en ons almal was sonder vaste werk. Die grootste slag was die dood van my jongste broer op die jong ouderdom van 19.

Die krag wat ek fisies nodig gehad het om op te staan daar waar ek inmekaar gesak het nadat my ma my van my broer se dood vertel het, het my ontbreek. Die pyn en die hartseer het my oorweldig, die krag om te skreeu en hardop te huil was nie eers daar nie. Daar waar ek op ‘n hopie gesit het was ek eensaam, hopeloos, swak en alleen.

Tog kan ek vandag met oorgawe getuig dat daar hoop is! Vers 8 van Rigters 6 vertel vir ons van die profeet wat God na die Israeliete toe gestuur het. Die profeet het hulle herinner aan die wonderdade wat God al vir hulle verrig het, hy jet ook rekenskap van hulle gevra oor hulle aksies, hy het hulle herinner dat hulle nie na God geluister het nie.

Daar is ook sulke profete in ons lewens, ons skel hulle so maklik uit, ons word so maklik kwaad vir hulle omdat hulle nie altyd sê wat ons wil hoor nie. Wie wil nou dankbaar wees as jy jou laaste salaris tjek moet gaan bank en jy weet voor jou siel dat daar nie nog een gaan wees nie. Wie kan nou dankbaar wees oor enige iets as jy jou lewensmaat gevang het toe hy / sy ontrou was aan jou, of jy dalk ontrou was en dit nou berou?
Maar die vreemde ding van dankbaarheid is dit, dankbaarheid kweek meer dankbaarheid. Dankbaarheid verag jou hart en maak die grond vrugbaar sodat dit weer goeie grond kan word en weer lewe kan voort bring.

Maak ‘n lys van al die kere wat God jou al gedra het, maak ook ‘n lys van al die goeie en positiewe goed in jou lewe. As jou lys nie te lank is nie, moet jouself nie bekommer nie, en moet nie op die as hoop van die lewe gaan sit en huil nie, gaan eerder met ‘n oop gemoed na jou God en begin hom prys vir die goedjies op jou lys. Prys hom met jou hele hart, met jou laaste bietjie krag, prays Hom met alles wat jy is.
Prys die Here elke dag, voor jy begin vra vir dit wat jy vandag nodig het, spoedig sal jy sien hoe jou lysie al hoe langer word, jy sal jou kan verheug oor die groen plantjies wat hulle koppe hier rondom jou in die woestyn uit steek. Die Here van hemel en aarde sal weer lewe in jou dorre woestyn bring…

Affrontasie, Irritasie en Konsternasie!

In Koffietyd on Augustus 5, 2009 at 10:45

(3 Augustus)

Die Son kom op en die termometer se kwik daal soos die goue strale na bo skiet. So sag kuns het U my wakker gemaak, met ‘n glimlag van pure, Goddelike blydskap en geluk wat om my mondhoeke speel.

Dit is koffietyd het U gesê. Lig jou kop vanaf die kussing voor my altaar, gaan maak ‘n koffietjies, en voor die besige dag begin, kom gesels met My. Nou hier sit ek, O wonderbaarlike God, honger vir U Woord, gretig om meer van my God te leer, so opgewonde om hierdie asemrowende pad saam met U te stap…

Vanoggend kom praat U weer met my uit Spreuke 20… ‘9Wie kan sê “Ek is rein, ek is onskuldig, sonder sonde?” 10Die Here het ‘n afsku vir mate en gewigte wat nou sus en dan so is.’

Affrontasie, Irritasie en Konsternasie!

Die hammer van ons eie geregtigheid slaan so gemaklik oor ons medemens
Ons vooroordeel. Beoordeel. Veroordeel.
Ons gees konfronteer soms iets in ‘n ander se gees,
maar dan is ons harte harde klip, sonder verstaan -
is ook sommer dan geaffronteer. Geïrriteer. En nie meer in Beheer!

Wie is rein, 100%?
Wie is sonder skuld, 100%?
Wie staan perfek sonder skaamte, 100% naak voor my Heer?
Laat hy wat dan so staan Vooroordeel, beoordeel en veroordeel!
Laat hy dan sy asem mors op affrontasie, irritasie en konsternasie!!

Maak eerder die waters van U liefde wat deur my vloei dieper vandag!
Druk water uit ‘n klip my God
Versag, Verander, Verfraai, Verryk dan eerder so my hart!
Maak my hart ander se seer en se komplekse ontwerp verstaan,
Knoop dan aan my oor meegevoel, medelye en meer-geduld-as-ooit-tevore.

Lat my sus en so die selfde bly.
Laat U ja , my ja wees en my ja bly!
Laat U nee, my nee wees en my nee bly!

Verhoed so ook op hierdie dag my God: affrontasie
wat pad aanwys vir irritasie
wat net ly tot konsternasie!

Oorstroom my dan op hierdie dag my God met meegevoel
wat die pad kan aanwys vir my en ander om lief-te-voel en heel-te-voel,
wat net kan lei tot ‘n hoogte waar ons U teenwoordigheid kan aanvoel.

Amen.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.