Liza Welsh

Posts Tagged ‘afgode’

Gideon – Deel 10

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes on September 8, 2009 at 13:49

Teks Rigters 8: 4 – 35

Die finale gedeelte van Gideon se storie is vol waarskuwings. Op die oog af lyk dit maar na bietjie nuttelose geskiedenis, maar ons het ook mos al geleer dat niks verniet in ons Pa se woord opgeskryf staan nie.

Die goeie stryd, die geveg wat ons daagliks vir die Here veg is maar ook ‘n alleen geveg. Daar is ‘n ou gesegde wat sê “When times are dark, friends are few.” Ek wil dit nogal bietjie aanpas om eerder by die intieme verhouding wat ons met ons God het, in te pas: “When we fight the darkness with all our might, friends are few.”

Ons lees dat Gideon en sy manne moeg was na hulle stryd, maar dat hulle steeds volhard het om die leiers van die Midianiete te agtervolg. Ons lees ook van al die mense by wie hulle aangeklop het om hulp, en hoe daar van hulle en hulle taak ‘n bespotting gemaak is.
Daar is tye wat ons in Gideon se skoene staan, hier waar ons gesin tans staan en dan kom mens agter hoeveel mense wat hierdie pad saam met jou begin stap het, uitgesak het. Jy kom agter hoe mense agter jou rug vir jou geloof lag en jy kom agter hoekom die Here jou span so selektief gekies het.

Partykeer is ons die mense by wie mede stryders aanklop vir hulp, daar is so baie keer wat ons so skepties is en ons ore vol wêreldse klei is sodat ons nie kan hoor wanneer die Here vra dat ons Sy manskappe moet versorg nie. Dit gebeur so maklik dat ons geduld en ons genade op is en dat ons medelye vir ‘n ander nêrens te vinde is nie.

Ons lees dat nadat Gideon sy taak vir die Here voltooi het, dat hy gaan wraak neem het op die wat van hom en sy leer ‘n bespotting gemaak het. Ons lees ook dat hy aan die Israeliete verkondig het dat hy nie oor hulle kan heers nie, juis omdat slegs God oor hulle heers. Tog in die amper die selfde asem lees ons van die buit wat hy bymekaar gemaak het vir ‘n afgod beeld.

Die groot waarskuwings van hierdie gedeelte lê vir my in hierdie laaste gedeelte. Vir die van ons wat in Gideon se bootjie is wil ek dit op ons harte druk om nie arrogant te raak oor God se goedheid en Sy beskerming nie. Ons kan nie van die Here vergeet en weer terug hardloop na ons afgode toe sodra die Here ons klaar gehelp het nie. Ons kan en mag nie die Here soos ‘n ou stukkende stoflap wat klaar sy werk gedoen het behandel nie, nee ons moet nie terug sak nie, nooit moet ons gemaklik raak as die Here goed vir ons sorg nie, ons moet steeds bly waak, steeds bly stry en steeds aanhou om ons Hemelse Bruidegom se Bruid voor te berei.

Vir die van ons wat God se Gideons in ons lewens tee kom wil ek ook waarsku. Moet nie op God se stryders, veral die wat die waarheid bring neer kyk nie. Jy gaan dalk nie hou van die waarhede wat uit hulle mond kom nie, maar God gebruik immer Sy stryders as Sy swaard, hulle is die skepr pyle wat uit Sy pyle koker kom.

Moet nie trap op daardie delikate veldblom wat God eintlik as vertrooster op jou pad gebring het nie. Hulle geduld en liefde en eerlikheid is nie ‘n swakheid nie. Wees versigtig hoe jy met ander omgaan, wees versigtig hoe jy handel.

Miga 2 maak dit duidelik dat God names Sy stryders wat onderdruk word sal optree.
“Ellende wag vir hulle wat rampe teen ander beplan, wat op die bed lê en dink aan kwaad om te doen, wat dit vroeg in die more gaan uitvoer omdat hulle mag in hulle hande het. Hulle begeer ‘n stuk grond en vat dit, huise en lê beslag daarop. Hulle kul ‘n ‘n man uit sy huis uit . Daarom sê die Here: Ek beplan ‘n ramp teen hierdie mense, hulle sal nie meer regop kan loop nie, want dit sal ‘n tyd van swaarkry wees.”

In watter kamp val jy? As God jou nou as ‘n Gideon gebruik, gaan jy ook na die stryd gemaklik raak en van jou God vergeet, of is jou ‘n bittereinder? En as jy van die is waar die Gideons van die lewe moet kom aan klop, hoe gaan jy hulle ontvang? Hoe lyk jou liefdes tenk, is hy vol genoeg om oor te loop en die honger stryders te voed?

Gideon – Deel 8

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes on September 2, 2009 at 14:47

Teks Rigters 7: 8 – 15

In Rigters 7:8 – 12 lees ons dat Gideon en 300 man gereed gemaak het om die Midianiete aan te val. Die Here het weer Sy opdrag aan Gideon oorgedra en weer het die Here Gideon se vrees in ag geneem. Die Her se vader hart is sag en Hy wil ons vertroetel, net soos ons nie daarvan hou dat ons kinders moedeloos en bang moet wees nie, wil God ook nie hê dat ons moedeloos en bang moet wees nie.

In Rigters 6 gebruik die Here ‘n droom en die uitleg van die droom ons Gideon aan te por en vir hom moed te gee. Dit is ook belangrik om te sien dat Gideon nie self die droom gehad het nie, maar dat een van die vyand se manskappe die droom gehad het. Die Here het dus op ‘n wonderbaarlike manier ‘n onafhanklike bron gebruik om Gideon weer te verseker dat Hy op die regte pad is.

Die Here werk op sulke subtiele maniere. Dit belangrikheid van ons ongebore kind se naam lê baie swaar op my hart en ek het al telkemale vir die Here gevra om die naam oor en oor te bevestig. Die ongelooflikste bevestiging het Sondag Oggend gekom. In Zambezi rylaan is daar ‘n oom wat Fudge en ‘n Bybel versie verkoop. Die bordjie wat om sy nek hang het my aandag getrek omdat die feit dat die pakkie fudge ‘n Bybelversie insluit, groter as die prys of die naam fudge op die bordjie aangebring is. Die moedeloosheid in die oom se oë het ook my hart geroer en laastens sukkel ek maar om nee te sê vir ‘n soet dingetjie.

EK het eers later die dag na die Bybel versie gekyk en ek kon my lag nie keer toe die skrif op beide kante van die papiertjie weereens oor water handel nie. Dit was nie toeval dat daardie kaartjie in my sakkie fudge beland het nie, dit was nie toeval dat die oom daardie pakkie vir my gegee het nie, dit was die Here wat weereens my hart gehoor het en my kom antwoord het.

Durendheid is dit ook vir my opvallend dat Gideon ‘n punt daarvan maak om die Here te dank. Elke keer wat die Here vir Gideon vertroos of vir hom moed gee, stop hy eers waarmee hy besig is om die Here te dank. Dankbaarheid is een van die sleutels wat ons moet aangryp, want dankbaarheid hou ons harte sag en ons ore oop sodat ons intiem met ons Vader kan verkeer.

Hoe lyk jou dankbaarheids metertjie? Draai jou kerm masjien ook soos dies res van die wereld teen 10 000 revolusies per minuut, of het jy al jou rus en vrede by die Here gaan soek?

Gideon – Deel 7

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes on September 1, 2009 at 15:12

Teks Rigters 7:1 – 7
In die laaste paar maande het dit vir my begin voel of daar soveel deure vir ons as gesin toe slaan. Teen die einde van verlede jaar was ons so opgewonde oor al die geleenthede wat ons skynbaar omring het. 2009 het swaar gedra aan beloftes en vooruitsigte, maar soos die jaar aan gestap het, het baie van hierdie geleenthede, nes die mense wat hulle oor ons pad gebring het, soos mis voor die son verdwyn.

Ek dink dit is presies hoe Gideon gevoel het toe die helfte van sy leer hom verlaat het, nadat hy die van hulle wat bang was, beveel het om eerder huis toe te gaan. Die Here het vir Gideon beveel om hierdie bevel aan sy manskappe te gee. God het aan hom verduidelik dat die doel hiervan was om seker te maak dat Israel nie hulle self sal verheerlik vir hulle oorwinning nie. God het gesê dat Israel oor hulle oorwinning by Hom, wat God is sou spog, en daarom moes Gideon sy manskappe verminder. Tog kan ek my net in dink hoe Gideon se moed in sy skoene gesak het toe sy leër van 20 000 manne na 10 000 gekrimp het.

Tog loof ek die Here vir die insig wat Hy deur hierdie gedeelte met my gedeel het. Dit is nou eers dat ek kan begin verstaan dat die uitkoms wat daardie geleenthede skynbaar sou bring ons nie nader aan God sou bring nie, maar ons eerder vêrder van Hom sou verwyder. Vêrder het dit my ook geleer om elke geleentheid wat sy kop uitsteek en elke besluit wat ons moet neem eers met die Here te gaan bespreek. Aan die einde van elke gesprek seën die Here my dan met die vrede dat Sy wil vir ons net die beste insluit en daarom kan ek my dan berus by die uitkoms van al die draaitjies wat die lewe met ons stap. Die teleurstelling van toe deure word deur hierdie vrede versag, terwyl die opgewondenheid van oop deure 10 000 keer vermenigvuldig word.

In vers 4 lees ons dat die Here vir Gideon sê dat 10 000 manne steeds te veel is, en in die daarop volgende verse lees ons van die vêrdere siftings proses. Die siftings proses het gepaard gegaan met die manier waarop die manne water gedrink het. Die manne wat water soos honde opgelek het, moes Gideon huis toe stuur. Op die ou einde van die dag het daar net 300 manne oorgebly.

Die siftings proses herinner ons aan hoe kieskeurig ons met ons span maat moet wees. Die meeste mense lyk of hulle eerlikheid aan die dag lê, en tog sodra die lewe begin knyp, of sodra daar die geleentheid vir self vervulling kom verdwyn die omhulsel van goed opgevoede mens en dan verskyn die “dier” in soveel mense. Dit is baie belangrik om seker te maak dat ons onsself omring met Goddelike mense, eerder as met mense wat soos ‘n tyd bomme rondom ons lê en wag vir die regte tyd om af te gaan.

Hiermee bedoel ek glad nie dat ons mense links en regs moet oordeel nie, NEE ons moet almal met God se onvoorwaardelike liefde hanteer, maar dit beteken nie dat ons onverskillig ten opsigte van ons gereelde of konstante geselskap moet wees nie. Ons moet ook gaan kyk na watter tipe geselskap ons vir ander is.

Sou jy een van die 300 manne by Gideon kon wees? Wanneer laas het jy soos Gideon met die Here gaan praat oor daardie besluit wat so swaar op jou gemoed lê? Wanneer was die laaste keer wat jy jou God, wat alles vir jou ten goede wil laat mee werk, ten volle vertrou het? Kan jy die leuens van die Satan weerstaan? Sou jy nes Gideon kon gehoorsaam wees as die Here vir jou sou sê dat jy in Sy naam ‘n hele nasie met net 300 man sou verslaan?

Gideon – Deel 5

In Bybel Helde,Gideon,Reeks Gedagtes on Augustus 28, 2009 at 12:09

Teks Rigters 6:25 – 31
In Rigters 6:25 lees ons van die gebeurtenisse rondom die openbaring van Gideon se eerste taak. Gideon word beveel om ‘n waardevolle bul van sy pa te neem, sy pa se afgodsbeeld en die afgod se gewyde paal af te kap. Gideon word dan ook beveel om ‘n nuwe altaar vir God op daardie selfde plek te bou. Die hout wat vir die altaar gebruik moes word was die hout van die gewyde paal.

Voor ons, ons roeping of skeppings doel kan vervul moet ons eers bietjie huis skoon maak. Die bogenoemde verse is nie ‘n lisensie om op te hou om ons ouers te eer nie, ook nie om hulle te veroordeel nie. NEE! Dit dui bloot op die feit dat ons onsself vanaf ons diepste wortels moet reining. Ons moet bereid wees om ou denkpatrone en gewoontes neer te lê as hulle in die pad van ‘n intieme verhouding met God staan. Ons moet toe laat dat God ons emosionele wonde genees, veral die wonde wat ons as kinders opgedoen het.

Die afbreek van die afgod se altaar dui daarop dat ons alles wat belangriker as die Here is moet neerlê. Niks en niemand mag belangriker as God wees nie. Ons moet ons verslawings vernietig en onsself totaal en al weer aan God wy. Ons moet ons grondgebied, ons hele wese vir God eenkant hou, rein hou, spesiaal hou.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat Gideon die oorblyfsels van die gewyde paal moes gebruik vir die altaar. Hierdeur word ons herinner dat ons, ons afgode heeltemal moet vernietig en dat God deur die neerlê van ons afgode verheerlik sal word. Ons heel grootste doelwit moet dit wees: Om God deur alles te verheerlik.

Vers 27 vertel ook vir ons van hoe Gideon in die nag te werk gegaan het om sy opdrag uit te voer. Hy sy opdrag onder die skuiling van die donker uitgevoer omdat hy bang was vir die mense en ook vir sy familie. Hierdie gevoel van onsekerheid en vrees is nog vars in my geheue. Ek was bang vir veroordeling. Ek was skrikkerig om my nuut gevonde liefde en intimiteit met God te verkondig want ek was nie lus vir die “maar Christene maak nie so nie” en “jy noem jouself ‘n Christen” praatjies nie.

Dit is juis omdat ek self hierdie vrees en angstigheid beleef het dat ek gedurig bid dat die Here my liefdevol teenoor my medemens, veral “jong” Christene sal maak. Ek wil tog nie hê dat my broers en susters vir my moet bang wees nie… hoe moet die liggaam van Christus funksioneer as ons vir mekaar bang is? Hoe sou ek kon skryf as my wysvinger vir my duim bang moes wees?

Gideon se vrese word in vers 28 – 30 bevestig. Die mense was kwaad en hulle wou wraak neem. Tog sien ons in vers 31 hoe Gideon se aardse pa vir hom opstaan en sonder om verskonings te maak, behartig hy sy seun se saak namens hom. Ongelukkig werk dit nie altyd so dat jou eie aardse Vader vir jou gaan opstaan in ‘n soortgelyke situasie nie. Soms trap ons metamorphose op ons geliefdes se tone of soms prikkel dit hulle eie onsekerhede en pyn, en omdat ons geliefdes slegs mense is kan hulle jou dan in daardie tyd nie altyd ondersteun nie. Dit is nie nodig om hulle hiervoor te veroordeel nie. Aanvaar hulle standpunt, leef jou geloof uit en oorspoel hulle met Christus se liefde, so sal jy ook weer ‘n kosbare getuienis in hulle lewens wees.

Dit is juis oor hierdie struikel blok dat die Here ook dan vir ons geestelike vaders gee. Ons geestelike vaders of mentors word deur God aangestel om oor ons geestelike groei te waak en ons te lei op hierdie nou paadjie wat die Here vir ons uitgelê het. Ter selfde tyd is dit belangrik om te weet dat ons geestelike leiers en mentors ook maar net mense is, hulle is nie volmaak nie en nie sonder foute nie, en daarom moet ons heel eerste op God vertrou vir wysheid en vir die vermoë om die Waardheid van leuens te kan onderskei.

Ons word ook gewys op die nutteloosheid van ons afgode. Dit is belangrik dat ons die verskil tussen Goddelike Sekuriteit en menslike sekuriteit te leer. Ons moet een honderd persent ons vertroue slegs in God stel. Ons moet ons vereenselwig met Sy wil en ons ore oophou sodat ons kan hoor wat Hy vir ons wil sê en ons moet ons oë oophou sodat ons kan sien hoe die Here vir ons wil sorg.

Soveel mense sit in sak en as, en dit alles te danke aan die ekonomiese klimaat wat ins ons land en in die wêreld heers. Depressie en spanning seëvier in soveel mense se gemoed. Soveel mense is platgeslaan omdat hulle hele sin vir sekuriteit op hulle koppe gedraai is en vernietig is. Ons menslike sisteme was toe nie so onfeilbaar nie, en ons beleggings was toe nie so veilig soos ons gedink het nie.

Wat het jy sovêr al uit die ekonomiese chaos geleer, wat het jou eie finansiële penarie jou wys gemaak? Kan jy ook saam met my opstaan en die Here dank dat jy weer terug is op jou knieë, totaal en al afhanklik van die Here ons almagtige God? Is jy ook bly dat jy weer die eenvoud van die lewe kan geniet soos die lelies van die veld, voel jy ook so vry soos die voëltjies in die lug, het jy al jou sorge by die kruis gaan los sodat God jou vry kan maak en vir jou kan vrede gee?

Manna uit die Hemel!

In Koffietyd on Augustus 6, 2009 at 06:49

(4 Augustus 2009)

U het my so sag kuns op my voor kop gesoen en met ‘n lied in my hart wakker gemaak. Hier buite die venster lê die ou bekende mis kombers so snoesig oor die plaas gevou. Die dag het sommer al klaar begin en die hele huis is al wakker… ek dank U vir woelige voetjies en raserige stemmetjies, vir seuntjies wat rustig onder U waak geslaap het.

Vader voor die dag vêrder gaan bring ek weer my koppie koffie en kom sit by U voete, Vader praat met my, deel U woord met my… leer my, ek is hier, ek luister!

In Jesaja 41: 24 praat U met die afgode in ons lewens: ‘Maar julle is niks, julle kan niks doen nie. Wie vir julle as sy gode kies, is self afskuwelik.’

Here Dankie vir hierdie antwoord op my gebed en my en my Blondekop Skottie se gesprek van gisteraand. Blondekop Skottie wou by my weet wat ek daarvan sou dink as hy dalk sy eie besigheid sou opgee en weer vir ‘n ander bestaande maatskappy sou gaan  werk. Ons het gepraat oor die sekuriteit van ‘n vaste inkomste, die vooraf bepaling van hoe en waar hy sy tyd dan sou bestee, ons het ook gepraat oor die impak wat die lang ure weg van die huis af op sy verhouding met die kinders en met my sou hê… maar U het my soeke na die regte antwoord by U geëer en my vanoggend geantwoord. U eer is belangriker as die false sekuriteit van ‘n vaste salaris, die gejaag na geld… U is ons sekuriteit, U wil my Blondekop Skottie gebruik om vir ons te sorg, so werk U deur hom en met hom… Dankie Here dat ons altyd op U woord en U waarheid kan vertrou.

Dankie Here vir die voorreg om vir elkeen van ons behoeftes slegs op U te kan vertrou, dankie vir die voorreg om soos die voëls van die veld slegs uit U hand te kan eet. U gee elke dag vir ons manna uit die Hemel, kos en voorsiening deur U geseën. Ons kom niks kort nie, ons gaan nie honger nie, nee U sorg met net genoeg vir elke dag.

Ons God is groot, Hy is goed aan Sy trou, Sy liefde, Sy voorsiening en Sy genade is daar geen einde nie!

Amen.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.