Liza Welsh

Archive for the ‘seën wense’ Category

Kersfunksie vir minder bevoorregte Kinders

In Gebede,Koffietyd,seën wense,Uncategorized on November 18, 2010 at 10:53

Die Seën van Partytjie Tyd

In Koffietyd,seën wense on September 14, 2009 at 10:15

Die van julle wat gereeld die blog lees sal nou al teen hierdie tyd agter gekom het dat die Here twee goed vir my in die laaste ruk oopgebreek het. Die eerste waarheid waarop Hy my aandag wou vestig is die belangrikheid daarvan om mense rondom ons en ook ons eie pad wat ons daagliks met die Here loop te seën. Die tweede ding wat die Here vir my oop gebreek het is die feit dat Hy wil hê dat gesinne hulle posisies in die Bruid moet begin in neem. Ek glo ook dat daar ‘n sterk oproep op ons is om deur Gebed en die uitspraak van God Gegewe Seëninge oor mekaar die gesinne waarby ons betrokke is tot hulle posisie in die Bruid op te rig.

Die Manna wat ek verlede week ontvang het, het gehandel oor die vrugte van die Gees en dag 40 het veral gehandel oor die mag van die tong. Die skrif gedeeltes: Genesis 40, Psalm 40 en Matteus 10 het net weer die belangrikheid van die woorde wat ons spreek vir my ingeskerp.

Die ander oproep wat op my hart begin druk het was om geleenthede soos verjaarsdae, kombuis tees, ram partytjies en ooievaars tees, self verwelkomings of afskeids partytjies en troues op ‘n nuwe manier te benader. Hoeveel seëninge sal ons nie vir mekaar kan oop sluit as ons gedurende die samekoms die Seën Wense wat God die geleentheid op ons harte lê met almal by die samekoms sou deel.

Die krag van die Seën Wense wat die Here tot dus vêr op my hart vir ander gelê het, word elke dag duideliker en duideliker bevestig. Na die uitspraak van die verkillende Seën Wense het daar weer ‘n geleentheid vir moontlike beter werks vooruitsigte vir my Pa oor sy pad gekom. Die Here het my die genade gawe bewys om ‘n baie liewe vriendin as Mamma te seën nog voor sy regtig geweet het dat sy swanger is, daar is ‘n definitiewe gedrags verandering in ons kinders en ‘n vrede oor ons gesin ten spyte van die druk van buite. Hierdie selfde druk het ons gesin vroeër van jaar amper verpletter, en nou kan ons saam by die Here gaan hoor wat Sy oplossing vir die uitdagings op ons pad is.

Ek wil jou weer uitdaag vandag, gaan lees veral Matteus 10 en spreek die Seën Wense wat die Here op jou hart gele het oor jou geliefdes en oor jouself uit.

Seën Wense vir 2 September 2009

In seën wense on September 2, 2009 at 15:00

Job 28 praat oor die mens se soeke na wysheid en die mens se neiging om homself af te sloof vir goedkoop plaasvervangers vir wysheid.

Daar is niks daarmee verkeerd om hard te wek nie. In teendeel, ons het reg aan die begin opdrag gekry om God se aarde te bewerk. Tog het God ons nooit ‘n mandaat gegee wat gesê het dat ons opdrag om die aarde te bewerk belangriker is as die Een wat oorspronklik die opdrag gegee het nie.

Die Here het my geseën met die geleentheid om weer ‘n eenvoudige kalm lewe te kan lei. Hiermee bedoel ek nie dat ek op die bank sit en vir die voëltjies staar nie, NEE ek is baie besig om my kinders te onderrig, maar die Here was genadig genoeg om daardie gejaagdheid uit ons lewens te verwyder, ons het tyd om ons dag saam met Hom te begin en te eindig. Genadiglik maak Hy dit ook vir my moontlik om ‘n goeie gedeelte van my middag op Sy skoot te spandeer.

Soms as ek met mensies buite ons gesin struktuur praat voel ek skuldig omdat dit so kalm hier by ons gaan en so dol by hulle. Almal is so opsoek na die regte lewens filosofie, die regte motivering, die regte balans. As ek weer Job 28 lees dan kom ek agter dat daar nie ‘n perfekte resep is nie, daar is nie ‘n formule wat ons kan volg nie, nee ons kan net ons rus en kalmte by ons Hemelse Vader gaan soek. Ons kan maar net ons besige dagboeke vir hom gee en vra dat Hy ons skedule vir ons moet begin organiseer.

Ek wil graag hierdie seen wens oor elkeen wat dit lees uitspreek, mag ons God genadig genoeg wees dat hierdie seen wens ‘n werklikheid in jou lewe sal wees:

“Mag ons God, wat alleen die pad na Wysheid ken, jou padkaart word. My Hy jou die woonplek van Wysheid wys en mag Hy vir jou insig gee.

Ons God het die krag van die wind bepaal en die waters uitgemeet, Hy het die reëls vir die reën gemaak en vir die weerlig die pad aangewys. Al hierdie natuurlike elemente hou soos klokslag al vir millennia by hulle skedule, mag jy ook daarom begin om Hom ten volle met jou skedule te vertrou.

Mag Hy vir jou genoeg tyd gee om Sy Woord te bestudeer, want Sy Woord is die lamp vir ons voete. Mag Hy vir jou genoeg tyd gee om in Sy arms te lê en in Sy oë te kyk terwyl jy Hom prys. Mag jy vandag tot stilstand kom en ophou om met so min tyd saam met jou God tevrede te wees.
Amen.”

Spesifieke Seën Wense – 2 September 2009

Vir Chantal: Die Here het jou gehoor, jy wat na Sy hulp smag. Hy is besig om na jou toe af te buig want Hy het jou hulpgeroep gehoor. Mag jy jou hand nou uitsteek, Hy wil jou uittrek uit die put van die dood. Mag jy jouself oopstel want Hy wil die slymerige modder van jou wit rokkie en jou mooi gesiggie af was, Hy wil jou weer op Sy rots laat staan. Mag jy begin sing met die nuwe lied wat Hy in jou mond gelê het, ‘n nuwe loflied vir Hom alleen. Mag dit met jou goed gaan omdat jy op Hom alleen vertrou.”

Vir my eie gesin:  “God het in ons lewens verskyn en mag ons vyande daarom uitmekaar spat, mag hulle op die vlug slaan, soos rook wegwaai. Mag God ons struikelblokke met Sy vuur smelt. Mag ons ewiglik in vrede voor die Here verskyn. Mag vrede in ons harte en geeste heers. Mag ons ewiglik so na aan Hom wandel, voor Hom buig, vrolik sy Lof besing.

Mag ons ‘n lied tot eer van ons God wat op die wolke ry sing, Hy is die Vader van die weeskinders, Hy vertroos die hart van weeskinders en hy het die eer van die weduwee herstel, Hy laat ons elke aan ons koppe neerlee in Sy woning. Mag Hy ons deur hierdie laaste stukkie woestyn lei!”

Seën Wense vir 1 September 2009

In seën wense on September 1, 2009 at 14:44

Op hierdie pragtige dag wat die begin van die lente vir ons aan kondig wil ek jou seën met die bevryding en redding van die Here!

Mag die Here by jou kom lê soos ‘n leeu, ‘n maanhaar, by sy prooi lê en grom. Mag niks jou verwyder van die beskerming van die Here nie.

Mag die Here soos ‘n beskermende voël rondom jou, wat snoesig in Sy nes lê, sweef. Die Here die Almagtige sal jou skuld wees. Mag Hy jou red en bevry.

Mag jy jou bekeer, sodat jy nie van Hom verwyder sal word nie. Mag jy jou afgode laat staan sodat die Here jou rots kan wees, sodat jy by Hom kan gaan skuil.

Mag die vuur van jou lewens altaar hoog brand ter ere van ons God en Vader.
Amen!
(Psalm 31)

Vir soveel van ons is lente ook simbolies van ‘ nuwe begin, daar waar die winter dood gesaai het, is daar weer tekens van lewe, en daarom wil ek ook graag hierdie lied wat Piet Smit sing graag vandag as my gebed met julle deel:

Self Ondersoek (Piet Smit)
Hemel Vader kyk na my, kyk ek sit hier by U voete! Ek wil so graag vannaand net alleen by U wees. Elke keer as ek stil word en op kyk in U oë, sien ek myself in die spieël van U Gees.

Vader vul my met U krag en U genade, want Heer ek sien ‘n dof, verwronge beeld. Help my om my lewe en myself so oop te breek dat ek tot diep binne in myself kan kyk. Help my in genade weer skoon en heel te word. Here help my asseblief om meer soos Jesus te lyk.

Hemel Vader kyk na my, kyk ek kniel hier by U voete! Ek wil my hele lewe en myself voor U kom lê. Elke keer as ek stil word en op kyk in U oë, dan wonder ek, is ek regtig soos U my wil hê.

Vader vul my met U krag en U genade, want Heer ek sien ‘n dof, verwronge beeld. Help my in my soeke om die ware ek te ken, gee dat ek myself deur U oë sal kan sien. Help my in genade om weer nederig te word. Here help my asseblief om U weer opreg te dien. Dat die hele wêreld U beeld in my sal sien.

Spesifieke Seën Wense – 1 September 2009

Oom Basie en Tannie Lina: Die seën van die Here word reeds deur die groei van julle besigheid geïllustreer. Elke nuwe kliënt word persoonlik deur die Here gestuur, elke sent is ‘n genade gawe uit Sy hand. Die sprinkane wat julle beloftes wil kom op eet het ook hulle te voorskyn begin maak en daarom voel ek dat die Gees my lei om hierdie seën wens hier onder oor julle uit te spreek.

Mamma en Pappa: Die uitkoms vir julle pyn en leiding is naby. Die Here het nie van julle vergeet nie. Ek weet die pad stamp en stoot, maar ek weet ook dat die Here julle dra. Hierdie seën wens is ook vir julle.

“Mag die vuur van God die stoppels in julle pad verteer, mag al die struikelblokke wat in julle pad kom staan het, soos hooi in flame opgaan. Mag die wat in julle pad wil staan, wortel en tak uit geroei word. Mag daar niemand in die pad van die openbaringe wat die Almagtige oor julle lewens gespreek het, kom staan nie. Amen.” (Jesaja 5:24)

Vir my eie gesin: Ons staan weer voor die Jordaan Rivier, ons nuutste deurbraak, ons volgende beloofde land lê net hier voor ons. Die deurbraak waarvoor ons so hard bid is op die horison, en daarom wil ek ook hierdie seën wens oor ons as gesin uitspreek:

“Mag die vuur van God die stoppels in ons pad verteer, mag al die struikelblokke wat in ons pad kom staan het, soos hooi in flame opgaan. Mag die wat in ons pad wil staan, wortel en tak uit geroei word. Mag daar niemand in die pad van die openbaringe wat die Almagtige oor ons lewens gespreek het, kom staan nie. (Jesaja 5:24)

Mag die vrede waarmee die Here ons geseën het blywend wees. Mag daar ‘n kalmte in ons siele wees, mag ons rustig wees al voel dit of ons boodjie partykeer biedjie water skep. Amen.”

Seën Wense vir 31 Augustus 2009

In seën wense on Augustus 30, 2009 at 21:58

God beveel ons, of jy sit en of jy staan, waar jy ook al gaan, vra dat die Here jou seën!

Geliefdes Mag die Here jou so bo al jou beperkinge uitlig vandag, more en vir altyd:

“Mag die Here jou hulpgeroep hoor, Mag God ag slaan op ou gebed.
Mag Hy jou uit die vreemde gaan haal, Mag Hy jou wanhoop omkeer,
Mag Hy jou rots, jou veiligheid wees, Mag Hy vir jou ‘n toevlug wees, ‘n sterk vesting,
Mag jy by Hom ‘n blywende tuiste vind,
Mag jy onder sy vleuels skuil,
Mag God jou geloftes hoor.
Mag Hy jou wense, wat jy wat Sy naam vereer, vervul.
Mag jy lank lewe,
Mag jy saam met Hom regeer.
Mag jy vandag en altyd Sy lof besing!”
(Psalm 61)

Seen Wense vir my ouers – 31 Augustus 2009

Here my God wat my altyd help, Here, Ek roep to U elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U, laat hierdie gebed, hierdie seën wens nie tevergeefs wees nie!

Mag die swaarkry nie vir my ouers te veel word nie; Mag hulle die juk van bekommernis nie meer hoef te dra nie. Moet nie U hand terug trek nie, Mag U hulle uit die duisternis lig. Mag hulle, hulle vrede en raad en vreugde by U vind, mag U hulle van hulle ellende verlos. Mag hulle weer getuig van U troue liefde.
(Psalm 88)

Seën Wense vir Keenan – 31 Augustus 2009

Keenan, mag jy jou rus by God vind. Mag jy weet dat jou redding van Hom kom; Mag jy gees bely dat net Hy jou rots en jou redding en jou vesting is.

Die wêreld is vol keuses en versoekings; Mag jy is God vas en stewig staan. Vind jou rus by God en nie by mense. Mag God jou krag wees; Mag jy jou hart altyd voor Hom uitstort; Mag God alleen jou toevlug wees.

Onthou my kind mense is verganklik. Moet nie op geweld vertrou nie; Vergeet van jou eie vermoëns. As jou rykdom toeneem, mag dit nie jou hart aanraak nie. Mag jy nie jou vertroue op geld en besittings plaas nie.

Mag jou liggaam hart en gees rein bly. Mag jy jou vrede vandag en vir altyd by die Here alleen wees.
(Psalm 62)

Seën Wense vir Connel – 31 Augustus 2009

Connel, my seun… jou taak is groot, jou grondgebied is wyd, mag die Here jou nederig hou.
Mag jy reg teen oor mense in nood geskiet; Mag jy reg teenoor die weeskind geskied; Mag jy regverdige uitspraak vir die hulpelose en behoeftige bewerkstellig; Mag jy mense in nood en armes bevry, Mag jy hulle uit die mag van die Goddelose reg.

Die wêreld weet en verstaan min van God, hulle is vas gevang in mensgemaakte, godsdienstige konstrukte. Die mens word verblind deur hierdie konstrukte, hulle ploeter in die duisternis rond.
Mag jy die fondamente van hierdie konstrukte skud; Mag jy uitspraak lewer teen maghebbers; Mag jy getuig dat al die nasies aan God behoort!
(Psalm 82)

Seen Wense vir Miachlan – 31 Augustus 2009

My geliefde Miachlan Izàn Welsh… nog voor jou geboorte roep ons God jou al. Jou hartjie nog half gevorm, jou gees reeds voor die begin van tyd geroep deur ons God. Mag jy die fondament vir Sion kom lê, Mag jy guns geniet en die Here se liefde ervaar.

Jou naam beteken Water van Genesing, Genade gawe van God. Daar word groot dinge oor jou gesê, Mag daar ook by jou naam geskryf staan, geliefde van God, kind van Sion.
(Psalm 87)

Seën Wense vir Ross – 31 Augustus 2009

 

Geliefde van my hart, My Adam vir my gekies voor die bestaan van tyd.

Mag die Here jou gebed verhoor; Mag Hy na jou luister; Mag Hy jou red van armoede en hulpeloosheid; Mag Hy jou genadig wees; Mag Hy jou bly maak want jy hunker na Hom.
Mag God jou gebed verhoor, mag jy in Sy waarheid en Sy genade wandel; Mag Hy jou van liggaamlike gevaar bewaar, mag God die paaie waarop jy reis beveilig. Mag God jou reis en jou hande werke seën.

Mag jy lankmoedig wees, vol liefde en altyd getrou aan God. Mag jy ‘n voorbeeld van Sy seën, Sy genade en Sy goedheid wees. Mag die Here jou uitkoms en jou vertroueling wees.
(Psalm 86)

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 2 386 other followers

%d bloggers like this: